Skyscraper

Aksieriller.

Met Dwayne Johnson en Neve Campbell. Regisseur: Rawson Marshall Thurber. Begin op 13 Julie.

The Rock se nuutste aksiefliek Skyscraper. Foto: Universal Pictures.

Waaroor gaan dit?

’n Gewese oorlogveteraan en leier van ’n taakspan wat gyselaars red, Will Sawyer (Johnson), is ernstig beseer toe ’n sending skeefloop. Hy oorleef, maar verloor ’n deel van sy linkerbeen.

Tien jaar later trou hy met ’n chirurg (Campbell) wat ’n operasie op hom uitgevoer het. Hulle het ’n seun en ’n dogter.

Will is deesdae ’n veiligheidsinspekteur vir wolkekrabbers en word gehuur om die (fiktiewe) hoogste gebou in die wêreld, The Pearl in Hongkong, te ondersoek.

Maar toe ’n brand in die gebou ontstaan, word hy die sondebok gemaak. Hy moet sy onskuld bewys en sy gesin, wat in die vlamme vasgekeer is, red.

Die Hard 2.0

Dié aksiefliek is in dieselfde trant as ander groot aksieflieks soos Bruce Willis se Die Hard-franchise. “Ek wou ’n fliek maak wat hulde bring aan klassieke aksieflieks wat my inspireer – van Die Hard tot The Towering Inferno en The Fugitive. ’n Gewonde kryger se bloed, sweet en vasberadenheid om sy gesin te red,” vertel die oudrofstoeier, wat 1,96 m in sy sokkies staan.

Hy vertel die Skyscraper-rol was fisiek en emosioneel die veeleisendste wat hy al aangepak het. Sommige mense meen die fliek se lokprent, waar Johnson van ’n hyskraan na ’n gebou spring, is te dik vir ’n daalder, maar in ’n video wys hy hoe hy regtig dié toertjie uitvoer.

’n Man van vele talente

Die ster het verlede jaar sowat R800 miljoen laat inrol. Hy’t sy eie vervaardigingmaatskappy, Seven Bucks Productions, wat onder meer aan sy fliek Jumanji: Welcome to the Jungle, die dramareeks Ballers én Skyscraper gewerk het.

“Daar was nie vir my ’n bloudruk om te volg toe ek begin toneelspeel nie, want ’n rofstoeier van gemendge afkoms wat luidrugtig en bombasties op ’n dol stoeiprogram tekere gaan, het nie bestaan nie.”

’n Rondreisende gesin

Dwayne en sy eerste vrou, Dany Garcia (49), die ma van sy dogter Simone (16), se paadjies het in 2007 geskei. Hy en sy meisie, Lauren Hashian (33), het twee dogters, Jasmine (2) en Tiana, wat in April gebore is.

Hy neem sy gesin oral saam wanneer hy vir werk reis. “Dit help. Solank ek die kern van my familie saam met my het, kan ek enigiets doen.”

Springmieliefeite
  • Dis die tweede fliek wat The Rock saam met die regisseur Rawson Marshall Thurber (43) maak. Die eerste een was die komediefliek Central Intelligence (2016), waarin Dwayne en Kevin Hart (38) die hoofrolle vertolk.
  • Neve Campbell (44), wat Dwayne se vrou speel, is veral bekend vir die reeks Party of Five, sowel as gruwelflieks soos die Scream-franchise. Sy het ook meer onlangs ’n rol in die Netflix-reeks House of Cards vertolk.

Bronne: Filmjournal.com, Cinemablend.com, Dailymail.co.uk

Wat wys nog?

HEREDITARY

Gruwel.

Met Toni Collette, Gabriel Byrne, Alex Wolff en Milly Shapiro. Regisseur: Ari Aster. 16DGrTNG.

3½/5

Milly Shapiro, Toni Collette, Gabriel Byrne en Alex Wolff. Foto: A24.

Waaroor gaan dit?

Die miniaturis Annie Graham (Collette) woon saam met haar man (Byrne), hul tienerseun (Wolff) en 13-jarige dogter (Shapiro). Ná haar ma se dood word Annie se smart verdiep deur ’n reeks tragiese gebeure.

