Stroomop 

Avontuurfliek.

Met Donnalee Roberts, Simoné Nortmann, Chanelle de Jager, Ilse Klink en Carla Classen. Regisseur: Ivan Botha. Begin op 9 Augustus.

Die riviergids Guy (Armand Aucamp, links) neem (van naaslinks) Lana (Donnalee Roberts), Nixie (Carla Classen), Adrie (Chanelle de Jager), ­Diona (Ilse Klink) en Vivian (Simoné Nortmann) vir “avontuurterapie” op die Oranje­rivier. Foto: The Film Factory

Waaroor gaan dit?

Dr. Lana Marais (Roberts) word drie maande se verpligte terapie voorgeskryf nadat die dood van een van haar pasiënte haar ontsenu en haar werk beïnvloed het.

In die terapiesessies ontmoet sy vier ander uiteenlopende vroue: Vivian (Nortmann), Adrie (De Jager), Diona (Klink) en haar dogter, Nixie (Classen). Kort voor lank is die vyf vroue in ’n rubberbootvaart op die Oranjerivier as deel van hul “avontuur­terapie”.

Maar toe dinge begin skeefloop, moet elke vrou diep delf om nie net haar omgewing baas te raak nie, maar ook haar innerlike struwelings te oorwin.

Wie sal van dit hou?

As jy die akteurspaar Donnalee Roberts en Ivan Botha se lokettreffers Pad na Jou Hart (2014) en Vir Altyd (2016) geniet het, sal jy beslis Stroomop se lof besing. 

Die storielyn is egter meestal voorspelbaar, en as jy nie inkoop in die karakters en hul stryd nie, sal ’n paar tonele langdradig voel.

Die fliek se ligte vermaak raak elke dan en wan aan dieper temas soos depressie en posttraumatiese stressteuring.

Stroomop is geensins ’n fliek wat jou dae lank sal laat tob nie, maar dit sal moontlik vir Jan Alleman help om ’n bietjie selfondersoek toe te pas.

Die vyf vroue sal die wrywing tussen hulle moet laat vaar as hulle die wildernis wil oorleef. Die omstandighede dwing die vroue om dieper te delf en hul vrese te oorwin. Foto: The Film Factory

Is dit die kyk werd?

Die akteurs se toneelspel is verreweg die sterkste element in dié fliek en kykers sal hulself maklik in sekere tonele kan raaksien.

Hoewel die avontuur vir die meeste fliekgangers onbekend sal wees, is die natuurtonele asemrowend verfilm.

Dawie de Jager se klankbaan sal verder verseker dat kykers die verlangde emosies opdiep. Dis veral die plaaslike sangeres Janie Bay wie se deurlopende neurie- en agtergrondsang die musiek werklik treffend maak.

Haar weergawe van die trefferliedjie You Are My Sunshine sal kykers bybly.

Dis duidelik dat Ivan in sy debuut as ­regisseur beslis die nodige vaardigheid besit om ’n boeiende storie te vertel.

Wat wys nog?

Hotel artemis 

Riller.

Met Jodie Foster, Sterling K. Brown, Brian Tyree Henry en Jeff Goldblum. Regisseur: Drew Pearce. 16TDG. 

Foto: Global Road Entertainment

Die storielyn

Die draaiboekskrywer Drew Pearce sit die eerste keer in die regisseurstoel vir dié futuristiese fliek, wat in 2028 in Los Angeles afspeel.

Die rower Sherman (Brown) bel die verpleegster Jean (Foster) nadat ’n bankroof skeefgeloop het en sy broer (Henry) ernstig beseer is.

Jean bestuur Hotel Artemis, ’n verskuilde hospitaal wat hoofsaaklik misdadigers help. Toe die “Wolf King” (Goldblum) op dieselfde aand mediese sorg benodig, begin dinge by dié aardige hospitaal moeilikheid veroorsaak.

Is dit goed?

Die aksietonele is wreed, maar wyd verspreid, en spanning word oorwegend deur die goeie akteurspel geskep.

Geen karakter is werklik die held van die storie nie aangesien almal net in hul eie belang optree.

Die hoofkarakter is eintlik die raaiselagtige Hotel Artemis self en kykers word stelselmatig meer oor dié hospitaal se reëls, geskiedenis en pa­siënte vertel.

Die storielyn hou die kyker deurlopend geïnteresseerd, maar het helaas nie genoeg skop om ander aksieflieks ’n blouoog te gee nie.

DSTV Box Office 

Wonderlus 

Drama. 2018. 120 MIN. 16ST

’n Groep vriende kom op die platteland vir ’n troue bymekaar. Maar dinge rafel erg uit in die loop van die aand.

Pieter (Edwin van der Walt) en sy bruid (Mila Guy) is ’n jong, naïewe paartjie wat op trou staan. Vir hulle voel dit na ’n veilige besluit en ’n geleentheid om van hul verlede te ontsnap.

Maar hul groot aand ontspoor toe ou liefdes en nuwe kennisse hul lewe betree. Die volgende oggend moet hulle saam met hul pelle probeer uitpluis wat die vorige aand gebeur het.

Foto: KykNet Films

Die verhaal word afwisselend tussen die hede en terugflitse uit die verlede vertel en die resultaat is boeiend.

Die fliek bied ’n goeie balans tussen drama en komedie, die dialoog is vlymskerp en die spel staan uit. Talle jong mense en hul vriende sal hulself in die karakters herken. Wonderlus, met sy siniese blik op die liefde, is nog ’n vars briesie in die Afrikaanse rolprentbedryf.

  • Maar wees waarsku: Dit bevat seks en sterk taalgebruik.

–Gys Visser

DVD

Fifty Shades Freed

Romantiese drama. 

2018. 107 min. 18TNSG. OOK OP DSTV se BOX OFFICE.

Foto: Universal Pictures

Die gewilde hygreeks gegrond op E.L. James se romans eindig op ’n antiklimaks met die derde aflewering.

En die kinky seks wat die wêreld so op hol gehad het toe die eerste boek in 2011 uitgereik is, het nou so hoofstroom geword dat dit alledaags is – en as gevolg daarvan het die reeks sy fut verloor.

As jy met ’n 2018-­ingesteldheid na Fifty Shades Freed kyk, sien jy die karakters se emosionele kinderagtigheid raak. En die storielyn is papierdun.

Die intrige word hoofsaaklik verskaf deur die feit dat Anastasia (Dakota Johnson) swanger raak en die vloermoer wat Christian (Jamie Dornan) gooi – wat aan dié van ’n prikkelbare kleuter herinner.

Los dié een vir ’n aandjie tuis saam met vriendinne – jy sal niks mis as jy die vertrek verlaat om die volgende bottel chardonnay te kry nie.

–Liz De Villiers