Volgende maand se Oscar-aand beloof om vol verrassings te wees.

Vir die eerste keer in amper drie dekades sal meer as een gasheer aan die stuur van Hollywood se grootste aand wees.

Volgens bronne sal vervaardigers ’n paar groot sterre kies om verskeie segmente bekend te stel pleks van ’n enkele gasheer wat die groot aand met ’n monoloog afskop.

Die Amerikaanse Rolprentakademie, die groep wat vir die Oscars verantwoordelik is, spook glo om topname te gebruik vir die uitsending wat oor ses weke regstreeks van die Dolby-teater in Hollywood uitgesaai word.

Die komediant en akteur Kevin Hart is in Desember as aanbieder aangewys, maar het enkele ure later onttrek nadat homofobiese uitlatings wat hy in die verlede gemaak het weer op Twitter kop uitgesteek het.

“Nee, ek bied nie vanjaar die Oscars aan nie. Dis nie nou deel van God se plan nie,” het Kevin (39) in ’n onlangse onderhoud gesê, en bygevoeg dit beteken nie hy laat vaar die idee om dit dalk in die toekoms te doen nie.

Maar die Oscars ken van omstredenheid. Van kaalnaelers tot die vreemde uitspraak van name . . .

Oscars-blapse 

2017

oscars
Jordan Horowitz, produksieleier van La La Land, kondig aan dat Moonlight die eintlike wenner is. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 2017 het die aanbieders Faye Dunaway en Warren Beatty die prys vir beste rolprent oorhandig. Hulle het La La Land as die wenner aangekondig pleks van Moonlight, wat die eintlike wenner was. Waarskynlik sal so ’n groot blaps nie gou weer voorkom nie.

2014

John Travolta
John Travolta kon nie sanger se naam reg uitspreek nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

John Travolta moes dalk meer geoefen het voor hy in 2014 verhoog toe is om die sanger Idina Menzel voor te stel, want hy het haar naam as “Adele Dazeem” uitgespreek.

Idina het hom in 2015 teruggekry toe sy die Oscarverhoog betree saam met haar “goeie vriend Glom Gazingo”.

1989

Rob Lowe
Rob Lowe het 'n vals sang-item gelewer. Foto: Gallo Images/Getty Images

In 1989 het Rob Lowe en Sneeuwitjie (Eileen Bowman) ’n 15 minute lange, lawwe vertoning met vals sang gelewer.

Die New York Times het geskryf die vertoning het ’n “permanente plekkie in die annale van vernederende Oscar-oomblikke”. Eina.

1974

David Niven
David Niven op die punt om Elizabeth Taylor aan te kondig voordat hy onderbreek is.

Toe die akteur David Niven in 1974 op die punt was om Elizabeth Taylor aan te kondig, het die fotograaf Robert Opel kaal oor die verhoog gehol.

Die ster van Pink Panther het skaars ’n oog geknip voor hy laat hoor het: “Is dit nie fassinerend nie; die enigste manier waarop daardie man ooit iemand aan die lag sal kry, is deur sy klere te laat waai en sy tekortkomings te wys?”

1973

Sacheen Littlefeather verduidelik waarom Marlon Brando nie Oscar sal ontvang nie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Marlon Brando het ’n Oscar vir sy rol in The Godfather in 1973 gewen, maar het nie vir die geleentheid opgedaag nie.

Hy het die aktrise en aktivis Sacheen Littlefeather in sy plek gestuur.

“Hy kan ongelukkig nie hierdie uiters rojale prys aanvaar nie,” het Sacheen (72) in haar toespraak gesê.

“En die rede hiervoor is die manier waarop die rolprentbedryf vandag Amerikaanse Indiane behandel.”

Bronne: independent.ie, sheknows.com, elle.com, variety.com