Sacha Baron Cohen. Foto: Gallo Images/Getty Images
Sacha Baron Cohen. Foto: Gallo Images/Getty Images

Vir ander is hy kras, wreed en konfronterend en net pleinweg belaglik. En dis geen geheim in watter kamp Rudy Giuliani, voormalige burgemeester van New York is nie.

Rudy (76), persoonlike prokureur vir die Amerikaanse president Donald Trump, het om al die verkeerde redes die nuus gehaal nadat hy geflous is in die jongste fliek deur die Britse akteur, skrywer en komediant Sacha Baron Cohen.

Met die fliek keer Sacha terug as Borat Sagdiyev, die verspotte verslaggewer van Kazakstan wat Amerika toe gaan en geskeer met alles, van die kos tot die mense en die politici.

In die nuwe fliek, Borat Subsequent Moviefilm, is hy vergesel deur sy tienerdogter, Tutar. Sy doel: Om die Trump-bewind se guns vir sy land te wen deur sy kind as geskenk aan die visepresident Mike Pence aan te bied.

Rudy is egter ook in Borat se visier – en in die dae voor die fliek uitgereik is op Amazon Prime, het beeldmateriaal aanlyn opgeduik wat die voormalige burgemeester woedend gelaat het.

Tutar (vertolk deur die 24-jarige Bulgaarse aktrise Maria Bakalova) poseer as ’n televisieverslaggewer wat ’n onderhoud met Rudy voer. Sy stel voor hulle sit hul gesprek voort in ’n hotelkamer oor ’n drankie en Rudy het nie veel oorreding nodig nie.

Die 24-jarige Bulgaarse aktrise Maria Bakalova. Sk
Die 24-jarige Bulgaarse aktrise Maria Bakalova. Skermgreep

Die verslaggewer verwyder dan Rudy se mikrofoon en hy gaan lê op die bed. “Jy kan vir my jou telefoonnommer en adres gee,” sê hy vir haar terwyl hy met sy hemp vroetel voor sy hand in sy broek verdwyn.

Op daardie oomblik bars daar ’n groot, harige man in pienk kantonderklere by die vertrek is. “Sy’s 15!” skree hy. “Sy’s te oud vir jou. Sy is my dogter, vat asseblief eerder vir my.”

Snaaks? Dalk vir sommige – maar beslis nie vir Rudy Giuliani nie.

“Die Borat-video is ’n totale versinsel,” het hy vuur gespoeg terwyl die storie reg oor die wêreld soos ’n veldbrand versprei het. “Ek het my hemp ingesteek nadat ek die opneemtoerusting afgehaal het. Ek was in geen stadium voor, tydens of ná die onderhoud onvanpas nie. As Sacha Baron Cohen iets anders impliseer, is hy ’n volslae leuenaar.”

Toe die voorval in Julie plaasvind, het Rudy die polisie gebel om ’n “man wat ’n vreemde pienk transgender-uitrusting dra” aan te meld.

“Dit het absurd gelyk,” het hy toe aan die New York Post gesê. “Hierdie persoon kom gillend en skreeuend in en ek het gedink dit moet ’n verneukspul of afpersing wees, en daarom het ek dit by die polisie aangemeld. Hy het toe weggehardloop.”

Rudy Giuliani se reaksie op Twitter na aanleiding
Rudy Giuliani se reaksie op Twitter na aanleiding van die veelbesproke videogreep in Borat se fliek. Foto: Twitter/@RudyGiuliani

Hy het eers later besef “dit moes Sacha Baron Cohen gewees het. Ek het gedink aan al die mense wat hy voorheen ’n rat voor die oë gedraai het en het goed oor myself gevoel, want hy het dit nie met my reggekry nie.”

Nie so haastig nie, Rudy . . .

Mense wat die fliek gesien het, sê Trump se regsman kan sy politieke loopbaan vaarwel toeroep.

“Ek kan met sekerheid sê dis neusie verby vir Rudy Giuliani,” sê die akteur Josh Gad.

“Dis erger as wat jy dink en ongemakliker as enigiets wat ek in onlangse flieks, dokumentêre programme of andersins gesien het.”

Selfs voor hy in sy broek vroetel, flankeer Rudy, wat onlangs geskei is, met Tutar, drink whiskey, hoes, handhaaf geen sosiale afstand nie en stem selfs in om ’n vlermuis saam met die onderhoudvoerder te eet.

Sacha sê Borat is terug om nie net vir Rudy te red van enigiets potensieel onvanpas nie, maar ook om te keer dat Trump die Amerikaanse presidentsverkiesing wen.

