Die plaaswerf is stil. Daar is die gekwetter van voëls in die bome en die veraf gebulk van beeste. Oral is geel polisielint gespan, want byna ’n hele gesin is uitgewis.

Daar is bloed besmeer op die kombuisvloer en in die verte by die hek is die ondersoekbeampte, die staatsaanklaer en die jong verdagte seun wat uitwys waar die wapens lê.

Dan hoor mens die regisseur, Jozua Malherbe, skree: “Aksie!”

griekwastad,fliek,jody abrahams,tim theron
Arnold Vosloo as die ondersoekbeampte op die stel van die fliek Griekwastad. Foto: Misha Jordaan

Die toneel is naby Hopefield, sowat 800 km van die plaas Naauwhoek naby Griekwastad, Noordwes, waar Don Steenkamp op 6 April 2012 sy pa, ma en sussie doodgeskiet het. 

Dit is die filmstel van ’n nuwe rolprent wat nou oor dié tragiese gebeure gemaak word. 

Die topverkoperspanningskrywer Deon Meyer het die rolprentregte van Die Griekwastadmoorde deur die joernalis Jacques Steenkamp gekoop en is tevrede met die vordering van die verfilming. 

griekwastad,fliek,moord,alex van dyk,albert maritz
Die jong akteurs Jane de Wet en Alex van Dyk is saam met Albert Maritz (middel) in die fliek te sien. Foto: Misha Jordaan

“Dis ’n aangrypende verhaal en dis heerlik om Arnold hier te hê,” vertel Deon oor die Hollywood-ster Arnold Vosloo, wat die rol van die ondersoekbeampte in die saak, kol. Dick de Waal, vertolk. 

“Die fliek behoort emosies te roer.”

griekwastad,fliek,moord,polisie
Inwoners van Hopefield is as polisielede in die fliek ingespan. Van links is Luigi Daniels, Grant Pearce, Gerrit Grobler en Theo Turner. Foto: Misha Jordaan

Die rolprent se première is na verwagting in Augustus vanjaar op die kykNET-Silwerskermfees.