Voor Paasnaweek 2012 was Griekwastad net nog ’n plattelandse dorpie omring deur plase op die uitgestrekte vlaktes van die Noord-Kaap, die soort plek wat selde die nuus haal.

Maar sedert die tragedie wat op daardie bloedige Goeie Vrydag op die plaas Naauwhoek afgespeel het, is die naam Griekwastad sinoniem met ’n gesinsmoord wat skokgolwe deur die land gestuur het en steeds die verbeelding aangryp.

Een Suid-Afrikaner, daar ver in Hollywood, was salig onbewus van die opspraakwekkende saak; tot die vervaardigers van ’n nuwe Afrikaanse rolprent oor die Griekwastadmoorde vir hom ’n hoofrol daarin aangebied het.

steenkamp,moord,griekwastad
Van links: Don se ouers, Deon en Christel, en sy suster, Mar­thella.

Die akteur Arnold Vosloo (56) gaan die rol van kol. Dick de Waal vertolk, die man wat die oënskynlike plaasaanval moes ondersoek waarin Deon (44) en Christel Steenkamp (43) en hul dogter, Marthella (14), gesterf het. 

Eindelik is die enigste oorlewende gesinslid, hul seun, Don (nou 22), aan die driedubbele moord asook die verkragting van sy suster skuldig bevind. Hy dien nou op Upington in die Noord-Kaap ’n vonnis van effektief 20 jaar gevangenisstraf uit vir die misdade wat hy as 15-jarige gepleeg het.

In ’n e-pos uit Amerika vertel Arnold in Afrikaans aan Huisgenoot hy het eers van die gruverhaal uitgevind toe die vervaardigers hom nader.

Dié ster van die ikoniese fliek uit die 1980’s Boetie Gaan Border Toe en wat in Hollywood onder meer in die fliek The Mummy naam gemaak het, het daarna gesmag om weer in ’n Afrikaanse fliek te speel, “want dit is my moedertaal en ek het omtrent 30 jaar laas in dié taal gewerk”, skryf hy.

Profile Arnold Vosloo
Arnold Vosloo. Foto: Dino Codevilla

Die akteur woon nou in ’n driever­diepingmeenthuis in Santa Monica, Kalifornië.

Hy was hier op die kassie in die polisiedrama Bosch op DStv se Universal Channel te sien in die rol van ’n polisie­man midde-in ’n misdaadraaisel. 

Nou sien Arnold uit na ’n soortgelyke rol, maar dié keer in sy geboorteland, in sy moedertaal en in ’n misdaaddrama gegrond op ware gebeure.

Hy speel al jare lank “woeste karakters”; daarom is hy nie bang vir ’n donker storie soos die ontstellende ondersoek na die Griekwastadmoorde nie. 

“Maar dié keer speel ek ’n ou wat alles moet bymekaarsit en ons sal sien hoe dit hom gaan raak,” sê hy.

“Ek sien die meeste daarna uit om saam met die crew en director na die klein dorpie te gaan en saam binne vyf weke ’n fliek te bou,” vertel Arnold.

boetie,border
Arnold in Boetie Gaan Border Toe uit die 1980’s.

Die groep begin op 6 Mei op Hopefield in die Wes-Kaap skiet, sê Tim Theron, ’n medevervaardiger van die fliek.

“Uit respek vir die gemeenskap van Griekwastad het ons besluit om nie die hele fliek daar te verfilm nie,” verduidelik Tim. 

“Ons wou nie ou koeie uit die sloot grawe en seerplekke oopruk nie. Dit is ook in die middel van nêrens en die logistiek sou ’n nagmerrie gewees het; daarom wil ons eerder nader aan Kaapstad skiet.”

Hulle gaan wel ’n paar kerntonele op Griekwastad verfilm. “Daar is tonele waar van ons karakters byvoorbeeld die dorp binnery.” 

Tim en sy medevervaardigers het aanlyn gelees Arnold soek ’n sterk Afrikaanse rol. Hulle het hom toe verlede jaar genader terwyl hulle in verband met ander projekte in Amerika was.

arnold,the mummy
Arnold saam met Brendan Fraser in The Mummy. Foto: Univesal Pictures

Oudisies vir die ander belangrike rolle in die fliek – ook die rol van Don – word nog gehou.Tim sê die rolprent gaan oor die soeke na die waarheid, hoe afgryslik daardie waarheid ook al kan wees. Dit draai om die polisieondersoek. 

“Die fliek begin waar Don die saak by die polisiekantoor aanmeld, sy weergawe van die gebeure en die ondersoek. Ons fokus op Dick (de Waal) se emosionele reis van waar hy homself as iemand beskou wat die kind kan help tot waar hy tot die besef kom hy moet hom in heg­tenis neem.

"Dit eindig waar hulle hof toe gaan.”

By navraag het Dick, deesdae ’n brigadier en hoof van die Noord-Kaapse provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad, aan Huisgenoot gesê hy wil geen kommentaar oor die fliek of sy uitbeelding daarin lewer nie.

Selfs na afloop van die opspraak­wekkende moordsaak bly talle vrae nog onbeantwoord.