Rudy Giuliani. Foto: Daniel Acker/Bloomberg via Ge
Rudy Giuliani. Foto: Daniel Acker/Bloomberg via Getty Images

Die uitreiking van die fliek twee weke voor die verkiesing op 5 November was opsetlik, sê hy.

“Ons wou hê dit moes ’n herinnering wees aan vroue van vir wie hulle stem – of vir wie hulle nie stem nie. As jy ’n vrou is en nie teen hierdie ou stem nie, weet jy nie wat jy aan jou geslag doen nie.”

Die nuwe fliek is ietwat van ’n verrassing. Sacha het in 2007 aangekondig sy Borat-karakter is afgetree, tesame met sy alter ego uit die begindae van sy loopbaan, Ali G, omdat hulle te herkenbaar geword het.

Sy onlangse flieks, die dramas Spy en The Trial of the Chicago 7, was ligjare verwyderd van die uitspattige satiriese komedie wat hom ’n ster gemaak het.

Maar die man wat die mankini bekend gemaak het, erken hy is gemakliker in die openbaar wanneer hy in karakter is.

“Ek was vir die grootste deel van my loopbaan huiwerig om ’n openbare standpunt in te neem oor die sake van die dag,” het hy vroeër vanjaar in Time geskryf.

“Tog is baie van my komedie ongemaklik in die kol. Maar wanneer dit werk, kan satire die magtiges nederig maak en die euwels van die samelewing blootlê.”

Sacha se suksesse – en floppe
Ali G oftewel Sacha Baron Cohen.
Ali G oftewel Sacha Baron Cohen.

Sacha Baron Cohen het ’n loopbaan gemaak uit die absurde, eers as die Britse rapper en onderhoudvoerder Ali G, toe as die Oostenrykse modejoernalis Brüno, en toe as Borat, die vreemde Kazakstanse verslaggewer.

Ali G ontmoet vir Donald T

Destyds in 2003, toe die presidentskap nie op enigiemand se radar was nie en Donald Trump meer in The Apprentice belanggestel het, het Ali vir hom ’n idee voorgelê vir handskoene om te verhoed dat druppende roomys mense se hande taai maak.

Trump, wat aanvaar het die idee was inderwaarheid “drupbestande roomys” het hom gou vererg en die onderhoud kortgeknip.

“Ek wens hy was soveel keer in die gesig geslaan dat hy nou in die hospitaal was,” het Trump later gesê.

“Dit was skandelik.”

Wapens van spek-vernietiging

Die voormalige Amerikaanse presidensiële raadgewer Pat Buchanan het op ’n episode van Da Ali G Show in 2004 verskyn en saamgestem met die rapper se verwarrende beskrywing vir wapens van massavernietiging – het hy daarna verwys as BLT’s (spek-toebroodjies).

“Dit het alles logies geklink,” het Pat agterna gesê.

Van absurd en verder

Die legendariese ruimtevaarder Buzz Aldrin, wat op die maan geloop het in 1969, is in 2003 deur Ali G onderwerp aan ’n reeks vrae wat ál belagliker geraak het .

“Dink jy die mens sal ooit op die son loop?” het hy gevra. Hy het die ruimtevaarder ook as “Buzz Lightyear” – die Toy Story-karakter – aangespreek.

Kern-drama

Ali G het die wetenskaplike prof. Heinz Wolff dronkgeslaan toe hy die grootte van elementêre deeltjies waaruit ’n atoom bestaan, probeer begryp het. “Hoe klein is een?” het hy gevra. “Is dit kleiner as ’n sandkorrel? Is dit kleiner as ’n soutkorrel?”

Ja, het die geduldige professor geantwoord, “baie, baie kleiner”.

Die stoel-mense

Foto: YouTube-skermgreep/Movieclips
Foto: YouTube-skermgreep/Movieclips

In 2009 Sacha het, vermom as sy alter ego Brüno, ’n onderhoud gevoer met Paula Abdul in wat loshande een van sy mees verspotte oomblikke is wat jou laat ineenkrimp. Daar was geen meubels vir hulle om die onderhoud te voer nie, en hy nooi dan die sangeres om te sit op “Mexikaanse stoel-mense”.

Paula speel saam, maar vat dadelik die pad toe ’n bord soesji in die vertrek gestoot word – voorgesit op ’n kaal man.

Die kaal geveg

Sacha sal altyd onthou word vir die belaglike kaal geveg in die eerste Borat-fliek. ’n Kaal Borat en sy ewe kaal bestuurder Azamat (Ken Davitian), baklei en jaag mekaar in ’n hotel rond. Ontstellende kykstof om die minste te sê.

BRONNE: NYTIMES.COM, WASHINGTONPOST.COM, VANITYFAIR.COM, THEGUARDIAN.COM, CNN.COM, INDEPENDENT.CO.UKW