Dis meer as 30 jaar sedert Fiela Komoetie, Benjamin en Nina in 1988 die eerste keer op die silwerdoek verskyn het in die fliek Fiela se kind.

Wie sal ooit die roerende tonele uit dié rolprentverwerking van Dalene Matthee se roman van 1985 vergeet? 

Fiela, ’n bruin vrou, se verdriet toe die owerheid haar wit “hanskind” uit haar sorg neem; die opgeskote Benjamin wat ontdek hy’s deur die verkeerde gesin groot­gemaak en oor die rotse teenaan die Knysnakus hardloop met die nuus: “Nina, jy is nie my suster nie!”

En natuurlik Fiela se kragtoer voor die magistraat: “God vergewe ons baie, maar God vergewe ons nie die kwaad wat ons ’n kind aandoen nie.” 

En nou verskyn ’n nuwe weergawe van die fliek waarin van die aangrypendste tonele herleef. 

Die 1988-fliek se regie is deur Katinka Heyns behartig – die nuwe weergawe is gemaak deur die regisseur Brett Michael Innes en sy vervaardigervennoot, Danie Bester. 

Danie is ook die vervaardiger van Huisgenoot en kykNET se tweede fliek, Vergeet my nie, wat in Februarie volgende jaar begin. 

Nes sy voorganger is die nuwe fliek in die Karoo en die Knysnabos geskiet. Huisgenoot het met die lede van die nuwe rolverdeling gesels.

ROL: FIELA KOMOETIE 

TOE: SHALEEN SURTIE-RICHARDS
NOU: ZENOBIA KLOPPERS 

“Ons maak nie ’n afdruk van die oorspronk­like fliek nie; ons vertel Dalene Matthee se storie met ’n ander interpretasie van die boek,” vertel Zenobia (45).

Dis nie die eerste keer dat sy Fiela speel nie. Sy het 11 jaar gelede die eerste keer dié rol vertolk in ’n verhoogweergawe van die verhaal, en weer vroeg in 2018 toe sy vir Shaleen ingestaan het toe dié tydens ’n teateropvoering van die storie siek was.

shaleen surtie-richards,aktrise,fiela se kind
Shaleen Surtie-Richards as Fiela in ’n toneel uit die eerste fliek. Foto: kykNET Films

“Voor ons met die rolprent begin het, het ek nie aan die ooreenkomste tussen my en Shaleen gedink nie, want ek wou nie hê my senuwees moet heeltemal op hol wees nie,” sê Zenobia oor die groot skoene wat sy moes vol staan.

Omdat sy Fiela al vantevore gespeel het, was dit nie vir haar moeilik om in die karakter se vel te klim nie. 

Tog, sê sy, was dit ’n emosionele oomblik toe sy die eerste keer instap in die huis op Uniondale waar die span die tonele in en om Fiela se blyplek geskiet het. “Toe is ek Fiela,” sê sy.

zenobia kloppers,aktrise,fiela se kind
Zenobia Kloppers speel dié karakter in die nuwe silwerdoekweergawe. Foto: Fathom Media

Sy vertel die nuwe fliek fokus meer op Fiela en haar gesin as die eerste weergawe.

“Die akteurs wat die Komoetie-gesin speel, het soveel tyd moontlik saam deurgebring sodat ons daardie hegtheid van ’n ware gesin kon beleef.”

ROL: BENJAMIN JR. 

TOE: JAN ELLIS 
NOU: LUCA BORNMAN 

“My eerste dag op die stel was baie opwindend, want ek het nog nooit iets so groots gedoen nie,” sê die 11-jarige leerder aan die Laerskool Wonderboom in Pretoria.

Hy het Zenobia vooraf ontmoet en saam met van die ander akteurs op Skype gesels sodat hulle gemaklik sou wees in mekaar se geselskap wanneer hulle tonele verfilm.

jan ellis,akteur,fiela se kind
Jan Ellis in 1988 in dieselfde rol. Foto: kykNET Films

Ter voorbereiding vir sy rol het Luca saam met twee stemafrigters gewerk om die regte aksent vir sy karakter te ontwikkel. 

Zenobia sê hy het haar beïndruk.

“Selfs nadat tonele klaar geskiet was, het hy sy aksent behou om seker te maak hy verloor dit nie.”

luca bornman,akteur,fiela se kind
Die 11-jarige akteur Luca Bornman as Benjamin. Foto: Fathom Media

Luca vertel hy en Chiara Roodt, die skoolmeisie wat die nuwe jong Nina speel, het goed oor die weg gekom “al moes ons eintlik heeltyd ernstig wees vir die fliek. Tussendeur, wanneer hulle ’n kameralens of iets moes verander, het ek en Chiara lekker gesels.”

