Deadpool 2

Aksie. Met Ryan Reynolds, Zazie Beetz en Josh Brolin. Regisseur: David Leitch. Begin op 18 Mei.

Wade is terug!

Die snaaksste superheld is terug vir ’n aksiefliek vol skoppe en grappe.

Reynolds hervat sy rol as die oudsoldaat Wade Wilson wat in die superheld Deadpool verander het toe sy kankerbehandeling skeefloop.

In dié jongste aflewering span hy kragte saam met drie mutante, Bedlam (Terry Crews), Shatterstar (Lewis Tan) en Domino (Beetz), om ’n seun teen die gevaarlike Cable (Brolin) te beskerm.

Die pyn agter die glimlag

Die pa van twee (41), wat getroud is met sy Green Lantern-medester Blake Lively (30), is dalk skreeusnaaks op die silwerdoek as Deadpool, maar agter die skerms voer hy ’n stryd teen angstigheid, het hy onlangs aan The New York Times onthul.

Hy raak steeds naar van angstigheid voor ’n groot optrede of regstreekse onderhoud, bieg hy. Hy klim dan in sy alter ego, Deadpool, se skoene.

“Wanneer die gordyn oopgaan, word ek dié klipkop, en hy neem soort van oor en verdwyn weer wanneer ek van die stel afloop,” vertel Ryan.

Spider-Man en Celine

Sy mede-Kanadees Celine Dion, wat agter die Titanic-trefferlied My Heart Will Go On is, sing ook Deadpool se temalied, Ashes. In die musiekvideo dans Deadpool boonop in hoëhakskoene sirkels om Celine.

Die Hollywood-hartebreker bieg egter dis nie hy wat sy lyf so wikkel nie. Dis eintlik die Franse danser Yanis Marshall (28). Ryan verskyn wel later en vra Celine om liewer nie so mooi te sing nie.

Hierop antwoord die sangdiva: “Luister, dié ding (haar stem) gaan altyd tot by 11, so, trap, Spider-Man!” 

WIE’S WIE?

Domino

Zazie Beetz (26) as Domino.

Zazie Beetz (26) sê in haar hoërskooljare in Manhattan, New York, het haar afro-­haarstyl gereeld die aandag getrek.

“My onderwysers het gevra of dit ’n pruik is, en vreemdelinge het op straat aan my hare gevat,” vertel sy.

Zazie, wat in die TV-reeks Atlanta te sien is, was “geskok” toe die Deadpool-regisseur, David Leitch, en Reynolds haar aansê om haar afro te behou vir haar rol as die mutant Domino, wat geluk in haar guns kan manipuleer.

Hulle voel haar hare help om Domino “dapper en sterk” te laat voorkom, vertel sy.

Cable

Josh Brolin (50) as Cable.

Josh Brolin moes op 50 sy lyf transformeer vir sy rol as Cable.

“Ek moes eintlik net steroïede gebruik, roomys eet en TV kyk,” spot hy.

“Maar ek het drie uur per dag geoefen en suiker uitgesny. Ek is baie gelukkig met die resultaat.”

Springmieliefeite

  • Die eerste Deadpool-fliek van 2016 het die meeste geld van alle X-Men-flieks laat inrol – $783 miljoen (toe R10,5 miljard).
  • In Augustus is die waaghals Joi Harris tydens verfilming van Deadpool 2 in ’n motorfietstoneel op die stel dood. Produksie is toe vir twee dae gestaak.
  • Brad Pitt het met die regisseur onderhandel oor die rol van Cable, maar weens sy vol program kon hy nie die rol aanpak nie.
  • In die strokiesprent is Domino ’n wit vrou met ’n swart sirkel om haar linkeroog. Maar omdat Zazie, ’n swart vrou, haar speel, het hulle vir haar ’n wit kring om haar linkeroog gemaak.

    Bronne: vogue.com, harpersbazaar.com, youtube, imdb, ew.com

    Foto's: 20th Century Fox