Wie is Angourie?

Dié 17-jarige Australiese aktrise doen al sedert 2009 haar ding voor die kameras.

Sy het ’n hoofrol in die komedie The Nice Guys (2016) saam met Russell Crowe en Ryan Gosling vertolk.

Verlede jaar het sy Betty gespeel in Spider-Man: Homecoming met Tom Holland, Michael Keaton en Robert Downey jr.

Dit gons omtrent in Hollywood oor Angourie wat deesdae ál groter fliekrolle losslaan.

Oor die nuwe fliek

Every Day is ’n fantasiedrama wat oor ’n skaam tiener, Rhiannon (Angourie Rice), handel.

Sy raak op die karakter genaamd A verlief, wat deur verskeie akteurs gespeel word. A word elke oggend in ’n ander liggaam wakker. 

  • Die rolprent begin op 4 Mei.
Sy raak op die karakter A verlief. Foto: Orion Pictures


Angorie in die fliek Every Day. Foto: Orion Pictures.

V&A

V: Hoe het jy die rol van Rhiannon losgeslaan?

A: Ek het ’n oudisie afgelê. Daarna het ek gehoor Michael Sucsy is die regisseur en ek was baie opgewonde daaroor, want ek ken hom. Ek het vir ’n tweede oudisie gegaan en was baie bly toe alles uitwerk.

V: Wat het jou tot die storie aangetrek?

A: Die feit dat dit so spesiaal is. Every Day is nie jou tipiese liefdesverhaal nie. Dit bring interessante teorieë na vore oor hoe ons bestaan en wie ons is. Dit gaan oor ons liggaam en siel, en hoe ons onsself in die wêreld gedra.

V: Is dit ’n storie oor ware liefde?

A: Dit is! Dit gaan nie daaroor om aangetrokke te wees tot hoe iemand lyk nie, maar eintlik oor hoe hulle jou laat voel. As jy vry en geliefd voel en dat jy waardeer word, is dit ware liefde.

V: Die karakter A skrik elke oggend in ’n ander liggaam wakker. Was dit moeilik om die verhouding oor te dra na die verskillende akteurs wat A se karakter vertolk het?

A: Ja, want dit is nogal moeilik om sommerso ’n vonk te hê met iemand wat jy nou net ontmoet het, pleks van met een medespeler saam met wie jy regdeur die fliek werk en wat jy leer ken. Maar in dié geval was dit nie so nie, so dit was ’n uitdaging om daai kontinuïteit te handhaaf.

V: Jy was dieselfde ouderdom as die karakter toe die fliek verfilm is. Kon jy met haar identifiseer?

A: Ja, beslis. Rhiannon sukkel om in die hede te leef en dit is iets waarmee ek ook sukkel.

V: Wat het jy uit die storie geleer?

A: Toe sy A ontmoet, besef sy sy sal in die oomblik moet leef, want dit is al wat hulle het. Dit is ’n pragtige boodskap en ’n waardevolle les.

Angorie in die fliek The Nice Guys. Foto: Warner Bros.

V: Hoe was dit om die fliek in Toronto, Kanada, te verfilm?

A: Ek is mal oor Toronto. Dit is ’n fantastiese stad wat my baie aan my tuisstad, Melbourne in Australië, laat dink.

V: Het jy geweet die fliek is op ’n boek gegrond?

A: Ek het die boek gelees en sodoende ’n goeie konsep oor die storie ontwikkel. Toe die fliekprojek begin, was ek opgewonde omdat ek die storie geken het en gaande daaroor was. Ek wou toe deel wees van die fliek!