Nee, dit word nie makliker met die jare nie, sê Elize Cawood met ‘n glimlaggie.

“Agter daai gordyn bewe ek soms voor ons begin. 'n Mens twyfel altyd,’’ erken die 66-jarige aktrise wat nou te sien is in die nuwe rolprent Skemerson. Daarin speel sy die rol van ‘n ma met kanker.

Om mense te laat lag, dis wat my in ’n koue sweet laat uitslaan.

Die uitdagings van 'n ernstige rol soos dié skrik haar nie af nie, selfs al herinner dit haar aan haar eie ervaring toe servikskanker in 2006 by haar gediagnoseer is.

“Ek is nooit bang om met karakters na daai emosionele plek te gaan nie. Ek doen dit net,” gesels sy in 'n koffiewinkel in Johannesburg. Dan bieg sy: “Om mense te laat lag, dis wat my in ’n koue sweet laat uitslaan.”

Tog het sy en haar man, die akteur Wilson Dunster (75), gehore in Maart by die Klein-Karoo Nasionale Kunstefees op Outdshoorn laat skaterlag met hul toneelstuk Narkose oor twee bejaarde narre wat sukkel om ‘n sirkus aan die gang te hou.

'As ‘n mens ophou twyfel, dink ek jy moet ophou to
'As ‘n mens ophou twyfel, dink ek jy moet ophou toneel speel, of iemand moet vir jou sê: ‘Get out now!'. Foto: Lubabalo Lesolle

Maar elke keer dat sy op die verhoog stap of die kameras begin rol, is die twyfel weer daar oor of sy goed genoeg of gereed is. Dit hou haar juis op haar tone, reken sy.

“As 'n mens ophou twyfel, dink ek jy moet ophou toneel speel, of iemand moet vir jou sê: ‘Get out now!

Sy dra vandag geen krieseltjie grimering nie. Die jare lê om haar mond en om haar grysblou oë, maar in die aantreklike gryskopvrou herken jy steeds die bloedjong Pop le Roux van die treffer-TV-reeks van die 80’s, Verspeelde Lente.

Sy het 'n onuitwisbare indruk op kykers gelaat as die brandarm bywonersdogter wat nie skroom om self met 'n ploegskaar die barre aarde om te dolwe nie.

Nou hoor jy Elize in die lokprent van Skemerson in haar sagte rasperstem sê: “Ek sê altyd: Daar’s altyd hulp en daar’s altyd hoop”.

Die fliek gaan oor ’n jong man, Sella (gespeel deur Pietie Beyers) wat met obsessief-kompulsiewe steuring worstel, en dan by die Stormsrivierbrug ‘n ma en dogter, gespeel deur Elize en Anneke Weidemann, ontmoet.

In die fliek is daar 'n toneel waarin Elize die tragedie van ‘n sterwende ma treffend uitbeeld: Wanneer die dogter haar ma vertroos, verjaag Elize se karakter haar huilend met die woorde: “Mamma is oukei; Mamma is oukei” – selfs al is sy nie.

Sy kon met die karakter identifiseer, nie net as kankerlyer nie, maar ook as ma, sê Elize, self die ma van twee kinders, Lukas (30) en die aktrise Jenna Dunster (32).

'Dis regtig oukei om nie oukei te wees nie'

'Dis nie onbekende emosies nie, maar ek het nooit
'Dis nie onbekende emosies nie, maar ek het nooit gedink ek gaan doodgaan nie.' vertel Elize oor kanker. Foto: Lubabalo Lesolle

“Of ek voorheen kanker gehad het, het nie saak gemaak nie,’’ sê Elize en verduidelik haar eie ervaring met kanker 13 jaar gelede was heel anders.

“Dis nie onbekende emosies nie, maar ek het nooit gedink ek gaan doodgaan nie.”

Sy het destyds bestraling en chemoterapie ondergaan en is sedertdien in remissie.

“Ek het sleg gevoel, maar my hare het nooit uitgeval nie,” onthou sy.  Dan gee sy toe: “Ek verstaan dalk die karakter 'n bietjie beter as iemand wat nie (siek) was nie.”

Die fliek se boodskap oor geestessteurnisse is vir haar belangrik.

“Dis so belangrik dat ons oor dié dinge praat. Mense dink ’n fisieke siekte is veel erger as ’n geestessteurnis,” sê Elize.

“Die fliek gaan jou roer en jy gaan mense wat met dié goed sukkel, soveel beter verstaan. En as jy een van dié is wat hiermee sukkel, gaan jy sien dis regtig oukei om nie oukei te wees nie.”

Die vyf weke dat hulle aan dié rolprent in die Kaap geskiet het, was vir haar groot pret.