Soos dr. Marianna Smith van Stellenbosch, wyle Deon se ouer suster, in 2015 in ’n onderhoud met Huis­genoot gesê het: “Almal vra nog hoekom, hoekom? Ek sou ook graag wou weet hoekom.

”Vir dié vrou, wat organiese groente sertifiseer, het dit onwerklik gevoel dat “al hierdie dinge” met hul familie gebeur het. Sy het destyds gesê: “In ’n stadium het dit vir my gevoel soos ’n fliek of iets waarbuite ek staan en daarna kyk.”

En hoe voel die Steenkampgesin se naastes daaroor dat ’n fliek gemaak word oor die moorde wat hul familie uit­mekaargeruk het?

Toe Huisgenoot Marianna oor die beplande rolprent inlig, het dit haar onkant betrap. “Ek het destyds gehoor daar is sprake van ’n fliek, maar eerlikwaar, ek het gehoop hulle het daarvan vergeet,” sê sy.

Haar ouer suster, Elbeth Vermaak (62), sê dit is vir haar ontstellend “dat iemand geld of sensasie uit ’n ander se hartseer wil maak. My ma (wyle Bettie) het des­tyds gesê dit is ons smart en ons dra daardie smart alleen.”

Bennie Heckroodt, ’n familievriend wat ná die dood van Don se ouers as sy voog opgetree het, meen die rolprent is voortydig in die lig van die beplande appèlsaak, ’n proses wat steeds sloer.

“As hulle ’n rolprent wil maak, sal niemand hulle seker kan keer nie,” sê Bennie. “Ek dink net hulle is heeltemal van koers af.”

Die idee om ’n rolprent oor die raaiselagtige gesinsmoord te maak kom van die bekende misdaadskrywer Deon Meyer. Hy en Tim is twee van die fliek se vervaardigers; die ander is die fliekmaker Cobus van den Berg en die TV-aanbieder Tracey Lange.

Dit is een van die eerste projekte van hul produksiemaatskappy, Scene 23, en word in samewerking met kykNET vervaardig.

“As misdaadskrywer was ek uiteraard, soos die res van Suid-Afrika, heeltemal geboei deur die Griekwastadmoorde en het ek van meet af aan geglo dit kan ’n meesleurende fliek maak,” vertel Deon.

Hy het al in 2014 die rolprentregte bekom vir die joernalis Jacques Steenkamp se boek, Die Griekwastad-moorde – Die Misdaad Wat Suid-Afrika Geruk Het. 

Jacques is nie verwant aan die Steenkamps van Griekwastad nie, maar het die saak destyds vir die Sondagkoerant Rapport gedek. Sy boek oor die gebeure dien as verwysingsbron vir die fliek, getiteld Griekwastad.

Voor Jacques in 2016 na Nieu-Seeland geëmigreer het om vir ’n koerantagentskap in Auckland te gaan werk, is hy saam met die draaiboek­skrywer van die fliek, die dramaturg Tertius Kapp, Griekwa­stad toe. 

Die twee het met soveel mense moontlik op die dorp en in die distrik gepraat, ook met die werklike kol. Dick de Waal.

griekwastad,moorde
Die plaas Naauwhoek naby Griekwastad waar die moorde plaasgevind het. Foto: Onkgopotse Koloti

Hulle het die indruk gekry dit sou vir Dick makliker gewees het om die gebeure te verwerk as dit inderdaad ’n plaasaanval was en nie ’n gesinsmoord nie, vertel Tim.

Die vervaardigers het nog geen gesprek met die Steenkampfamilie oor die fliek gevoer wat hulle wil maak nie, sê Tim. 

“Nie die teks of die regisseur probeer sensasie uit die storie put nie; ons wil sensitief wees teenoor die situasie en die mense wat daarby betrokke is.”

Al figureer Don sterk, is die fokus nie op hom nie, maar op die ondersoek. 

“ ’n Mens sien ’n ‘onskuldige’ kind en dan is daar ’n oomblik dat jy onrustig raak oor hom, dinge wat hy gedoen het, die SMS’e wat hy gestuur het. Die doel is glad nie om hom as ’n koelbloedige monster uit te beeld nie, maar om die nuanses te wys wat daartoe lei dat sommige mense nou nog wonder of hy skuldig is.”

Tim meen Tertius het die kwessie van die verkragting waaraan Don ook skuldig bevind is sensitief in die draaiboek hanteer.

boek
Die boek deur Jacques Steenkamp waarop die rolprent gegrond is.

Regter Frans Kgomo het in sy uitspraak bevind dat die geloofwaardigste verklaring vir die moorde is dat Don sy gesinslede se monde oor die verkragting wou snoer.  

Op ’n vraag of die vervaardigers die rolprent vooraf vir die Steenkampgesin se naasbestaandes sal wys of hulle na die première sal nooi, het Tim geantwoord hulle wil nie ou wonde oopkrap nie.

Marianna vertel al het baie tyd verloop sedert daardie verskriklike Paasnaweek sewe jaar ge­lede, bly die wonde rou.

“Ek dink nie dit wat met ons familie gebeur het, is iets waaroor ’n mens ooit kom nie. Ek vrees elke jaar die koms van April. Dit bly moeilik.”

  • Griekwastad se première sal na verwagting in Augustus vanjaar op die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad wees. Dit sal volgende jaar landwyd uitgereik word.