Ellen, die Storie van Ellen Pakkies, wat op 7 September landwyd begin draai, vertel die ware verhaal van Ellen wat in 2007 haar seun, Abie (20), ’n geharde tikverslaafde, om die lewe gebring het nadat die dwelms hom gedryf het om afskuwelike dinge aan te vang, ook met sy ma.

Ná jare van mishandeling het Ellen Abie verwurg, maar is sy vrygespreek weens die trauma wat sy moes deurmaak aan die hand van haar seun. Jill Levenberg, van Suidooster, vertolk die rol van Ellen. 

Schalk Burger, die vervaardiger van dié fliek, sê hy kan dit skaars glo. Hy is senuagtig omdat die fliek nou ’n Amerikaanse gehoor gaan kry. “Dit is die ware hartseer storie van Ellen, maar dis ook baie universeel. Ek hoop die storie vind aanklank by een van die grootste Amerikaanse filmfeeste se gehoor.”

Hy sê dit is ’n ongelooflike eer. “Dit is lekker om te sien hoe ’n plaaslike fliek ’n groot fees haal.”

Schalk Burger is die fliek se vervaardiger.

Ellen, die Kaapse ma wat die fliek geïnspireer het, woon steeds in Lavender Hill op die Kaapse Vlakte waar die voorval destyds plaasgevind het. Sy is ’n baie “interessante en skaam vrou", sê Schalk.

Hy sê die nuus oor SIFF het nog nie by haar ingesink nie. Ellen het die fliek al twee keer gesien en dit dra haar goedkeuring weg, sê Schalk. “Haar passie is om ’n verskil in ander se lewe te maak.”

Noudat haar lewe weer onder die vergrootglas op die silwerdoek gaan wees, hoop hy dit sal Ellen afsluiting gee, sê Schalk.

Jarrid Geduld, wat Abie speel, sê dit was nie maklik om dié rol te vertolk nie. “Dit was stresvol om hom te speel. Dit was emosioneel en fisiek uitputtend. Hy was nie die beste mens nie.

“Ek moes dinge doen wat jy as normale seun nooit sou doen nie. Dit was eintlik baie hartseer om Abie te speel,” sê die 28-jarige Kaapse akteur van Eersterivier.

Maar hy hoop die rol en fliek sal mense meer insig gee oor die denkproses van ‘n dwelmverslaafde.

Jarrid Geduld speel die rol van Abie. Foto: Lindsey Appolis

Almal ken iemand, ’n familielid of vriend, wat aan dwelms verslaaf is, sê hy. “En ek het grootgeword met dié dinge in my area elke dag.”

Vir die rol van ’n tikverslaafde het Jarrid self besluit om gewig te verloor. “Want dit is wat gebeur wanneer jy tik gebruik; ek wou dit ook in die rol uitbeeld.”

Jarrid het 12 kg afgeskud. “Teen die einde van die fliek was ek baie maer en het net 49 kg geweeg,” vertel hy. “Ek het gegim, gedraf en gesonder, kleiner porsies geëet.”

Die akteur het hom ook baie afgesonder. “Ek het op ’n ongesonde manier begin dink, maar nie soveel dat dit persoonlike skade sou veroorsaak nie.”

Die traumatiese dele in die fliek is op ’n baie “beheerde en respekvolle wyse” geskiet, sê Jarrid. “Ná daai moeilike tonele het ek huis toe gegaan en met my ma gesels of ’n biertjie geniet om net my kop daarvan af te kry.”

Hy wou egter nie hê Abie moet net uitgebeeld word as ’n monster wat afskuwelike dinge aan sy eie ma gedoen het nie. “Soos enige dwelmverslaafde en bendelid, was Abie eers ’n soet baba en ’n goeie kind, maar verkeerde besluite het tot erge gevolge gelei.”

Abie was nie net ’n slegte dwelmverslaafde nie; hy was voor dit ’n kind wat van musiek en dans gehou het en ’n vreugdevolle kind, sê Jarrid. “Hy het ook groot drome gehad, maar het slegte keuses gemaak . . .”

Jarrid is baie bly Amerikaners sal die fliek ook kan kyk. “Dit is ’n groot deal vir ons klein fliek. Ek is baie bly en trots.”