Onmin oor die rolverdeling, regisseurs wat uitgeskop word, en aanhangers wat onder mekaar stry en mond uitspoel oor elke skuif. Daar was soveel kritiek en terugslae dit het gelyk asof die fliek nooit die lig sou sien nie.

Maar hier is dit nou, en dit is sowaar ’n nuwe helder ster in die vermaakhemel.

Oorsese aanhangers van die ikoniese Star Wars-reeks het bra skepties gaan kyk wat die vervaardigers aangevang het met hul held Han Solo in die nuwe fliek oor sy avonture. Maar in ware Han-tradisie het die filmmakers ’n Wookiee uit die hoed getrek – Solo: A Star Wars Story oes nou lof in byna so vinnig as wat die Millennium Falcon die Kessel-roete kan kafdraf.

Die produksiemaatskappy Lucasfilm, wat deur Disney besit word, het ’n vet kans gewaag om een van hul mees geliefde karakters ’n nuwe baadjie te gee en ’n groep nuwe akteurs vir die rolverdeling te kies.

En die oorspronklike Han, Harrison Ford (75), is nie met ’n oog te sien nie. Maar Han, Chewy, Lando en die res van die bende het gehore oorrompel, en die storie, wat 10 jaar voor die oorspronklike Star Wars van 1977 afspeel, is ’n treffer.

Daar is selfs geharde Star Wars-aanhangers wat nou sê dis hul gunsteling onder al die nuwe flieks in die reeks. Hier is als wat jy moet weet oor Han, sy pelle en die drama wat agter die skerms afgespeel het om hulle na die silwerdoek te bring.

Waar die storie inpas

In die nuwe fliek in die Star Wars-heelal tree die geheimsinnige Han Solo eindelik uit die skadu. Dis sy agtergrond wat nou op die grootskerm uitspeel.

Voor Han nog vir Luke Skywalker en Leia ontmoet het, was hy ’n straatkind op die planeet Corellia, waar hy en sy vriendin Qi’ra van diefstal aan die lewe bly. Die twee bedink ’n plan om weg te kom van die planeet waar die inwoners onderdruk word, maar verloor in die proses kontak met mekaar.

Han kry dit reg om te ontsnap en sweer hy sal weer sy pad na Qi’ra vind. Dan is dit ’n paar jaar later en ons held is nou ’n vlieënier wat uit die weermag geskop is weens ongehoorsaamheid.

Weer wend Han hom tot misdaad. Danksy sy sjarme en waaghalsigheid maak hy gou naam in die onderwêreld, waar dit krioel van die boewe.

Sy onheilsame weë lei hom na Chewy, Lando en die heerser van die sterrestelsel se mafia, die almagtige Dryden Vos. En wie is die boef se meisie? Han se einste kleintydmaatjie, Qi’ra.

Drama agter die skerms

Eerste aan die stuur was die regisseurs Phil Lord en Chris Miller (albei 42), wat veral bekend is vir The Lego Movie en komedies soos 21 Jump Street en die loodsepisode van die skreeusnaakse polisiereeks Brooklyn Nine-Nine.

Volgens gerugte het Phil en Chris die fliek, wat geskryf is deur die Star Wars-veteraan Lawrence Kasdan (69) en sy seun Jonathan (38), uit die staanspoor in die rigting van ’n komedie gedruk. Maar die skrywers en Lucasfilm wou die fliek as ’n ernstige aksiefantasie vestig.

Die twee het die akteurs glo te veel aangemoedig om te improviseer, en dit het veroorsaak dat die storie die pad byster geraak het. Bronne het aan Entertainment Weekly verklap die veranderings was eers “subtiel, maar met verloop van tyd het dit ál groter geword”.

Die Oscar-wenner Ron Howard, die regisseur wat Phil Lord en Chris Miller vervang het, op die stel van Solo.

’n Skrale ses maande later is Phil en Chris in die pad gesteek. Die amptelike rede wat toe gegee is: “kreatiewe verskille”. Net ’n maand tevore het Lucasfilm die redigeerder wat hulle gehuur het, Chris Dickens, vervang met Pietro Scalia. Hiervoor het niemand ’n rede gegee nie.

