Sien ’n mens hom op die kassie of wye doek, flits iets in sy ysblou oë wat jou laat kyk en weer kyk. Iets ontwykends wat jou aan die wonder hou; iets byna raaiselagtigs.

Ontmoet jy Jacques Bessenger in lewende lywe, word die enigma binne oomblikke mens. Sy oë kreukel gemoedelik en hy verklaar met ’n laggie: “Ek beskou myself nie as geheimsinnig nie.”

Dan erken die akteur: “Dis waarskynlik ’n kenmerk wat ek het en wat ek in my werk na vore bring. Mense sê dit vir my.”

Hier in die koffiekroeg in die V&A Waterfront in Kaapstad lyk hy in sy geskeurde jeans en denimhemp veel meer ontspanne as toe hy tot onlangs as die berekende dr. Jaco Kruger in die kykNET-regsdrama Fynskrif op die kassie te sien was.

Dis dalk dié dat aanhangers ten spyte van die groot sukses van dié reeks hom nie maklik op straat vir ’n geselsie of selfie voorkeer nie, reken Jacques (38).

“Hulle sal eerder in my rigting wys en sê: ‘Daar’s daai ou.’ ” Dis nou daardie ou wat ons in 2003 as die dwelmverslaafde karakter Mossie in die kykNET-reeks Song vir Katryn leer ken het.

Talle kykers sal die gefolterde Mossie nooit vergeet nie.

Vyftien jaar later skyn Jacques se ster helderder as ooit. Hy is onlangs vir ’n Huisgenoot-Tempo-toekenning vir akteur van die jaar benoem vir sy spel as die Deense dokter Pieter van Meerhof in die rolprent Krotoa.

Daarby is hy van 19 Oktober af op die groot doek te sien in die musiekoorlogsdrama Kanarie, wat in 1985 afspeel.  In dié fliek wat resensente laat regop sit, vertolk hy die rol van die saggeaarde ds. Engelbrecht wat ’n groot indruk maak op die jong manne van die weermag se sanggroep, die Kanaries; veral op die 18-jarige Johan Niemand (gespeel deur Schalk Bezuidenhout).

Johan twyfel aan homself en sy wêreld toe hy gevoelens vir ’n medekoorlid begin koester. “Dit was vir my nogal uitdagend om sy goedhartigheid te wys sonder om hom as irriterend of onrealisties uit te beeld,” sê Jacques oor sy rol as predikant.

Kykers pleit reeds vir ’n tweede seisoen van Fynskrif ná die sukses van die eerste ronde drama en intrige, en Jacques vertel dit was vir hom net so lekker om aan die reeks te werk. Hy kon veral kreatief woeker met die uitbeelding van die verhouding tussen sy narkotiseurkarakter, Jaco, en dié se prokureurvrou, Lara (gespeel deur Tinarie van Wyk-Loots).

“Hulle maak albei foute, maar die een sit nie op die ander een se kop nie. Hulle gee vir mekaar en hul dogter ruimte om onafhanklik te wees,” verduidelik hy. Erken hy iets van dié karakter in homself? “Jaco is meer in beheer en standvastiger as ek. Ek is soms net so beheers, maar ander kere glad nie.” Hoewel sy karakter ’n ondersteunende wederhelf is, is Jacques enkellopend.

Teenoor Tinarie van Wyk-Loots in die kykNET-regsdrama Fynskrif. Foto: kykNET

Die afgelope tyd hou sy werk hom so besig dat hy nie tyd het vir die liefde nie, sê hy. “Verhoudings is wonderlik, maar wanneer dit nie werk nie, werk dit nie.” Dan voeg hy by: “Ek het baie vriende en kry steun van hulle almal, maar ek is ook iemand wat op my eie kan wees.” Die enkelloper was as kind teruggetrokke, “maar altyd lief vir perform’’, vertel hy van sy jeugjare in Kempton Park.

Hy het graag karakters uit kinderstories nageboots en sy jonger broer, Henco (nou 35 en ’n fiksheidsinstrukteur), moes teen wil en dank saamspeel. Jacques het ook ’n ouer broer, Mauritz (40), wat in die boubedryf werk en ’n jonger suster, Sonelle (30), wat haar brood in die bemarkingswêreld verdien.

“Ek het die arme Henco gedwing om tonele van die TV-reeks Rompelstompel saam met my op te voer,” vertel Jacques met ’n laggie. “Ek het natuurlik Dirkie Dumela gespeel omdat hy wyd belese was; my boetie moes Pokkelpensie speel wat alles voor hom verorber het.”

Op nege het Jacques die eerste keer sy slag voor ’n gehoor gewys tydens ’n klaskonsert by die Laerskool Mooifontein in Kempton Park. Die onderwyseres was so beïndruk met sy spel as ’n sielkundige wat hipnose toepas dat sy hom aangemoedig het om aan ’n kunswedstryd deel te neem.