Hy sê hy en sy karakter is nie eintlik dieselfde nie: “Ek dink ek praat ’n bietjie meer as hy!”

ROL: NINA JR. 

TOE: ANNIE MALAN
NOU: CHIARA ROODT 

Hoewel almal op die stel haar welkom en gemaklik laat voel het, was sy die eerste dag ’n bietjie op haar senuwees, vertel die 11-jarige leerder aan die Laerskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.

Sy het al voor die kamera modelwerk gedoen en in advertensies gespeel, maar dit was haar eerste rol in ’n fliek.

“In my eerste toneel moes ek huil, en dit was nogal stresvol,” vertel sy. 

annie malan,aktrise,fiela se kind
Annie Malan in dié rol in die vorige weergawe. Foto: kykNET Films

Nina het ’n moeilike lewe, maar sy bly positief, vertel Chiara oor haar karakter. 

“Ek het ook ’n positiewe gesindheid, en ons albei hou van buite speel en is lief vir die natuur.”

“Ek het ’n paar stukkies van die vorige fliek gekyk, maar ek het nie daardie Nina probeer na-aap nie. Ek wou my eie unieke stempel afdruk.”

chiara roodt,aktrise,fiela se kind
Chiara Roodt as die jong Nina in die nuwe fliek. Foto: Fathom Media

Dit was vir haar lekker om teenoor Luca te speel. 

“Ek voel gemakliker wanneer nog ’n kind saam met my toneelspeel. Ek en Luca het goed oor die weg gekom en goeie vriende geraak. Ons het gesels en gehardloop en aan-aan gespeel.”

ROL: NINA SR. 

TOE: MARCHELLE VERWEY
NOU: MELISSA WILLERING 

“Aan die begin was ek bekommerd dat kykers ons met die vorige akteurs gaan vergelyk, maar toe ek die eerste keer die teks kry en sien dit verskil soveel van die oorspronklike fliek, het ek geweet dit gaan nie moontlik wees nie,” sê Melissa (22), wat die volwasse “boskind” speel.

“Niks van my woorde stem ooreen met wat Marchelle as Nina gesê het nie,” vertel sy met ’n laggie.

Sy en Chiara, wat die jong Nina speel, het voor die verfilming met mekaar op Skype gesels om seker te maak hul aksente stem ooreen. 

“Ons het met mekaar in karakter gepraat om met die aksent gemaklik te raak,” sê Melissa.

Op die stel het hulle mekaar eintlik net vinnig gesien. 

“Daar is een reël wat ons albei in die fliek sê, en dis nogal ’n belangrike reël. Ek het die regisseur gevra hoe Chiara dit gesê het, en sy het dit op ’n baie cheeky manier gesê.” 

Melissa het dié vraag aan Benjamin sr. toe op dieselfde manier gevra as hoe Chiara dit aan Benjamin jr. gevra het.

En dié woorde? Nóg ’n onvergeetlike aanhaling uit die fliek: “Kan jy ’n geheim hou?”

melissa willering,wayne smith,fiela se kind
Melissa Willering en Wayne Smith in dié rolle in die nuwe fliek. Foto: Fathom Media

ROL: BENJAMIN SR. 

TOE: DAWID MINNAAR
NOU: WAYNE SMITH 

Die nuwe weergawe fokus meer op die verhouding tussen Benjamin en Fiela, vertel Wayne (28), wat die rol van die volwasse optelkind vertolk.

“Ek kon van die begin af sien wie Benjamin en Fiela is en wat aan die hart van die storie en hul verhouding is.

“Ek is eintlik Engels en ’n bietjie bang vir die Afrikaans, maar in my eerste tonele moes ek baie hardloop en nie veel sê nie. Dit was ’n goeie inleiding om gemakliker in my karakter se skoene te klim.”

Om Luca en Wayne meer na mekaar te laat lyk het die grimeerspan Wayne groen kontaklense gegee – sy oë is eintlik blou, terwyl Luca s’n groen is.

Fiela se kind
Marchelle Verwey en Dawid Minnaar as Nina en Benjamin.

“Ek het nog nooit kontaklense gedra nie en moes eers daaraan gewoond raak,” sê Wayne. 

“Dit was ’n groot deel van my ritueel om elke dag in karakter te kom.” 

  • Die fliek Fiela se kind is van 13 September landwyd te sien.
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.