Namate die gesin se angs hulle tot op die randjie dryf, word donker geheime ontrafel terwyl hul herkoms aan die lig kom. Maar hoe meer hulle van hul sinistere lot probeer ontsnap, hoe nader kom hulle aan hul ondergang.

Is dit goed?

Aster se debuutrolprent is uiters ontstellend en onvoorspelbaar – eintlik dalk ’n bietjie te ontstellend.

Stel jou voor: Jy is in die middel van ’n skrikwekkende nagmerrie, jou hart bokspring en jou vel is klam van koue sweet. Skielik lui jou wekker en Billy Ray Cyrus se Achy Breaky Heart speel.

Die deuntjie dring jou droom binne en verander die gevoel van makaber en manies tot uiters absurd. Dit is die wese van Hereditary se derde bedryf.

Gelukkig vergoed die opbou van spanning oorgenoeg vir die vreemde einde. Alles van die meesleurende beelde tot die ysingwekkende klankontwerp en kamerahoeke is pragtig geskep om van die begin af die kyker se toenemende vrees en verwarring uit te buit.

Die akteurs se boeiende spel staan die meeste uit. Hulle tree as die volmaakte gidse op vir die uitgebreide doolhof van emosies waardeur die rolprent jou sleur.

Dit is nie heeltemal die nuwe The Exorcist (1973) soos wat baie resensente verklaar nie, maar dié besonder senutergende ervaring is lofwaardig uit eie reg. – Buhle-Bethu Qatyana

DVD’S

THE FOREIGNER

Aksie.

2017. 111 MIN. 16TSG. OOK OP DSTV se BOX OFFICE.

2½/5

Jackie Chan in The Foreigner. Foto: STXfilms.

Toe ’n bom van die Ierse Republikeinse Leër in Londen ontplof en dit die dogter van die voormalige soldaat Quan (Jackie Chan) se lewe eis, plaas die owerhede druk op die Ierse leier Hennessy (Pierce Brosnan), ’n voormalige lid van die IRL, om die skuldiges op te spoor.

Maar namate die weke sonder enige inhegtenisnemings verbygaan, stel die bedroefde Quan Hennessy in die visier, want hy is oortuig dié weet meer as wat hy voorgee.

The Foreigner sou twee goeie afsonderlike rolprente kon gewees het – ’n aksiefliek en ’n politieke riller. Pleks daarvan sit ons met ’n enkele middelmatige fliek.

Al is die vertrekpunt interessant en lewer die hele rolverdeling sterk vertonings, probeer die rolprent te veel in te min tyd inpas.

Die kyker word dikwels vertel wat aangaan pleks van gewys – iets wat vermy kon gewees het as daar tyd was vir die storie om asem te skep. – Bianca Lambrechts

CROOKED HOUSE

Misdaaddrama.

2017. 135 MIN. 13TG

2/5

Glenn Close in Crooked House. Foto: Sony Pictures.

Die privaat ondersoeker Charles Hayward (Max Irons) word deur ’n voormalige liefde (Stefanie Martini) genader om die moord op haar oupa te ondersoek.

Sophia glo hy is vermoor deur ’n lid van haar eksentrieke familie. Die verdagtes sluit haar oupa se weduwee (Christina Hendricks), sy baasspelerige skoonsuster (Glenn Close) en skoondogter (Gillian Anderson) in.

Dié tweede verwerking van ’n Agatha Christie-roman wat in 2017 uitgereik is, bevat nie dieselfde vindingrykheid van Murder on the Orient Express nie.

Die rolverdeling is indrukwekkend, maar die meeste lewer stokkerige spel.

Die ontwerp en kostuums herskep die 1950’s in fyn besonderhede, maar te veel tyd word aan Charles en Sophia se agtergrondverhaal bestee, en daar is geen gevoel van spanning nie.

Die moordenaar se identiteit sal jou verras, maar jou enigste reaksie sal waarskynlik verligting wees dat dié uitgerekte rolprent eindelik klaar is. – Sandra Visser