Waaroor handel dit?

Die intrige in die vyfde fliek in die Jurassic Park-reeks ontvou vier jaar nadat die Jurassic World-temapark vernietig is deur dinosourusse, wat uit aanhouding ontsnap en amok gemaak het. Die dino’s moet nou self in die oerwoude van die eiland Isla Nublar oorleef.

Toe die eiland se vulkaan dreig om uit te bars, begin die oudsoldaat en Velociraptor-kenner Owen (Pratt) en die temapark se gewese bedryfsbestuurder Claire (Howard) ’n veldtog om die oorblywende dinosourusse te red voor hulle uitsterf.

Owen wil veral sy geliefde Blue opspoor. Maar dan kom hulle tot ’n skokkende ontdekking.

Dino’s net waar jy kyk

Dié fliek, wat 25 jaar ná die eerste Jurassic Park-rolprent van 1993 uitgereik word, het die meeste dinosourusse wat al in ’n fliek in die reeks gesien is, luidens berigte. ’n Nuwe reusedinosourus – die Indoraptor – is dié een se supergevaarlike dinosourus, en die T. rex uit Steven Spielberg se eerste fliek speel ook ’n groot rol.

Die Spaanse regisseur J.A. Bayona (The Orphanage en The Impossible) en die Amerikaanse medeskrywer Colin Trevorrow sorg glo vir donkerder, gotiese elemente en het ook die dinosourusse meer persoonlikheid gegee sodat die karakters, sowel as die kykers, makliker empatie met hulle kan hê. 

Springmieliefeite
  • Jeff Goldblum (65) keer terug as die wetenskaplike dr. Ian Malcolm. Hy het in 1993 dié rol vertolk in Jurassic Park en in 1997 in The Lost World: Jurassic Park. B.D. Wong (57) hervat sy rol as dr. Henry Wu.
  • Bryce se pa is Ron Howard (64), die akteur en Oscar-bekroonde regisseur van flieks soos A Beautiful Mind en Apollo 13.
  • Die eerste Jurassic World-fliek van 2015 het sowat R21 miljard wêreldwyd by die loket laat inrol – destyds ’n rekord. Die fliek is intussen onttroon en lê nou vyfde op die lys van rolprente wat die meeste geld by die loket gemaak het.

Die hoofaktrise

Bryce Dallas Howard

Die langverwagte opvolg op 2015 se Jurassic World handel meer oor Bryce Dallas Howard (37) se karakter, Claire Dearing, as Chris Pratt (39), die hoofster van die eerste Jurassic World-fliek.

Die regisseur, J.A. Bayona, was bewus daarvan dat kritici die vorige fliek van seksisme beskuldig het omdat die rooikopaktrise tydens aksiebelaaide tonele in die oerwoud in hoë hakke van T. rex moes weghardloop. Hy het dus besluit om die klem meer op haar karakter te laat val en haar ’n sentrale rol in die intrige te gee.

En daai hakke?

Dit was eintlik ’n “deel van die karakter en ’n metafoor vir haar reis”, het Bryce aan Radio Times vertel. Sy dra weer hakke in haar openingstoneel in Fallen Kingdom, maar dit was op haar eie aandrang.

Haar karakter moes aanvanklik in haar eerste toneel tekkies gedra het, vertel Bryce. Maar sy het gevoel dit pas nie by haar nie.

“Ek het net gedink: ‘Nee, nee, dis ’n kantoor; Claire sou hakke dra.’ ”

 

Bronne: Numetro.comWjla.comScreenrant.comCbr.comUniversal Pictures

Foto's: Universal Pictures