Drama.
Met Zenobia Kloppers, Cindy Swanepoel, Wayne Smith en Drikus ­Volschenk.
Regisseur: Brett Michael ­Innes.
O13.

Dit vertel die storie van Fiela Komoetie, ’n bruin vrou wat ’n wit kind as haar eie grootmaak en dan moet veg om hom te behou. Brett Michael Innes, die skrywer en regisseur van die nuwe weergawe, bekyk veral Fiela se seer toe sy Benjamin verloor.

In dié vars benadering val die fokus op wat die hele Komoetie-gesin moet deurmaak weens Fiela se verlange na Benjamin.

Zenobia Kloppers druk haar eie stempel op Fiela af – die rol wat in die 1988-weergawe deur Shaleen Surtie-Richards vertolk is en van haar volksbesit gemaak het.

Sy wys ’n gebroke en brose kant van dié ikoniese karakter.

Cindy Swanepoel, veral bekend vir haar rol as dr. Annelise Roux in Binnelanders, lewer uitstekende spel in die rol van die bosvrou Barta van Rooyen.

Wayne en Melissa
Melissa Willering, wat die rol van Nina van Rooyen vertolk, en Wayne. Foto: The Film Factory

Al sê haar karakter min, kry Cindy dit reg om met haar lyf en gesig die stil teenwoordigheid van ’n gefolterde vrou uit te beeld. Kykers sal maklik oortuig wees die jonger en ouer Benjamin-akteurs is dieselfde mens.

Luca Bornman en Wayne Smith, wat onderskeidelik die rol van die jonger en ouer Benjamin speel, se lyftaal en gebare stem baie ooreen.

Die kontras tussen die dorre Karoo en die ruie Knysnabos is uitstekend in die kinematografie vasgevang, en Bret raak aan temas wat in 2019 relevant is. Die gestroopte klankbaan is meesterlik met die mooi bosklanke verweef.

Tog is daar temas wat nie ten volle ontgin word nie en laat die rolprent se minimalistiese styl met tye te veel aan die kyker se eie interpretasie oor.

Fiela se kind
Van links is die regisseur Brett Michael Innes by die akteurs Kyra Phillips, Carla Classen, Zenobia Kloppers, Stefan Erasmus, Wayne van Rooyen en Morné Steyn. Foto: The Film Factory

Dis veral omstandighede rondom ’n kind se dood, ’n buite-egtelike swangerskap en die skielike einde van die rolprent wat ’n bietjie meer diepte vra.

Kykers moet daarop let dat die tempo van die rolprent met tye nogal stadig is.

  • Fiela se kind word op 13 September uitgereik.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.