Waaroor gaan dit?

Die Ballers-ster John David Washington is in dié drama te sien as Malcolm Elliott, ’n regisseur, wat ná die première van sy eerste fliek huis toe gaan om sy groot aand saam met sy meisie, Marie (Zendaya), verder te vier. Maar sy is glad nie gelukkig oor hoe die aand verloop nie.

Die paartjie bevind hulle in die grootste rusie van hul verhouding.

Marie is ongelukkig omdat sy voel hy het haar lewe as inspirasie gebruik vir sy fliek – ’n drama oor ’n vrou wat ’n dwelmstryd voer. In sy toespraak by die première het hy haar boonop nie eens bedank nie, en dit laat haar rooi sien.

Hoewel die fliek baie rustig en met groot opgewondenheid ná Malcolm se groot aand begin, raak dinge gou intens en dwing dit die kyker om kant te kies.

Zendaya en John David Washington speel ’n paartjie in die dramafliek Malcolm & Marie. Foto: Netflix
Zendaya en John David Washington speel ’n paartjie in die dramafliek Malcolm & Marie. Foto: Netflix

Malcolm en Marie krap ou wonde oop en gebruik dit soos ’n wapen teen mekaar. Die kyker leer ken ook die karakters terwyl hulle mekaar deur die loop van die fliek pak. Albei se lewensverhale – hoewel baie anders – is ewe roerend.

Is dit die kyk werd?

Die twee in tonele uit dié intense fliek. Hul kara
Die twee in tonele uit dié intense fliek. Hul karakters pak mekaar behoorlik wat sorg vir kragtige toneelspel. Foto: Netflix

Dié komplekse liefdesverhaal speel af teen ’n dramatiese swart-en-wit agtergrond, en die karakters se spel is kragtig maar briljant.

As jy ’n groot aanhanger is van dramas wat inspanning van sy kyker verg, sal jy dié een geniet.

Malcolm & Marie het kwaai kritiek ontlok vanweë die groot ouderdomsverskil tussen die twee akteurs – die 24-jarige Zendaya is 12 jaar jonger as John (36), seun van Denzel Washington.

Die twee in tonele uit dié intense fliek. Hul kara
Die twee in tonele uit dié intense fliek. Hul karakters pak mekaar behoorlik wat sorg vir kragtige toneelspel. Foto: Netflix

Al is sy jonger, stel Zendaya, wat al gesout is in die vermaakbedryf, nie teleur wat afgeronde en volwasse spel betref nie.

En hoe anders. Sy’t immers verlede jaar die jongste Hollywoodster geword wat met ’n Emmy vir beste aktrise in ’n dramareeks bekroon is vir haar boeiende spel as ’n jong dwelmverslaafde in Euphoria.

In Malcolm & Marie is haar en John se karakters geloofwaardig en die sweempies humor tussen al die drama gee ’n mens kans om asem te haal voor hulle mekaar weer pak.

Die paartjie se rusie bestaan uit verskeie lae dringende kwessies wat paartjies voel nooit uitgestryk raak met ’n normale gesprek nie.

Die twee in tonele uit dié intense fliek. Hul karakters pak mekaar behoorlik wat sorg vir kragtige toneelspel. Foto: Netflix
Dit leer ’n mens dat iets wat uit liefde gesê word, soms kan seermaak; en iets wat in woede uitbars, kan soms genees.

Dis ook verfrissend om twee van Hollywood se groot opkomende sterre te sien lewe blaas in so ’n gewaagde en kunstige fliek.

2021. 106 MIN. 16 BESKIKBAAR OP NETFLIX

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe