Colossal

Fantasie-komediedrama. Met Anne Hathaway, Jason Sudeikis, Dan Stevens en Tim Blake Nelson. Regisseur: Nacho Vigalondo. 16DTG.

Waaroor gaan dit?

Gloria (Hathaway), ’n werklose skrywer met ’n drankprobleem, keer terug na haar tuisdorp om haarself te probeer regruk. Daar hervat sy ’n vriendskap met ’n pel uit haar kinderjare, Oscar (Sudeikis), wat vir haar werk in sy kroeg aanbied – waar Gloria weer, nauurs, voor die drank swig.

Op pad huis toe een aand val sy in haar dronkenskap rond op ’n speelterrein wat sy as kind besoek het. Op daardie presiese oomblik veroorsaak ’n reusagtige monster in Suid-Korea ’n chaos en die dood van duisende mense. Gloria besef kort voor lank daar’s ’n verband tussen haar drinkery, die speelterrein en die monster.

En dan besef Oscar dit ook . . .

Anne Hathaway het ’n monster van ’n drankprobleem in Colossal.

Is dit goed?

Hierdie vreemde kombinasie van persoonlike drama, Oosterse monsterfliek, swart komedie en spanningsverhaal voel aanvanklik nogal vreemd, maar eindelik oorrompel dit jou, vernaam danksy die sterk spel deur Hathaway en Sudeikis.

Maar jy wonder: Is dit nodig dat duisende Koreane moet sterf elke keer as Gloria haar nie gedra nie? Aanbeveel as jy lus het vir iets anders.

  • WILLEM MÖLLER

Ook op die silwerdoek

BLOCKERS

Van links is Ike Barinholtz, Leslie Mann en John Cena in ’n toneel uit die gewaagde komedie Blockers.

Komedie. Met Leslie Mann, John Cena en Kathryn Newton. Regisseur: Kay Cannon. 16DSNT.

Waaroor gaan dit?

Dis matriekafskeid en jou dogter los haar skootrekenaar en WhatsApp-profiel oop. Die een ná die ander suggestiewe emoji pop op die skerm op: ’n eiervrug, ’n oliebol, vingertekens . . . En dan “#Sexpact2018”.

Dis duidelik sy en haar vriendinne wil hul maagdelikheid vaarwel toeroep op hierdie aand tussen kindwees en volwassenheid. Wat sou jy doen?

Wel, hierdie drie ouers – Lisa (Leslie Mann van How to Be Single), Mitchell (WWE se John Cena) en Hunter (Ike Barinholtz van Bad Neighbors) – sal die wêreld versit om ’n stokkie voor dié plan te steek.

Is dit goed?

Die jong akteurs vertolk ’n groepie Millenniërs wat baie meer oopkop oor seks dink as hul ouers; veral die jong vroue se benadering is verfrissend en spreek van bemagtiging.

Daar is tye dat dit ’n bietjie te erg politiek korrek aangedik word. Dis ’n tienersekskomedie vir dié nuwe generasie; dít wat Porky’s, Revenge of the Nerds en American Pie vir vorige geslagte was.

Dit vat ’n rukkie om daarmee gemaklik te voel om jongelinge in sulke erotiese situasies te sien, maar dit word deur die ouer garde se manewales gebalanseer.

Maak jou gereed vir toilethumor, harige boude, ’n geswets en eksplisiete naaktheid.

As dit iets is wat jy saam met jou kinders kan gaan kyk sonder om ineen te krimp, kan dit ’n prettige aanknopingspunt wees om openlik oor lakenkaskenades te praat.

  • PIETER VAN ZYL
Foto's: NEON, UNIVERSAL PICTURES