Enkele dae nadat die regisseurs in die pad gesteek is, het die Oscar-bekroonde Ron Howard (64) die stuur van die Millennium Falcon oorgevat. Howard, wat blykbaar nee gesê het vir sy vriend George Lucas (74) se versoek om die regie van Star Wars: Episode I – The Phantom Menace te behartig, het in Junie 2017 ingeval toe daar net drie en ’n half weke verfilmingstyd oor was.

Die oorskiet van tonele het nog vyf weke geduur.

Die nuwe Han

Toe die betreklik onbekende akteur Alden Ehrenreich (28) gekies word vir die rol van die ikoniese ruimtesmokkelaar, wou sommige aanhangers niks daarvan weet nie. Hulle het mond uitgespoel in die sosiale media en veral tekere gegaan oor hoe vrot hy was in die flieks Hail, Caesar! en Beautiful Creatures. Hy sou immers moes volg in die voetspore van die man wat mense al jare lank as die enigste ware Han Solo beskou: Harrison Ford.

Boonop lek dit toe uit dat die base van Lucasfilm so ongelukkig is met hul nuwe Han dat hulle ’n toneelspelafrigter aangestel het om hom reg te help.

Maar volgens die akteur is die herrie uit verband geruk. Die sogenaamde afrigter was die skrywer-regisseur Maggie Kiley, en sy is ingebring om met al die akteurs te werk, nie net Alden nie.

Harrison Ford was die oorspronklike Han Solo in vier Star Wars-flieks.

Of hy nou regtig hulp nodig gehad het of nie, Alden het die kritici se monde gesnoer die oomblik toe hy op die grootskerm verskyn.

“Alden Ehrenreich herinner ’n mens aan die jong Harrison Ford as romantiese, galante held,” skryf die resensent Peter Bradshaw in die Britse koerant The Guardian.

Vanity Fair se Andrew Barker stem saam. “Alden kry Ford se parmantige stappie, sy skalkse glinster in die oog en sy selfvoldane vingerwysery presies reg.”

Maar natuurlik was die mooiste musiek in die nuwe ster se ore die lof wat sy beroemde voorganger hom toegeswaai het nadat hy die fliek gesien het:

“Ek dink die fliek was eenvoudig skouspelagtig,” sê Harrison. “En ek dink Alden was baie slim met wat en hoe hy dit gedoen het. Ek is baie beïndruk.”

Bekende gesigte

Chewbacca

Joonas Suotamo (31), die langeraat van 2 m wat in The Force Awakens die ikoniese rol by Peter Mayhew oorgeneem het, is weer te sien as Han se Wookiee-handlanger en onderkaptein.

Lando Calrissian

Donald Glover het lof ingeoes vir sy uitbeelding van die gladdebek smokkelaar en oorspronklike eienaar van die Falcon. Die akteur Billy Dee Williams, by wie hy die rol oorgeneem het, het eenvoudige raad met die 34-jarige akteur gedeel: “Hy’t gesê: ‘Wees net sjarmant.’ ”

Die nuwe gesigte

Qi’ra

“Sy en Han het as kamerade grootgeword,” sê Emilia Clarke (31), die Game of Thrones-ster wat die femme fatale speel.

“Hulle was pelle en het saam drooggemaak en aangejaag, maar daar is ook ’n romantiese skynsel.”

Tobias Beckett

Woody Harrelson (56) speel Tobias, Han se misdadige mentor.

“Hy vorm Han meer as enigiemand, veral omdat Han besef hy moet die een of ander morele kode aanneem in die wettelose tyd waarin hy leef,” sê die regisseur, Ron Howard, oor die karakter.

Val

Thandie Newton (45) speel Tobias se baie skietlustige vrou. “Sy’s vasgegom aan Tobias; hulle is al lank saam,” sê Lucasfilm se president, Kathleen Kennedy.

L3-37

Die Britse aktrise Phoebe Waller-Bridge (32) speel Lando se robo-metgesel.

Dryden Vos

Die Avengers-ster Paul Bettany (47) pas perfek in die rol van die joviale maar duistere misdaadbaas wat beskryf kan word as die “mafiabaas van die Galaxy Far, Far Away”.

“Hy is veel dieper ingegrawe in die misdaadwêreld as enigiemand wat ons in die fliek ontmoet,” sê die skrywer Jon Kas-dan. 

BRONNE: ENTERTAINMENT WEEKLY, THE GUARDIAN, VANITY FAIR, ESQUIRE, NY POST, THE INDEPENDENT; FOTO'S: LUCAS FILM, GALLO IMAGES/AFP