Mark Felt: The Man Who Brought Down the White House

Drama.

Met Liam Neeson, Diane Lane en Marton Csokas.

Regisseur: Peter Landesman. 10-12OT.

Foto: Sony Pictures

Waaroor gaan dit?

Die meeste mense het ’n vae idee wat die Watergate-skandaal behels het, en dit het ­sinoniem geword met ’n politieke knoeiery.

In die vroeë 1970’s, teen die einde van die Republikein Richard Nixon se eerste termyn as Amerikaanse president, is by die Demokrate se hoofkwartier in die Water­gate-kompleks in Washington, D.C., ingebreek.

Nixon het die opdrag vir die inbraak gegee en sy mense het dit daarna probeer toesmeer. 

Mark Felt (Neeson), die destydse adjunk­direkteur van die Amerikaanse Federale Speurdiens (FBI), is een van die bekendste fluitjieblasers in die geskiedenis.

Foto: Sony Pictures

Die inligting wat hy onder die skuilnaam Deep Throat laat uitlek het, het daartoe gelei dat Nixon in ’n staat van beskuldiging geplaas is en later bedank het.

In die rolprent word die maande ná die inbraak verken, die gekniehalterde FBI-ondersoek en Felt se besluit om die regte ding te doen.

Is dit goed?

Neeson, wat ’n blaaskans van aksieflieks neem, is uitstekend as die gefolterde Felt, terwyl byspelers soos Lane, Csokas, Josh Lucas, Tony Goldwyn en Tom Sizemore sterk steun bied.

Die fliek is boeiend, spannend en insiggewend. Dis beslis die kyk werd. – Bianca Lambrechts 

WAT WYS NOG?

LIFE OF THE PARTY

Komedie.

Melissa McCarthy, Gillian Jacobs en Julie ­Bowen. Regisseur: Ben Falcone. 13DTSG.

Het op 18 Mei begin. 

Foto: Warner Bros

Toe haar man haar skielik soos ’n warm patat los, besluit Deanna (McCarthy, saam met Heidi Gardner op die foto) om universiteit toe te gaan nadat sy jare lank huisvrou gespeel het.

Sy beland by dieselfde universiteit as haar dogter, wat glad nie daarmee ingenome is om saam met haar ma klas te loop nie.

Deanna ervaar die kampuslewe en word ’n uitgesproke student wat haarself herontdek. 

PLEASE STAND BY

Komediedrama.

Met Dakota Fanning, Toni Collette en Alice Eve. Regisseur: Ben Lewin. 10-12OT.

Begin op 25 Mei. 

Foto: Magnolia Pictures

’n Jong outistiese vrou (Fanning, foto) hardloop van haar ver­sorger weg, want sy wil aan ’n skryfkompetisie deelneem.

Daarvoor moet sy die gees van Mr. Spock volg op haar reis na Hollywood om haar Star Trek-draaiboek van 500 bladsye af te lewer.

DVD’s

THOR: RAGNAROK 

Aksie-fantasie. 2017. 125 MIN. 13TG.

Foto: Marvel Entertainment

Thor (Chris Hemsworth) reis die heelal plat op soek na die Infinity Stones.

Toe hy hoor hy het ’n psigotiese ouer suster, Hela (Cate Blanchett), haas hy hom terug huis toe.

Maar sy suster verslaan hom en verban hom na die planeet Sakaar, waar hy as gladiator veg. Hy kom sy vriend en mede-Avenger Bruce Banner, oftewel Hulk (Mark Ruffalo), daar teë, maar ook sy aarts­vyand en broer, Loki (Tom Hiddleston).

Die vorige flieks, Thor (2011) en Thor: The Dark World (2013), was ernstige sages, maar Ragnarok is ’n speelse fliek waarin Thor in verskeie situasies beland waar die grap ten koste van hom is.

Al sorg dit vir boeiende vermaak, ondermyn dit enige gevoel van die gevaar van die verwoesting wat Hela saai.

Tog is dit ’n plesier om die twee vreemdste Avengers as ’n komiese duo te sien. – Sandra Visser 


BLADE RUNNER 2049

Wetenskapsfiksieriller. 2017. 163 MIN. 16TNG.

Foto: Warner Bros

Dié opvolg van Blade Runner (1982) is iets seldsaams: ’n waardige opvolg wat die atmosfeer en agtergrond van die oorspronklike fliek getrou herskep, maar iets betekenisvols by die storie voeg sonder om sy trefkrag te verminder.

Dit is 30 jaar sedert Rick Deckard (Harrison Ford) – ’n polisieman wat androïede, oftewel “replicants”, moet vastrek – verdwyn het saam met Rachael (Sean Young), die replicant op wie hy verlief geraak het.

In ’n Los Angeles wat uitmekaarval, is Agent K (Ryan Gosling, foto) nog ’n polisieman wat replicants jag wat nie mense se slawe wil wees soos wat hulle geprogrammeer is nie.

Toe K een van hulle na ’n afgeleë plaas volg, doen hy ’n skokontdekking wat robotte en mense se lot kan verander.

Aanhangers van die oorspronklike fliek sal beloon word met ’n intelligente, logiese uitbreiding van dié rolprent. – Sandra Visser 


DVD’S verskaf deur Videorite, Vishoek. Vind hulle op Facebook.