Dis een van die grootste silwerdoektreffers nóg – ’n verhaal oor twee susters, hul liefde vir mekaar en hul innerlike krag.

Dit het ’n generasie aanhangers meegevoer en besiel met die wete: Geen vrou het ’n ridder op ’n wit perd nodig om haar te red nie. Sy kan vir haarself sorg, dankie.

Daarom was dit glad nie verbasend dat Disney ’n opvolg van die gewilde Frozen sou maak nie. En oud en jonk kon skaars wag dat dit uitgereik word.

Voorafbesprekings vir Frozen II se openingsnaweek in Amerika het dié van Toy Story 4, Incredibles 2 en The Lion King geklop.

“’n Openingsnaweek van $100 miljoen (R1,5 miljard) is ’n uitgemaakte saak,” het die mediaontleder Paul Dergarabedian voorspel kort voor die fliek op 22 November uitgereik is.

Toe oortref dit alle verwagtings en laat in daardie naweek van Vrydag tot Sondag R1,9 miljard in Amerika inrol en R5,4 miljard wêreldwyd.

Daarmee het dit ’n rekord verbeter vir die tekenprent wat die meeste geld nóg wêreldwyd in sy openingsnaweek gemaak het. Ja, Anna, Elsa, Olaf, Kristoff en Sven is terug, nou ook in Suid-Afrika, met ’n splinternuwe avontuur.

WAAROOR GAAN DIT?

“As Frozen die gelukkige einde was, is Frozen II die dag ná die gelukkige einde,” sê die mederegisseur Jennifer Lee.

“Ons het besef daar is vrae wat bly talm. Wat sal Anna doen noudat sy alles het wat sy altyd wou hê? En die grootste vraag van almal: Waar kom Elsa se towermagte vandaan?”

In Frozen II hoor Elsa ’n roepstem wat niemand anders kan nie. Sy probeer dit ignoreer, maar dit hou aan en diep brokkies uit die verlede op.

Dit beloof om vir haar antwoorde te gee oor waarom sy is soos sy is.

Sy kan nie anders as om daardie stem te probeer vind nie. Maar die antwoorde wat sy kry, hou ’n bedreiging vir haar koninkryk in.

Daarom vertrek Elsa saam met Anna, Kristoff, Olaf en Sven op ’n reis na die verre noorde, na towerwoude en donker oseane.

DIE LIEDJIES

“Let It Go” is die treffer wat ook in duisende ouers se koppe bly draai het. En as die Oscarbekroonde liedjieskrywers die man-en-vrou-span Kristen Anderson-Lopez en Robert Lopez hul sin kry, sal die Frozen II-temalied, “Into the Unknown”, nou daardie plek inneem.

Die egpaar het sewe nuwe liedjies vir Frozen II geskryf, met hul dogters, Katie (14) en Annie (10), as inspirasie. “Anna en Elsa word groot,” sê Kristen.

“En ons eie dogters word ook groot. Hulle was die inspirasie vir die keuses wat ons met Frozen gemaak het, en ook vir dié van Frozen II. Namate hulle selfstandiger raak, hul eie pad moet loop en hul eie krisisoomblikke moet hanteer sonder dat ons hulle kan beskerm, het dit ’n nuwe era van ouerskap vir ons ingelui wat ook in die rolprent neerslag vind.”

Foto: Gallo Images/Getty Images
Idina Menzel sing “Into the Unknown”. Van die liedjies op die klankbaan word deur die akteurs gesing, asook deur die musiekgroepe Panic! at the Disco en Weezer en die sanger Kacey Musgraves. Foto: Gallo Images/Getty Images

Idina Menzel sing “Into the Unknown”. Van die liedjies op die klankbaan word deur die akteurs gesing, asook deur die musiekgroepe Panic! at the Disco en Weezer en die sanger Kacey Musgraves.

