Ant-Man is terug!

Aksie.

Met Paul Rudd, Evangeline Lilly en Michael Douglas. Regisseur: Peyton Reed. Begin op 6 Julie.

Die wêreld se kleinste superheld is terug en dié keer op ’n epiese noot. Die eerste Ant-Man (2015) was ’n lokettreffer en hoogs vermaaklik.

Die jongste fliek het nie net ’n mier in nie; dit het ook ’n perdeby-superheldin wat hul wêreld teen die bose moet beskerm. In die opvolgfliek is Scott Lang, oftewel die miniatuursuperheld Ant-Man (Rudd), al twee jaar in huisarres in San Francisco ná sy manewales in Captain America: Civil War (2016).

Hy sukkel om die lewe as pa en sy verantwoordelikhede as superheld te balanseer. Dan konfronteer Hope van Dyne, oftewel die Wasp (Lilly), en haar pa, die kwantumfisikus dr. Hank Pym (Douglas), hom met ’n nuwe sending.

Die twee miniatuurhelde span kragte saam om die sending te voltooi en geheime van die verlede te ontbloot.

Die Wasp (Evangeline Lilly) en Ant-Man (Paul Rudd) span kragte saam teen die bose Ghost. Foto: Walt Disney Studios

Die superheldin

Die Lost-ster Evangeline Lilly (38) speel die tweede keer die Wasp, dié keer as Ant-Man se gelyke in die eerste Marvel-fliek met ’n vroulike superheld in die titelrol.

Haar superkragte sluit in ingeboude bio-vlerke om te vlieg en verlengbare kloue wat in haar handskoene ingebou is.

In die eerste Ant-Man-fliek was Hope meer sakevrou as superheldin terwyl sy die maatskappy bestuur het wat haar vervreemde pa gestig het.

In die opvolgfliek is sy reeds twee jaar in haar rol as toekomstige Avenger.

“Sy is gewoond aan die pak. Dis nou deel van haar lewe,” sê Evangeline. Hulle het maande lank geskaaf aan haar superpak, wat sy die “koelste pak in die Marvel-heelal” noem.

“Wanneer ek nou op die stel in daardie pak loop, voel ek soos ’n superheldin. Ek voel soos die Wasp en ek voel bleddie sexy.”

Springmieliefeit

Die Wasp is een van Marvel se geliefste karakters sedert sy in 1963 bekendgestel is.

In 2013 het Marvel.com dié heldin as die vyfde beste Avenger gelys naas Iron Man, Thor, Hawkeye en Captain America.

Die booswig

Aanhangers van die fliek sien daarna uit om die skurk Ghost op die silwerdoek te sien. Hulle is veral opgewonde omdat Marvel besluit het om dié karakter, wat 31 jaar gelede in 1987 die eerste keer in die Iron Man-strokiesprente te sien was, ’n geslagsverandering te laat ondergaan.

In dié fliek is Ghost ’n vrou.

Die rol word deur die Britse aktrise Hannah John-Kamen (28) vertolk. Sy was in die TV-reeks Killjoys te sien en het onlangs ’n booswig in Steven Spielberg se fliek Ready Player One gespeel.

Die skurk, Ghost. Foto: Walt Disney Studios
Foto: Walt Disney Studios

“Dit is bevrydend dat ’n karakter deur ’n man of vrou gespeel kan word. Hulle het vooruit gedink,” sê Hannah.

Ons kan verklap Ghost het tegnologie by dr. Hank Pym gesteel om haarself supermagte te gee. Sy kan onder meer deur soliede voorwerpe soos mure en selfs mense beweeg. 

Bronne: Marvel.com, Bustle.com, AFP,Yahoo.com, Screenrant.com