Twee jaar later het hy op sy skool se rugbyveld rondgestap toe ’n vel papier teen sy been vaswaai. “Dit was ’n advertensie van Sonja Myburg se dramaskool,” vertel Jacques.

Sy ma, Estelle Kruger (63), tot onlangs nog ’n onderwyseres vir verstandelik gestremde kinders, het in haar jong dae self daarvan gedroom om ’n aktrise te word, maar haar pa het ’n stokkie daarvoor gesteek.

Toe Jacques vir sy ma die advertensie wys, het sy hom dadelik by die dramaskool ingeskryf. Hy het so goed gevaar, Sonja het voorgestel hy studeer ná sy matriekjaar in 1998 drama aan die Tshwane-universiteit vir Tegnologie in Pretoria. “Dit was my eerste en enigste opsie,” sê Jacques.

Kort nadat hy sy graad verwerf het, het hy sy eerste TV-rol in Song vir Katryn losgeslaan. Daarna het hy die rol van die reeksmoordenaar Renier in die SABC2-dramareeks Erfsondes vertolk.

Eers dwelmverslaafde en toe reeksmoordenaar; voorwaar uitdagende rolle vir ’n nuweling.

‘Mense sal eerder in my rigting wys en sê: “Daar’s daai ou” ’

Hy het in 2012 sy rolprentdebuut gemaak as die hotelbestuurder Armand in Wolwedans in die Skemer. ’n Jaar later was hy terug op die groot- skerm as die Skot Robert Machlachlan in Verraaiers.

Robert, met sy “statigheid en reinheid”, het hom aan sy oupa aan moederskant, Mathys du Plessis, laat dink, vertel hy. “My oupa was hoof van verskeie kinderhuise,” vertel Jacques.

“Hy was ’n statige man; dus het ek daardie energie herken en kon ek maklik daaruit inspirasie put.” Sedert sy eerste rolle boer hy op ons skerms: in flieks soos Ballade vir ’n Enkeling en Modder en Bloed en in TV-reekse soos Donkerland en Fluiters, en sommer al wat ’n sepie is: Binnelanders, 7de Laan en Getroud met Rugby.

Wanneer hy nie voor die kameras is nie, bly Jacques besig met ’n fliektoneelspelkursus wat hy twee keer per jaar in Johannesburg aanbied saam met die aktrise Lelia Etsebeth, vrou van die fliekvervaardiger Danie Bester. Jacques het in Mei verlede jaar uit die Goudstad Kaapstad toe getrek.

Dit was nadat hy die raad van sy karakter in die fliek Ballade vir ’n Enkeling op sy eie lewe toegepas het.

“Moenie dink nie; doen net,” was die argitek Jan-Paul Otto se gunstelingsêding. “As ek te veel daaroor gedink het, sou ek dit waarskynlik nie gedoen het nie,” bieg hy met sy hande wat lewendig saampraat.

As Jan-Paul Otto (regs) in Ballade vir ’n Enkeling. Armand Aucamp (links) speel sy beste vriend, Jacques Reynhard, en Rolanda Marais is Lena Aucamp, op wie albei ’n oog het. Foto: The Film Factory South Africa

“Ek is lief vir Johannesburg en was gelukkig daar, maar toe ek ouer word, het ek ’n punt bereik waar ek gevoel het: ‘Is dit nou dit?’ Ek moes iets doen wat my anders sou laat voel en my uitkyk op die lewe kon verander. Om te trek was die logiese ding.”

Die lewe in die Kaap was aanvanklik vir hom ’n aanpassing. “Ek begin dit nou eers regtig hier geniet,” sê hy en sy oë dwaal oor die hawe en verder tot by Tafelberg wat die poskaartprentjie voltooi.

Hy stap graag in die Kaapse stadskom rond en probeer gereeld by die gim uitkom. Sy lenige lyf het hy aan ’n gesonde leefstyl te danke. “Ek drink baie water, kry genoeg proteïen in en eet vrugte en groente, maar ek hou ook van soetgoed, sjokolade en roomys,” erken hy. Ouer word pla hom min. “Dis deel van die lewe. Om dit te probeer ontwyk, sal net uitputtend wees. Ek aanvaar die ouderdom soos dit gebeur.”

Jacques as ds. Engelbrecht in Kanarie. Foto: Marche Media

As hy nou by die jong Jacques, vars uit die dramaskool, kon inloer, sou hy vir hom gesê het: “Hou net so aan. Moenie worry nie. Bly kalm, haal asem en geniet die lewe. Alles sal uitwerk soos dit moet.”

Ná Fynskrif is die volgende sien van die akteur op die kassie wanneer Jacques volgende jaar in nog ’n kykNET-dramareeks, Dwaalster, verskyn.

Daarin speel hy ’n plattelandse dokter met ’n kunstige streep wat ook skilder. En hy sukkel om sy liefde te verklaar aan die vrou op wie hy ’n oog het. Die akteur wat dit so maklik laat lyk om onpeilbaar te wees lag oor die ironie van sy volgende karakter.

“Hy gaan beslis enigmaties en geheimsinnig wees!”