DIE ROLVERDELING

Idina Menzel as Elsa

Foto: Gallo Images/Getty Images
Idina Menzel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dié Tony-bekroonde aktrise, sangeres en liedjieskrywer het in ’n lang rits Broadway-produksies verskyn voor Frozen haar wêreldberoemd ge-maak het. “Dis verfrissend om ’n fliek oor jong vroue te sien wat nie oor romantiese liefde gaan nie,” sê Idina (48). “Ek dink dis aansteeklik om twee jong vroue te sien wat kanse waag en mekaar aan- spoor om hul beste self te wees.”

Kristen Bell as Anna

Foto: Gallo Images/Getty Images
Kristen Bell. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die aktrise (39) wat in The Good Place en Veronica Mars gespeel het, hervat haar rol as Elsa se suster. Haar dogters, Lincoln (6) en Delta (4), het vooraf “alles” oor die nuwe fliek geweet, bieg sy.

“Ons het so lank aan die fliek gewerk; langer as twee en ’n half jaar. Ek het huis toe gekom nadat ek ’n liedjie geleer het en dit saans vir hulle gesing. Dan het ek vir hulle nuwe aspekte van die storie vertel en besef ek moet versigtig wees.”

Frozen II se storie was ’n digbewaarde geheim.

Jonathan Groff as Kristoff

Foto: Gallo Images/Getty Images
Jonathan Groff. Foto: Gallo Images/Getty Images

Jonathan (34) was in sy noppies toe hy ’n rol in dié Disney-fliek kry. “As kind het ek altyd na my kamer gegaan en my verbeelding gebruik om Disney-flieks op my eentjie te laat afspeel,” vertel hy.

“Die grootste openbaring was dat dit dieselfde is om aan ’n Disney-fliek te werk. Dis net jy alleen, in afsondering. Ek het nooit met enige van die ander akteurs saamgewerk nie,” vertel hy oor die stemopnames vir sy karakter.

Josh Gad as Olaf

Foto: Gallo Images/Getty Images
Josh Gad. Foto: Gallo Images/Getty Images

Josh (38) keer as die sneeuman terug en hy kan nie uitgepraat raak oor die fliek nie. “Ek het gelag, ek het na my asem gesnak, ek het handegeklap en gehuil,” het hy ná ’n vertoning vir die akteurs op Instagram geskryf.

“Frozen II is in baie opsigte puik en verrassend. ’n Mens het Anna en Elsa nog nooit so gesien nie. Ek kan nie wag om die fliek met my dogters en die wêreld te deel nie.”

Frozen in syfers

1,8 miljard: Soveel keer is “Let It Go” se musiekvideo al op YouTube gekyk.

R2,25 miljard: Die eerste Frozen se geraamde produksiebegroting. 

R19,05 miljard: Soveel het Frozen wêreldwyd by die loket verdien.

3,2 miljoen: Soveel Frozen-DVD’s en -Blu-rays is op die dag van hul uitreiking in Maart 2014 deur Amazon.com verkoop – die beste verkope nóg van ’n DVD vir kinders in Amerika by dié aanlyn winkel.

6 maande: Dis hoe lank die eerste fliek in teaters bly draai het. Flieks word gewoonlik net drie tot vier weke vertoon.

R15 miljard: Dis die waarde van Frozen-speelgoed en -handelsware wat in 2013 in Amerika verkoop is.

2,7 miljoen: Die verkoopsyfer vir Frozen se klankbaan in 2014 in Amerika.

R75 000: Die beginprys van ’n Adventures by Disney-toer van die plekke in Noorweë waaruit die animasiekunstenaars hul inspirasie geput het.

3 miljoen: Soveel Frozen-rokke is in 2014 in Noord-Amerika verkoop.

EKSTRA BRONNE: DISNEY.CO.ZA, RD.COM, VULTURE.COM, UPI.COM, INSTAGRAM.COM, EONLINE.COM, CINEMABLEND.COM, COLLIDER.COM, DIGITALSPY.COM, FORBES.COM, BUSINESSINSIDER.COM, THEGUARDIAN.COM, EW.COM, INDEPENDENT.CO.UK, HUFFPOST.COM, VARIETY.COM, DAILYMAIL.CO.UK, SLASHFILM.COM, DENOFGEEK.COM