Skitterspel

Die oudste kind van die Hollywood-veteraan Denzel Washington (63) en sy aktrise-vrou, Pauletta (67), het aanvanklik naam gemaak as die NFL-voetbalster Ricky Jerret in die komediereeks Ballers. 

Nou het die 34-jarige akteur mense weer aan die praat oor sy spel in Spike Lee se biografiese komediedramafliek BlacKkKlansman, wat onlangs hier begin het.

Adam Driver (links) en John ­David Washington as die speurders Flip Zimmermann en Ron Stallworth in BlacKkKlansman.

John David speel Ron Stallworth, die eerste swart speurder van die Colorado Springs-polisie­kantoor, wat in die 1970’s die Ku Klux Klan geïnfiltreer het met die hulp van sy kollega Flip Zimmerman (Adam Driver).

Resensente is so gaande daaroor dat dit 95% op die webtuiste Rotten Tomatoes behaal het.

Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy wortels

John David, die oudste van Denzel se vier kinders, het sy lewe lank die kollig vermy, juis om nie in sy Oscar-bekroonde pa se skadu te leef nie.

Hy het op nege sy debuut gemaak in nog ’n Spike Lee-fliek, Malcolm X (1992), waarin sy pa die titelrol vertolk het. Hy moes net een sin uiter: “Ek is Malcolm X.” 

In 2010 was hy saam met sy pa medevervaar­diger van die postapokaliptiese rillerfliek The Book of Eli.

Sy ontvlugting: voetbal

Hoewel die toneel-gogga hom al op vyf gebyt het, wou hy eerder ’n eie loopbaan as voetbalspeler uitkerf. “In my grootwordjare het ek gesien mense behandel my anders wanneer hulle weet wie my pa is,” vertel hy.

“Soms sou ek die 100 m hardloop en die ­hoofopskrif sou wees: ‘Denzel se seun hardloop 100 m.’ ” Hy wou Hollywood om dié rede vermy.

Hy het hom op skool en universiteit op voetbal toegespits, maar sy voetbaldroom is op 28 weens ’n besering kortgeknip. Drie weke later het die Ballers-oudisie oor sy pad gekom. 

Nadat Sheila Jaffe ’n jaar lank 1 000 akteurs vir die rol van die hardekwas Ricky Jerret getoets het, het sy onthou Denzel het ’n seun wat voetbal speel.

Ná 10 oudisies het John David die rol los­geslaan in Ballers, waarvan die eerste drie seisoene tans op Showmax is. Die vierde seisoen is Dinsdae 21:30 op 1Magic (DStv-kanaal 103).

Sy jongste rol

John David het aan die Robert Redford-fliek The Old Man & the Gun gewerk toe Spike Lee hom die rol in BlacKkKlansman ­aanbied – sonder ’n oudisie.

Die fliek is op die Cannes-rolprentfees staande toegejuig en het die Grand Prix-prys gewen. 

Ma se kind

John David laat nie toe dat joernaliste sy ma op die agtergrond skuif nie. Toe ’n joernalis in ’n onlangse onderhoud op die Amerikaanse kletsprogram Today na hom verwys as “die seun van Denzel Washington”, het John ­David gou laat hoor: “. . . en Pauletta Washington.

John met sy familie.

My ma het meer as hy verdien voor hulle getrou het. Sy’t op Broadway gewerk en het op hul eerste af­spraak die rekening en taxirit betaal. Sy’s ’n klassiekopgeleide pianis en was by Juilliard. 

“Sy’s ’n wonderlike kuns­tenaar uit eie reg en ek het baie by haar geleer. My pa het my geleer hoe om te jag; my ma het my geleer hoe om lief te hê.”

John David saam met Dwayne “The Rock “ Johnson in Ballers.

Pretfeite

  • Hy het flou geword toe hy homself die eerste keer op TV sien. “Ek was kort­asem. Ek kon dit nie hanteer nie.”
  • Sy voornaam is John David. Hy hou nie daarvan as mense hom net John noem nie.
  • Hy sou graag wou hê Jim Carrey moet hom speel in ’n fliek oor sy lewe. 
  • Hy’s tydens sy dae as voetbalspeler gedurig op die veld gespot omdat sy pa Denzel is, sê hy.
  • Hy lê oudisies af nes ander. “En ek word afge­keur soos almal, so ek voel wonderlik,” sê hy. 
BRONNE: VULTURE.COM, MENSJOURNAL.COM, CHICAGO.SUNTIMES.COM, LADBIBLE.COM, POPSUGAR.COM, THE HOLLYWOOD REPORTER, ESSENCE.COM, IMDB.COM. FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, HBO, FOCUS FEATURES, JUST JARED