The Disaster Artist

Biografiese rolprent.

Met James Franco, Dave Franco en Seth Rogen.

Regie: James Franco. 18TNS. Begin op 9 Februarie.

Waaroor gaan dit?

Die fliek is gegrond op Greg Sestero en Tom Bissell se boek oor hoe die ambisieuse rolprentmaker Tommy Wiseau sy fliek The Room van 2003 gemaak het. Dit word wyd as een van die swakste rolprente beskou.

James vertolk die hoofrol van Tommy en sit ook in die regisseurstoel, terwyl sy broer Dave Tommy se vriend Greg speel. James het met dié fliek goud raakgeboor, want hy is onlangs met ’n Golden Globe vir sy spel daarin vereer.

Hy is egter ’n Oscar-benoeming kwyt nadat vyf vroue hom van seksuele wangedrag beskuldig het. 

Die man agter die fliek

Tommy wou aanvanklik hê Johnny Depp moet hom speel, vertel James.

Die eksentrieke Tommy het destyds ’n reklamebord met sy gesig en telefoonnommer daarop in Los Angeles opgerig om die fliek, wat nou kultusstatus geniet, te bemark.

Vir The Disaster Artist is ’n soortgelyke veldtog geloods. Wanneer mense die nommer bel, hoor hulle ’n stemboodskap van Tommy self.

Wie sal hiervan hou?

James beskryf dit as ’n mengsel van Boogie Nights (1997) en The Master (2012). As jy Pineapple Express (2008) geniet het, sal jy ook hiervan hou.


Ook op die silwerdoek

THE SHAPE OF WATER

Fantasiedrama.

Met Sally Hawkins, Michael Shannon en Richard Jenkins.

Regie: Guillermo del Toro. 16TNSG.

’n Stom opsigter, Elisa Esposito (Hawkins, foto) werk nagskof by ’n navorsingsinstansie wat aan die staat behoort.

Toe die genadelose kol. Strickland (Shannon) ’n amfibiese wese (Doug Jones, foto) inbring om te bestudeer, boei die wese Elisa en begin sy in die geheim by hom kuier.

Soos met sy vorige rolprente (Pan’s Labyrinth, Pacific Rim) kombineer die eksentrieke Mexikaanse regisseur Del Toro elemente van verskeie genres in sy jongste fliek en omskep dit in iets eie aan hom.

Hierdie sprokie vir volwassenes skram nie van die seksuele implikasies van die skoonheid en die ondier weg nie – en dit kan party kykers dalk afskrik. Maar Del Toro hanteer die ongewone verhaal subtiel en met empatie.

Hawkins is merkwaardig in die hoofrol en gee ’n groot verskeidenheid emosies weer – van verrukking tot diepe verlange – sonder om ’n enkele woord te sê. Waar Del Toro se Crimson Peak (2015) ’n liefdesbrief aan Gotiese gruwel was, is The Shape of Water ’n viering van monsterflieks soos Creature from the Black Lagoon (1954) en ouskoolse blyspele.

Dié kragtige, eksentrieke rolprent verdien al die lof wat dit kry. Punt uit 5:4.

  • SANDRA VISSER


DVD

CAPTAIN UNDERPANTS: THE FIRST EPIC MOVIE

Animasiekomedie

Twee beste vriende, George (met stemwerk deur Kevin Hart) en Harold (Thomas Middleditch), vermaak hul vriende met slim poetse by die skool en met hul strokiesboek, Captain Underpants.

Dit gaan oor ’n superheld wat net ’n onderbroek dra. Toe hul aartsvyand, die stugge hoof Mr. Krupp (Ed Helms), hul strokiesboek konfiskeer, hipnotiseer hulle hom sodat hy dink hy’s Captain Underpants . . .

Met uitmuntende animasie, ’n oortuigende storie en talle skaterlagoomblikke sal hierdie knap komedie, gegrond op die gewilde boekereeks deur Dav Pilkey, by kinders en grootmense byval vind.  2017. 88 MIN. O.

  • WILLEM MÖLLER


SA IN HOLLYWOOD

Darrell Roodt se plaaslike gruwelfliek Siembamba, met Reine Swart en Deànré Reiners, sal die eerste Suid-Afrikaans vervaardigde rolprent wees met ’n première in Hollywood.

Dié Engelstalige fliek word op 1 Maart daar met die titel The Lullaby uitgereik nadat dit verlede jaar hier te sien was. Die fliek gaan oor die 19-jarige Chloe van Heerden (Swart) wat ná die geboorte van haar eersteling na haar tuisdorp, Eden Rock, terugkeer.

Al help haar ma haar met die baba, sukkel sy om by haar nuwe rol as ma aan te pas. Sy verval in ’n diep depressie en begin boonop stemme hoor en allerhande visioene kry ...

DVD'S VERSKAF DEUR VIDEORITE, VISHOEK. VIND HULLLE OP FACEBOOK