VLIEG HOOG

In dié opvolg van die wetenskapsfiksiefliek Pacific Rim (2013) speel die 32-jarige akteur die rol van Nate Lambert, medevlieënier van John Boyega se karakter, Jake Pentecost.

Hy was aangetrokke tot die rol omdat hy in die regte lewe ’n gekwalifiseerde vlieënier is, sê die avontuurlustige Scott.

Bracer Phoenix is ’n Jeager in die fliek Pacific Rim. Foto: IMDB.com

“Ek is van jongs af dol oor lugvaart,” vertel hy.

Die liefde vir vlieg loop in die gesin – sy pa, die rolprentmaker en akteur Clint Eastwood, is ook ’n vlieënier en sy ma, Jacelyn Reeves, ’n voormalige lugwaardin.

“As kind het ek saam met my pa gevlieg, en ek het gedink dis die coolste ding ooit.”

OP EIE STOOM

Scott, die jongste seun van Clint, het nog nooit sy beroemde van gebruik om voordeel te trek nie.

Inteendeel, hy het sy ma se van gebruik toe hy in die vermaakbedryf begin.

Hy het oudisies afgelê vir al sy pa se flieks en eindelik die rol van die rugbyheld Joel Stransky losgeslaan in Invictus (2009), die fliek wat Clint gemaak het oor die Wêreldbekerrugbytoernooi in 1995.

Vroeër het Scott deeltydse werk gedoen om sy rekenings te betaal.

“Ek moes kroegman speel, karre parkeer en konstruksiewerk doen. Hollywood is ’n tawwe plek.”

MOENIE MY SEXY NOEM NIE

Sy naam verskyn dikwels op die lyste van sexyste mans. Dié titels is laf, meen hy.

“Eerlikwaar, ek is net een van die ouens. En daar is soveel mooi ouens in Kalifornië.”

John Boyega en Scott Eastwood uit een van die tonele in Pacific Rim: Uprising. Foto: IMDB.com.

En daai lyf? Hy was altyd aktief, sê Scott. “My pa het my al op ’n jong ouderdom in die gimnasium gekry.”

RUSTIGE OU

Hy weier om in Los Angeles te bly. Sy woonplek is die Kaliforniese stad San Diego, waar die lewe stadiger is.

“Ek gaan LA toe, werk hard, en kom dan terug en leef teen ’n ander tempo. In my 20’s het ek baie mense hoor sê: ‘Wanneer ek ouer is, gaan ek dit en dat doen,’ en ek was paniekbevange. Ek het gesê: ‘Wat bedoel jy, wanneer jy ouer is? Die lewe gebeur nou.’ Dit het my so op hol gehad, ek het besluit ek trek; ek bly nie in LA nie.”

Fliekfeite
  • Pacific Rim Uprising speel in die toekoms af waar ’n oorlog woed tussen die mensdom en monsters wat Kaiju heet. Om terug te veg, skep mense Jaegers – reuserobotte wat deur vlieëniers beheer word. Die opvolgfliek gaan oor Jake Pentecost (John Boyega), wie se pa (Idris Elba) dood is in die oorlog teen die Kaiju in die eerste fliek. Jake raak die pad byster en word by die misdaadwêreld betrek, maar kry ’n kans om die mensdom te red.
  • Pacific Rim het amper $500 miljoen – toe R4,8 miljard – oor die wêreld heen gemaak.
  • Michael B. Jordan is vir die rol van Jake oorweeg, maar hy was te besig met sy rol as Erik Killmonger in die superheldfliek Black Panther.
  • John Boyega was een van die sewe vervaardigers van Pacific Rim Uprising.
Bronne: Hauteliving.com, Dailymail.co.uk, People.com, IMDB.com; Foto's: Gallo Images/Getty Images, Warner Bros