Raaiselkind

****

Drama. Met Diaan Lawrenson, Ian Roelofs, Anrich Herbst, June van Merch en Deon Lotz. Regisseur: André Velts. Begin op 16 Februarie. 13G.

Waaroor gaan dit?

Outisme is ’n ontwikkelingsteuring wat in misterie gehul is. Die uitwerking daarvan op ouers en geliefdes is onmiskenbaar. En omstanders in winkels of op straat sal nie verstaan nie, tensy hulle insae in so ’n gesin se binnewerking het.

Die skrywer van die gelyknamige roman, Annelie Botes, skroom nie om op tone te trap nie, of dit nou oor dobbel, bloedskande of ras is. Daarom is haar boeke so treffend. Hier spin sy ’n verwikkelde storie uit. Dis rou en eerlik en vra: Wat sou jý gedoen het?

Alexander (Roelofs) is outisties. Op nege word hy dood in die bad aangetref. Al ander mens wat toe in die huis was, is sy ma, Ingrid (Lawrenson).

Sy word in hegtenis geneem en kol. Heselmann (Lotz) ondervra haar, takel haar af . . . En telkens duik die vraag op: Het sy hom vermoor?

En as sy het, wie moet daarvoor verkwalik word?

Is dit getrou aan die boek?

Die fliek is ’n baie getroue weergawe van die boek met plek-plek veranderings wat die gegewens betref en waar dit afspeel – nie op Uniondale in die Klein-Karoo nie, maar die kusdorp Waenhuiskraal, grys onder wolke.

“Hulle het wonderlike werk met die fliek gedoen,” het Annelie verlede jaar by die première van Raaiselkind op die kykNET Silwerskermfees in Kampsbaai gesê.

Sy is baie gesteld op egtheid. Die skrywer het haarself selfs destyds in ’n sel in die St. Albans-gevangenis naby Port Elizabeth laat toesluit sodat sy kon skryf wat Ingrid agter tralies sou ervaar.

Hul spel laat ons regop sit . . .

Van Merch as Miriam, wat Alexander help versorg, se spel is hartverskeurend. Sy probeer nie net hierdie geliefde oppaskind van haar “red” nie, maar ook Ingrid en haar huwelik met Günter (Herbst) – min huwelike oorleef outisme.

Roelofs as hul outistiese seun is ’n openbaring en reeds genoeg rede om die fliek te ondersteun. Hy het spesiale vermelding gekry op die Silwerskermfees.

Is dit die kyk werd?

Baie mense wat dit reeds gesien het, beskou dit as ’n triomf. Ander meen dit lyk te gestroop en die spel is oordrewe. Dis geen fliek om vir ontspanning te kyk nie. Dit wil konfronteer en die kyker ongemaklik laat rondskuif.

Die rolprent sleur jou van die begin tot die einde mee met Alexander wat as baba dag en nag onophoudelik huil (gespeel deur Léa Velts, die babadogter van die regisseur se broer).

Die ouer seun wat skree, kap, goed rondgooi en onvanpas lag, dryf ’n mens tot raserny. Party tonele voel te lank en die “kleur” van die fliek lyk uitgewas, maar dis juis bedoel om so mistroostig te wees. Elke raampie is soos ’n verbleikte skildery.

Die huis en omgewing is ook karakters in die fliek, en die see speel saam met die karakters se gemoed – rustig of onstuimig. Elke venster kyk op die see uit, en skyn die son, bied dit hoop. Die wind waai saam met ’n onrustige siel.

Jy moet jou aan alles oorgee en nie haastig wees om uit die teater te stap nie. Wat dié fliek beslis regkry, is om begrip te smeek. Daarom is dit so ontroerend. Punt uit 5:4.

– Pieter van Zyl

I, Tonya

****

Biografie. Met Margot Robbie, Sebastian Stan, Allison Janney, Caitlin Carver en Julianne Nicholson. Regisseur: Craig Gillespie. Begin op 16 Februarie. 16GST.

Margot Robbie vertolk die rol van die ysskaatskampioen Tonya Harding in die biografiese drama I, Tonya, wat in ’n geloof­waardige dokumen­têre styl verfilm is.

Dié fliek kan jou verwar. Jy sal dalk dink jy kyk na ’n dokumentêr, maar dis eintlik ’n rolprent oor die ware lewensverhaal van Tonya Harding, een van Amerika se beste ysskaatskampioene.

