John Travolta (64) en Olivia Newton-John (69) het saam met onder andere Didi Conn (67), wat Frenchie gespeel het, en Barry Pearl (68), wat die rol van Doody vertolk het, bymekaargekom om dié geleentheid te vier.

Didi Conn, Barry ­Pearl, Olivia New­ton-John en John Travolta het vir die 40ste herdenking van die fliek Grease bymekaargekom. Foto: Gallo Images/Getty Images.

John het aan verslaggewers op die rooitapyt gesê sy beste herinnering van die hele ervaring was om Olivia te ontmoet. “As jy in die 1970’s ’n jong man was en die albumomslag van Olivia met die blou hemp onthou . . . Elke seun, elke man se droom was: ‘O, ek sou graag wou hê daardie meisie moet my meisie wees,’ ” het hy op die geleentheid vir die gehoor gesê.

“Toe ek die voorreg kry om ’n mening oor die rolverdeling te gee, het ek gesê daar is geen ander mens in die heelal as Olivia Newton-John om Sandy te speel nie.”

Maar dit was nie net die rolprent se vervaardiger wat hy moes oorreed nie. Olivia was self nie gretig vir die rol nie.

Didi Conn en Barry ­Pearl in die fliek Grease.

Maar toe sy John ontmoet . . . “Wie sou kon nee sê, nè? Die aantreklike ou stap by my oprit op; ek kyk in sy helderblou oë. Hy was so gaaf, hy het my laat vermurwe.”

Dankie tog hy het. Die vonk tussen die twee was onmiskenbaar in die fliek.

Bronne: Eonline.com