Leon en sy regisseursvriend Gray Hofmeyr het dié storie oor drie jaar ontwikkel en dit sal 23 November vanjaar in teaters wys en hier ons het eindelik die eerste voorsmakie van die fliek gekry met 'n opwindende lusmaker-lokprent.

Die storie speel af in Afrika, waar Sonny Frank (Leon) en die tienjarige Fearless (Themba Ntuli) renosterstropery met ’n ingewikkelde plan probeer hokslaan. "Themba roer die hartsnare met sy passie vir ’n renosterwesie wie se ma deur stropers doodgeskiet is," vertel Leon.

Foto: Dehan Janse van Rensburg.

"Sy partner in crime Sonny bring genoeg humor na die silwerdoek en tussen die twee van hulle is dit ’n mengelmoes van emosie, drama en skreeusnaakse slapstick,” sê Leon, wat bekend is vir flieks soos Mr Bones en Mad Buddies.

Dit het "bloed, sweet en trane" geverg om dié ernstige tema met die komedie te meng, maar Leon is daarvan oortuig hulle het dit reggekry. Renosterstropery is immers ’n kwessie wat hom ook na aan die hart lê. 

"Die beelde van die bloedige tonele waar renosters gewelddadig vermoor en onthoring word, het my met die jare hoogs ontstel," vertel Leon. "As daar net een stroper is wat deur die fliek geraak word en sy stropery laat staan, het ons al iets bereik."

Die vervaardigers het baie nou saam met die Rhino Pride Foundation gewerk en Leon meen dat hy graag betrokke wou raak by die bewaring van die renosters. "Ek hoop dat die publiek in hordes hul stemme sal dik maak teen die uitwissing van hierdie pragdier van Afrika."

Frank & Fearless is beslis nie ’n steelkamerafliek nie, maar Leon verseker aanhangers dat hy altyd ’n poets of twee inwerk. Anders as die kostuums waarin hy gewoonlik mense probeer uitvang, moes Leon vir sy rol as Frank regtig gewig aansit.

Foto: Dehan Janse van Rensburg.

"Gray het vir my gesê: 'Eet Boetie. Eet soveel en so vinnig as wat jy kan'. Dit was lekker," bieg Leon. Die logger liggaam het egter nie verhoed dat hy steeds sekere waagtonele self moes doen nie.

"Ek is gehamer en gebeitel." En hy het omtrent sy lyf aksieheld gehou. "Ek het onderstebo aan ’n bewegende passasiersbus gehang en moes onderdeur ’n elektriese wildheining op my maag kruip," vertel hy.

"Sonder skroom kan ek sê dat dit my moeilikste rolprent tot dusver was," sê Leon.