Waaroor gaan dit?

Asof Black Panther nie genoeg was om jou hart ’n paar kloppe te laat oorslaan nie, bied Marvel Studios ons nog ’n af­­lewering vol superhelde in die nuwe Avengers-fliek, Infinity War. Die magtige ruimtewese Thanos kom aarde toe om die ses Infinity Stones by­­mekaar te maak wat hom eindelose mag sal gee om die heelal te vernietig. Die Avengers, ’n groep superhelde, span kragte saam met die Guardians of the Galaxy om hom te stuit. 

Hier is van die superhelde wat die wêreld se ondergang moet keer:

Die Avengers en kie

Tony Stark, oftewel Iron Man

Tony Stark, oftewel Iron Man

Die skatryk tegno-foendi Tony (Robert Downey jr.) het dalk geen supermag nie, maar danksy sy ingenieursvernuf het sy alter ego, Iron Man, ’n slim robotpak wat hom kan laat vlieg.

Hulk

Hulk

Mark Ruffalo speel die man wat in ’n massiewe, kragtige groen monster verander wanneer hy woedend raak.

Thor

Thor

Chris Hemsworth is bekend as die magtige Noorse god met die vlieënde hamer wat net hy kan gebruik om storms, reën, wind en weerlig te beheer.

Dié keer het hy ’n oogklap en glo ’n nuwe wapen.

Captain America

Captain America

Dié held (Chris Evans) het in die vorige fliek Civil War sy onbreekbare skild aan Tony Stark oorhandig. Hy gaan nou as Nomad bekend wees.

Black Widow

Black Widow

Scarlett Johansson se karakter het die vaardigheid om op ’n slinkse wyse mense te ondervra om inligting te bekom.

Sy’s ’n blitsvinnige atleet, akrobaat, gimnas en gevegskunskenner.

Doctor Strange

Doctor Strange

Doctor Strange (Benedict Cumberbatch) is bedrewe in die mistieke kunste. Hy gebruik dié energie om mee te toor.

Spider-Man

Spider-Man

Tom Holland keer terug as Spidey. Hy’s supervinnig, kan met die taai spinnekopwebdrade wat uit ’n toestel aan sy gewrigte skiet van gebou tot gebou spring en skurke daarmee vang.

Loki

Loki

Thor se bose aangenome broer, Loki (Tom Hiddleston), is ’n meester van manipulasie en bedrieëry.

Wakanda bo!

Black Panther en kie

Black Panther is terug! Chadwick Boseman se superheld het bomenslike sintuie en die stamina, refleks en ratsheid van ’n luiperd. Sy tegnofoendi-sussie, Shuri (Letitia Wright), en helper, die vegter Okoye (Danai Gurira), is ook in die fliek te sien.

Die Guardians of the Galaxy

Guardians en Avengers

Star-Lord (Chris Pratt), Gamora (Zoe Saldana), Groot (Vin Diesel) en die res van die Guardians of the Galaxy-kliek maak hul debuut in die Avengers-heelal in dié fliek.

Dit is die eerste keer dat die Guardians en die Avengers mekaar op die silwerdoek ontmoet. Hemsworth, wat die spiertier Thor speel, sê hy is op die stel deur Pratt, oftewel die Star-Lord, geïntimideer.

“Hy is so charismaties en goed in wat hy doen,” sê hy oor dié leier van die Guardians.

Die booswig

Thanos

Thanos

Dié skurk word deur Josh Brolin gespeel. Volgens die regisseurs is Thanos sterker as die Avengers se grootste superheld, die Hulk.

Hy is so sterk, sê hulle, dat die Avengers sal moet uithaal en wys om hom te verslaan.

“Thanos is die vreesaanjaendste Marvel-booswig wat ons nog gesien het,” sê die Spider-Man-ster Tom Holland. 


Springmieliefeite

  • Arme Spidey! Tom Holland, wat Spider-Man speel, is nie toegelaat om die volledige draaiboek vir Infinity War te lees nie omdat hy te veel geheime van Spider-Man Homecoming verklap het voor die rolprent verlede jaar uitgereik is.
  • Verfilming het in Januarie 2017 begin en ’n jaar geduur. In dié tyd het hulle Infinity War en ook die volgende ongetitelde Avengers-fliek geskiet, wat in 2019 uitgereik word.
  • Robert Downey jr. het gevra dat sy meubels in sy huis in Los Angeles verskeep word na Atlanta, waar die fliek verfilm is.
  • Die booswig Thanos kry sy eie boek. Barry Lyga se nuwe boek, Thanos – Titan Consumed, sal in November op die rakke wees

BRONNE: PLANET-SCIENCE.COM, COMICVINE.GAMESPOT.COM, COMICBOOK.COM, IMDB.COM, POLYGON.COM, ELLE.COM, DIGITALSPY.COMWALT DISNEY STUDIOS MOTION PICTURES;
FOTO'S: WALT DISNEY STUDIOS MOTION PICTURES