Fantastic Beasts: The Crimes of Grindelwald

Fantasieavontuur.
Met Eddie Redmayne, Johnny Depp en Jude Law.
Regisseur: David Yates.
Begin op 16 November.
13GRG.

Waaroor gaan dit?

In Fantastic Beasts and Where to Find Them, die eerste fliek in dié rolprentreeks, het die Magical Congress of the United States of America die Britse towenaar en magiese diere­kenner Newt Scamander (Redmayne) se hulp ingespan om die bose towenaar Gellert Grindelwald (Depp) te stuit.

Newt Scamander (Eddie Redmayne) se hulp word ingespan om die bose towenaar Gellert Grindelwald (Johnny Depp) te stuit.

In die jongste aflewering in dié uit­loperfliekreeks van die Harry Potter-­sage ontsnap Grindelwald. Wat sy volgelinge nie weet nie, is hy het eintlik ’n verskuilde agenda: Hy wil oor dié regeer wat nie spesiale magte het nie.

Die Hogwarts-­hoof, Albus Dumbledore (Law), roep dan die hulp van sy oudleerder Newt in om hom in sy spore te stuit.

Die booswig

Sommige aanhangers was nie beïndruk toe die Pirates of the Caribbean-ster Johnny Depp (55) die rol van die bose Grindelwald kry nie. Dit was in 2016 ná sy omstrede egskeiding van sy tweede vrou, die aktrise Amber Heard (32), wat beweer hy het haar mishandel.

Volgens die vervaardiger David Heyman (57) is Johnny Depp briljant in sy rol as die bose Grindelwald..

Tog is hy nie vervang nie. Volgens die vervaardiger David Heyman (57) is Depp briljant in sy rol. Grindelwald is ’n “vreesaanjaende booswig”, sê hy.

“Hy is verleidelik. Mense volg hom omdat hy so oortuigend is. Hy is charismaties,” sê Heyman.

“Hy sien net een uitweg. En dit is om towenaars die oorhand te gee.”

Die vroue in Newt se lewe

Newt en die heks Tina Goldstein (Katherine Waterston).

Spanning heers tussen Newt en die heks Tina Goldstein (Katherine Waterston, 38). Dit help ook nie hy het ’n nuwe vroulike assitent,  Bunty (Victoria Yeates, 35), nie.

“Ek dink dis sy onkunde. En tweedens dink ek dis sy passie,” sê Red­mayne (36) oor hoekom vroue tot sy karakter aangetrokke is.

“As iemand passievol is oor iets, is dit altyd ’n aantreklike eien­skap. Ek dink ook hy het ’n groot hart. Hy het baie empatie.”

Die nuwe (h)eks

Die komplekse heks word deur Zoë Kravitz (regs op die foto) vertolk.

Die komplekse heks Leta Lestrange, Newt se eksmeisie, maak haar debuut in dié fliek. Die rol word deur die Big Little Lies-ster Zoë Kravitz (29) vertolk.

“Zoë bring kleur en nuanse aan die rol, wat ek dink dit nog meer ophef,” sê Heyman.

“Sy is ’n wonderlike karakter wat nes baie van Jo (J.K. Rowling) se karakters nog probeer uitpluis wie sy is.”

Springmieliefeit: David Yates het in die regisseurstoel van vier Harry Potter-­flieks en albei Fantastic Beasts-­rolprente gesit.

Leta is verloof aan Newt se broer, Theseus, wat deur die Brit Callum Turner (28) gespeel word. Redmayne dink Turner is uitgeknip vir die rol. Hy en sy vrou, Hannah, het hom in die TV-reeks War & Peace gesien.

“Hy het op die skerm verskyn en ek en Hannah het gesê dis soos om ’n langer, donkerker weergawe van myself te sien wat boonop beter lyk,” sê hy.

Dumbledore is vuurwarm

Dit gons omtrent oor Jude Law (45) as die sexy, jong weergawe van die geliefde Harry Potter-karakter Albus Dumbledore.

“Ons sien Dumbledore as ’n jong man en hy’s nogal rebels,” sê David Yates (55), wat die regie behartig het. Tog het die geliefde karakter ’n donker kant.

Pretfeit: Dumbledore is Rowling se guns­telingkarakter in die boekreeks.

“Hy is ver van volmaak. Hy is ’n inspirerende leermeester en al die leerders is dol oor hom.

Maar Dumbledore is ’n wonderlike manipuleerder en hy het die ongelooflike vermoë om mense in situasies te kry waarin hulle dalk nie wil wees nie. Law bring ’n wonderlike varsheid, sensualiteit, wysheid en charisma na die rol.”

Dit gons omtrent oor Jude Law (45, regs op foto) as die sexy, jong weergawe van die geliefde Harry Potter-karakter Albus Dumbledore.

Hoewel dit nooit openlik in die Harry Potter-boeke uitgebeeld word nie, het die Harry Potter-­skrywer, J.K. Rowling, in 2007 onthul Dumbledore is gay.

In die fliek is dit “duidelik” dat Dumbledore gay is, sê Yates.

“ ’n Paar tonele wat ons geskiet het, is sensuele oomblikke tussen hom en die jong Grindelwald.”

Liefdesverhaal

Die rolprent bevat geen liefdestonele nie, maar volgens die regisseur is dit ’n meer sen­suele fliek wat emosionele ?temas aanraak, wat die ander fliek in dié reeks en die Harry Potter-fliekreeks nie gedoen het nie.

“Ons het nie regtig sensualiteit of seksualiteit in enige van die Potter-­flieks of selfs die eerste Fantastic Beasts-fliek aangeroer nie,” sê Yates.

“Ons het volwassenes gehad, maar op die ou end is die volwassenes eerder soos groot kinders in ’n volwasse wêreld.” Fantastic Beasts: The Crimes ?of Grindelwald is ietwat van ’n liefdesverhaal.

“Dit het ’n mate van sensualiteit tussen die karakters, wat eintlik lieflik is. Dit voel of alles grootword en meer gesofistikeerd raak.”

WAT WYS NOG?

PEPPERMINT

Aksie.
Met Jennifer Garner, John Gallagher jr. en John Ortiz.
Regisseur: Pierre Morel.
16DTG.

Waaroor gaan dit?

Riley North (Garner) is ’n toegewyde ma wie se lewe op sy kop gekeer word toe haar dogter, Carly (Cailey Fleming), en man, Chris (Jeff Hephner), afgemaai word nadat Chris dit oorweeg het om geld van ’n magtige Mexikaanse dwelmbaas te steel.

Riley beland in die kruisvuur, maar oorleef. Op die vyf­de herdenking van haar gesin se dood sweer sy wraak en voer haar weldeurdagte plan uit om die baasbreine agter die sluipmoord te laat boet.

Ook met Jeff Harlan as die korrupte regter Stevens.

Is dit goed?

Dit is een van daardie flieks waar jy nie jou oë wil knip nie, want jy’s bang jy loop iets mis. Peppermint het ’n duidelike storielyn en draai nie doekies om nie: Dit wys hoe Garner gatskop.

Die meeste van Garner se rolle was dié van die goedhartige ma of aksieheldin. Maar in dié fliek beweeg sy oortuigend van middelklastuiste­skepper tot taai sluipmoorde­nares. Jy kan nie help om haar aan te moedig nie, selfs al pleeg sy moord.

Sommige kykers kan dalk hierdeur gekwel wees, asook deur die stereotiepe uitbeelding van mense van Suid-Amerika, maar as jy ’n aksiebelaaide pretrit soek met ’n bekwame heldin wat jy kan toejuig, is dié fliek so reg in jou kraal.

– KIM ABRAHAMS