“Die see was hel koud die dag, en ons moes vir ’n toneel daarin baljaar. Anneke vat my so van agter om my lyf en toe val ons. Dit was só koud, maar ons het so lekker gelag!”

Sy dink darem die jong mense kan ook by haar iets
Sy dink darem die jong mense kan ook by haar iets leer. Foto: Lubabalo Lesolle

Sy geniet dit om saam met jong akteurs te werk.

“Ek leer eintlik by die jong mense. Ek twyfel altyd. Hulle het soveel confidence,” sê sy en vleg haar vingers saam.

Sy dink darem die jong mense kan ook by haar iets leer.

“Maar hulle vra nie reguit raad nie.”

Hul aktrise-dogter sal wel by haar en Dunster kom raad vra.

Terwyl Jenna op hul voetspoor in die toneelbedryf volg en al in sepies soos 7de Laan, Binneland en Getroud met Rugby verskyn het, is Luke mal oor musiek, en speel hy kitaar.

“Ons het Jenna se show Uit die Bloute by die KKNK gaan kyk en sy ons s’n. Ons gee altyd raad, maar is versigtig hoe ons kritiek vir mekaar gee,” vertel Elize.

'n Leeftyd saam

Sy en Wilson voer sedert 2005 elke jaar saam ’n toneelstuk op.

“Ons skei nie ons professionele en persoonlike lewe nie. Miskien is dit verkeerd, maar dit vloei alles in mekaar. Dis lekker, want ons kan enige tyd sê: ‘Kom ons werk gou hieraan.’ “

Hul huwelik van 37 jaar moet 'n rekord wees in 'n bedryf waar glanshuwelike geneig is om te kom en gaan. Wat is hul wenresep?

“Ons is al 41 jaar saam. Dis 'n leeftyd, maar dit was nie ‘n moeilike commitment om te maak nie. Ons pas net. Ek lewe op impuls en dank die Here hy beplan. Ons het deur die jare al soveel by mekaar geleer.

“Ons vul mekaar aan. Ek spring in by 'n ding en dan moet ek swem, hy benader iets van 'n kant af. Die feit dat ons vir mekaar lag, is ons behoud en dis ook waar die idee vir Narkose ontstaan het.”

Hulle beplan maande lank aan so 'n stuk. “Wat die boodskap en tema gaan wees, wat ons wil hê gehore moet voel en dan om die regte skrywer daarvoor te vind,” vertel sy. Vir Narkose was dit die dramaturg Louis Roux.

Twee uur voor ’n vertoning is hulle reeds by die lokaal besig met voorbereiding.

“Ek het met Narkose besef ek moet weer joga of iets begin doen. Ek sit op ’n lae kis en teen die einde van ’n show bibber hierdie dye van my,” sê sy en vat ’n sluk van haar cappuccino.

Kry sy nog soveel werk soos voorheen?

Sy bly stil, skud dan haar kop met haar lippe saamgepers.

“Veral in die filmbedryf kom daar minder werk na my kant toe. Hoe ouer 'n mens word, hoe meer invisible raak jy en dis ’n groot verlies vir die bedryf. Ons onthou darem ons woorde,” voeg sy by en lag uit haar maag.

“As ek nie my boek lees nie, word ek de-bliksem in
“As ek nie my boek lees nie, word ek de bliksem in,” sê dié boekwurm. Foto: Lubabalo Lesolle

Tussen rolle deur is sy doodgelukkig tuis voor die kospotte, aan die tuinmaak of met 'n haar neus in 'n boek.

“As ek nie my boek lees nie, word ek de bliksem in,” sê dié boekwurm wat biografieë en fiksie geniet van skrywers soos Deon Meyer, Etienne van Heerden, John Irving en Robertson Davies.

Sy en Dunster het 'n jaar gelede uit hul huis in Saxonwold, Johannesburg, waar hulle 12 jaar lank gewoon het, na 'n aftreeoord in die noordelike voorstad Bromhof getrek.

“My tuintjie is so groot,” beduie Elize met haar arms langs haar uitgestrek.

“Ek het onmiddellik 10 rose geplant en nou lyk my tuin pragtig, maar ek mis ons groot tuin.”

Die trek na ‘n kleiner woonplek was vir haar moeilik.

“Ewe skielik het jy te veel goed wat jy moet weggee of verkoop. Wat moet gaan en wat moet bly? En dis dalk jou laaste trek. Die volgende is dalk lang bome toe . . .”

Maar aftree? Nee, sê Elize, sy sal werk tot sy die dag omval.

Skemerson wys van 3 Mei nou landwyd