Haar droom om haar land in die Olimpiese Spele te verteenwoordig lê aan skerwe ná ’n baie groot fout of tragedie, na gelang van hoe jy dit beskou. Tonya (Robbie) is vir ’n groot deel van die fliek ’n slagoffer van haar beledigende ma, LaVona Golden (Janney), in wie se oë niks wat sy doen goed genoeg is nie.

Later word sy die slagoffer van mishandeling deur haar man, Jeff Gillooly (Stan), en nog later die Amerikaanse publiek se “slagoffer” toe hulle haar haat oor die groot “voorval”, soos dit in die fliek genoem word – haar en haar man se betrokkenheid by ’n aanval op haar teenstander, Nancy Kerrigan (Carver).

Tonya se verhaal word so gebalanseerd vertel dat jy onseker is met wie jy moet simpatiseer en of sy en almal in haar lewe dit nie bloot ongelukkig getref het nie. Dis ’n pluimpie vir dié fliek in die styl van ’n dokumentêr dat jy dink dis die werklike mense pleks van akteurs op die silwerdoek en ’n ware uitbeelding pleks van ’n Oscar-benoemde rolprent.

Die karakters praat regstreeks met die kamera en die gehoor terwyl hulle hul weergawe van die gebeure gee. Allison se Golden Globe vanjaar vir die beste vroulike byspeler vir haar rol in dié fliek was welverdiend. Haar spel as die boelie van ’n ma is so oortuigend, dit laat ’n mens soms ongemaklik voel.

Die fliek is nie vir kykers wat ’n gelukkige einde soek nie; dit handel immers oor ’n werklike vrou en is op ’n ware verhaal gegrond. Dit beeld die lewe uit soos dit is – soms snaaks; soms hartseer – en wys hoe ’n reeks besluite jou lewe kan omvergooi of van jou ’n kampioen maak.

Sebastian Stan oor die werklike Jeff wat hy in die fliek speel

“Die draaiboek is goed geskryf en dit was ’n groot pluspunt, want dit was ’n gids vir my. Maar ja, omdat hy ’n werklike mens is, wou jy jou karakter op die waarheid grond. Ek het agtergekom hy was regtig lief vir haar en het sy bes gedoen om in haar lewe te bly, al was dit miskien nie op ’n goeie manier nie.”

Kykers kan hulle maklik misgis en glo die akteurs Margot Robbie en Sebastian Stan is die werklike Tonya en Jeff Gillooly.
Jeff Gillooly.
Tonya Harding.

En oor sy ontmoeting met die werklike Jeff

“Om hom te ontmoet het regtig baie gehelp, want ek het gevoel ek kon sien waar hy in daardie stadium van sy lewe was, hoe hy gelyk het, hoe hy opgetree het en wat sy ingesteldheid was.

– Colin Hendricks

DVD’s

THE LOST CITY OF Z

Charlie Hunnam as Percy Fawcett.

Bioprent. 2016, 135 MIN, 13G

****

Dié outydse epiese rolprent handel oor die lewe van die Britse verkenner Percy Fawcett (Charlie Hunnam).

Hy begin obsessief na ’n langverlore antieke beskawing in die Amasone soek nadat hy potskerwe ontdek het op ’n ekspedisie in 1906 om die grens tussen Bolivia en Brasilië te karteer.

Die stadige tempo kan party kykers frustreer, maar Sienna Miller se spel as Fawcett se vrou en Tom Holland s’n as sy oudste seun is puik. Die pragtige fotografie, ’n intelligente draaiboek en ’n roerende slot wat jou sal bybly, maak dié fliek die kyk werd.

– Sandra Visser 

FUN MOM DINNER

Komedie. 2017, 138 MIN, 16DT

**

Vier ma’s van voorskoolse kinders (Katie Aselton en Bridget Everett, foto, en Toni Collette en Molly Shannon) kom nie almal met mekaar oor die weg nie. Dan besluit hulle op ’n prettige aandjie uit sonder hul kinders.

Hoe meer hoenderkop hulle raak, hoe meer chaos saai hulle.

Dis ’n afgewaterde nabootsing van Bad Moms (2016) en selfs die talentvolle Collette en Shannon kan nie dié misoes met sy swak storie en gedwonge komedie red nie. Hou verby!

– Chez Pool

FOTO'S: GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, FACEBOOK, IMDB; DVD’S VERSKAF DEUR VIDEORITE, VISHOEK