Die 18-jarige voormalige Dance Moms-ster Maddie Ziegler speel dié fliek se titelkarakter, ’n jong nieverbale outistiese meisie.

Nadat haar ouma sterf, word Music se vrygeestige, vervreemde halfsuster, Zu (Kate Hudson), wat ook ’n verslaafde op die herstelpad is, haar voog. Die susters moet mekaar leer vertrou en liefhê deur die uitdagings waardeur hulle gekonfronteer word.

Leslie Odom jr. en Héctor Elizondo is ook deel van die rolverdeling.

Wat het jou inspireer om ’n fliek oor iemand met outisme te maak?

Dit het soort van net by my opgekom.

Dit het my sowat 12 jaar geneem om die draaiboek te ontwikkel, maar nadat ek vir Stevie, ’n nieverbale seun op wie die karakter Music gegrond is, ontmoet het (sy het die 16-jarige ontmoet by ’n vergadering van Alkoholiste Anoniem), het ek myself begin vertrou.

Ek het die vermoë gehad om een persoon op die spektrum te verteenwoordig, en dit het gevoel soos ’n boodskap – soos iets wat ek moet doen.

Maddie Ziegler (links) en Mary Kay Place in ’n toneel. Maddie skitter in die hoofrol as ’n outistiese meisie, Music. Foto: Hanway Films
Maddie Ziegler (links) en Mary Kay Place in ’n toneel. Maddie skitter in die hoofrol as ’n outistiese meisie, Music. Foto: Hanway Films

Ek het baie navorsing gedoen; ek het die geleentheid gehad om ander mense te ontmoet wat nieverbaal is, saam met hul ouers; en die fliek het iets geword wat ek geweet het ek nie sou spyt wees om te maak nie.

Nadat ek dit gemaak het, het ek vrede en kan ek sê alles wat ek op ’n professionele vlak wou doen, het ek gedoen.

Jy en Maddie werk al sedert 2014 saam toe jou liedjie “Chandelier” uitgereik is. Hoe het sy vir haar rol voorberei?

Ek hou daarvan om saam met Maddie te werk, en ek het geweet sy sou ongelooflike sensitiewe werk doen.

Ons het probeer werk saam met ’n neurodiverse akteur, maar die ervaring was baie stresvol en onaangenaam vir die meisie.

Omdat ek die geleentheid gehad het om baie tyd saam met Stevie deur te bring, het ek vir Maddie sy uitspraak, vokalisering en senutrekkings geleer; en met dié dat sy ’n danser is, het sy dit baie vinnig opgetel.

Kate Hudson vertolk die rol van Music se eksentrieke halfsuster. Foto: Hanway Films
Kate Hudson vertolk die rol van Music se eksentrieke halfsuster. Foto: Hanway Films

Sy was aanvanklik bang en wou nie hê enigeen moet dink sy spot met hulle nie. Ons het in trane uitgebars toe die Child Mind Institute (’n Amerikaanse organisasie wat werk met kinders wat sukkel met leergestremdheid) die fliek goedgekeur en vir haar 100% gegee het vir akkurate verteenwoordiging.

Ons was so dankbaar. Maddie het haar uitstekend van haar taak gekwyt en het soveel navorsing gedoen.

Ek wil net nie hê enigeen moet haar kritiseer oor hierdie rol nie; val liewer vir my aan!

Die Australiese sangeres Sia, wat bekend is vir liedjies soos “Titanium” en “Elastic Heart” sit in die regisseurstoel van Music. Foto: Hanway Films
Die Australiese sangeres Sia, wat bekend is vir liedjies soos “Titanium” en “Elastic Heart” sit in die regisseurstoel van Music. Foto: Hanway Films

Hoe het Kate betrokke geraak?

Ek het Kate ’n Kersliedjie op Instagram sien sing en gedink haar stem klink sielvol.

Toe stuur ek vir haar die draaiboek, en sy’t gesê: “Ek is gebore om dit te doen!” Sy’t ook ingestem om haar hare af te skeer, en ek het gesê: “Kom ons laat waai!”

Wat was die vervullendste omtrent die projek?

Dis die betekenisvolste ding wat ek al gedoen het.

Om liedjies te skryf kan mense op een manier help, maar dit is soveel belangriker vir my omdat dit insiggewend is en op onderverteenwoordigde mense gegrond is.

Om mense te kan help opvoed wat dalk nie enigeen met outisme ken nie, maar ook familie wat wel iemand ken, en insig te gee oor nuwe navorsing en hulpbronne was wonderlik.

2021 begin met jou fliek se uitreiking – waarvoor hoop jy nog?

Ek wil net my bande met my beste vriende behou in hierdie tye van afsondering, en ek hoop dat my seuns (sy het in 2019 twee tienerseuns aangeneem) dit deur hierdie jaar maak. Ek wil meer as enigiets die beste vir hulle hê.

2021. 103 MIN. 13 GT BESKIKBAAR OP DSTV BOXOFFICE

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe