Lily James. Foto: Gallo Images/Getty Images
Lily James. Foto: Gallo Images/Getty Images

DUISTER SAKE

Die Brit kry nou ’n kans om ’n karakter uit een van haar gunstelingboeke te speel in Rebecca, ’n nuwe fliekweergawe van Daphne du Maurier se gotiese rillerboek van 1938. Lily speel ’n naïewe jong vrou wat ná ’n warrelwind-romanse in Monte Carlo met die skatryk en geheimsinnige Maxim de Winter (Armie Hammer) afhaak.

Sy trek dan na sy familielandgoed op die Engelse platteland, maar moet daar in die skadu van sy vorige vrou, Rebecca, leef, wat onder geheimsinnige omstandighede dood is.

Rebecca is een van my gunstelingboeke. Toe die geleentheid oor my pad kom om die tweede mev. De Winter te speel, kon ek dit nie weerstaan nie,” sê Lily (31). Dit was vir haar moeilik om van die karakter afstand te doen.

“Ek het regte paniekaanvalle begin kry. Ek is ’n onseker mens, en dié karakter is so diep onseker dat sy my eie onsekerhede begin uitbuit het,” vertel die aktrise.

Armie Hammer en Lily James speel ’n paartjie in di
Armie Hammer en Lily James speel ’n paartjie in die fliek Rebecca. Foto: Netflix

ENGELSE ROOS

Lily het as die middelkind van drie kinders op die dorpie Esher in Surrey grootgeword. Haar ma, Ninette Thomson, en ouma Helen Horton was albei aktrises, so ook haar pa, James Thomson, tot ’n motorongeluk in die 1970’s hom met letsels gelaat het. Hy het toe ’n musikant geword.

James is in 2008 aan kanker oorlede. Lily was toe net 18 en in haar eerste jaar by die gesogte Londense dramaskool Guildhall School of Music & Drama. Sy het hierna haar van na James verander ter nagedagtenis aan haar pa. Haar loopbaan het ná dramaskool geskitter.

“Ek het dadelik begin werk en het nog nie regtig gestop nie,” sê sy. Lily het in 2012 haar TV-deurbraak gemaak as die rebelse Lady Rose MacClare in die trefferreeks Downton Abbey.

Sy het Hollywood drie jaar later laat regop sit met haar eerste groot fliekrol, in die Disney-fliek Cinderella. Sedertdien was sy al onder andere te sien as die jonger weergawe van Meryl Streep se karakter, Donna Sheridan, in Mamma Mia! Here We Go Again.

LIEFDESLEWE

Lily was voorheen romanties verbind aan die Britse akteur Matt Smith (38), wat prins Philip in The Crown speel. Sy het onlangs die hoofopskrifte gehaal nadat sy in Rome afgeneem is waar sy die getroude akteur en pa van vyf Dominic West (51) soen.

Hulle skiet saam aan die minireeks The Pursuit of Love.

Lily praat egter nooit oor haar liefdeslewe nie.

“As jy nooit iets sê nie, is daar nie klankgrepe wat by jou spook wanneer jy in ’n boks Kleenex huil nadat als skeefgeloop het nie.

5 DINGE WAT JY OOR LILY MOET WEET

1 Haar geboortenaam is Lily Chloe Ninette Thomson.

2 Sy doen sjamaanse genesingsessies. “Ek doen dit oor Zoom, met musiek en tromme en ’n geneser wat my deur hierdie verskillende kamers in my brein lei waar ek al hierdie boodskappe het,” sê sy.

3 Sy kan goed sing. Sy word as ’n mezzosopraan geklassifiseer.

4 Sy wil graag ’n musikant speel. “Janis Joplin – ek sal mal wees daaroor.”

5 Die enigste keer toe sy ’n vloermoer op ’n fliekstel gegooi het, was toe hulle oortyd geskiet het terwyl sy planne gehad het om ’n Spice Girls-konsert te sien. “Ek was woedend,” sê sy. “Ek is mal oor Emma Bunton. Sy het my agter die verhoog ontmoet. Dit was een van die wonderlikste dae van my lewe.” 

Lily saam met Emma Bunton van die Spice Girls. Fot
Lily saam met Emma Bunton van die Spice Girls. Foto: Instagram (@lilyjamesofficial)
  • Rebecca is nou op Netflix beskikbaar.

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, THE GUARDIAN.COM, ANOTHERMAG.COM, HARPERSBAZAAR.COM, NET-A-PORTER.COM

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe