Komedie. Met Jennifer Aniston, Danielle Macdonald en Odeya Rush.

Regisseur: Anne Fletcher. 10-12OV. Begin op 4 Januarie.

Dumplin
Foto: Netflix

Waaroor gaan dit?

Die fliek is gegrond op Julie Murphy se gelyknamige jeugboek.

Dit vertel die verhaal van Willowdean Dickson (Macdonald, foto’s), ’n plus- groottetiener en die dogter van ’n voormalige plaaslike skoonheidskoningin,

Rosie (Aniston, wat ook die fliek vervaardig het, foto). Willowdean besluit om die stereotipes van skoonheidskompetisies uit te daag en skryf vir een in.

Saam met haar bestie, Ellen (Rush), en ’n paar ander onwaarskynlike deelnemers begin sy ’n opstand.

Is dit goed?

Hoewel die fliek meestal ’n liggaamspositiewe boodskap het, kan kykers ook die humor en hart geniet wat die akteurs na die storie bring. Fliekgangers sal aanklank vind by die karakters.

Willowdean en kie verpersoonlik die idee dat jy jou liggaamstipe moet aanvaar en omarm. Willowdean is dol oor die sanglegende Dolly Parton, en aanhangers van dié sangeres behoort die klankbaan terdeë te geniet.

Ou Dolly-treffers kry nuwe baadjies en sy het ook ses liedjies eksklusief vir die klankbaan geskryf.

Dié fliek is ideaal vir tieners wat moeg is daarvan om te hoor hulle moet liggaamsposifitef wees, maar steeds sukkel om gelukkig te wees in hul eie vel.

Dis ’n aweregse komedie wat jou sal laat goed voel en miskien selfs ’n traan of twee sal laat wegpink.