Die agtermekaar James Bond wat ons leer ken het, lyk asof hy hulp nodig het uit Q se werkwinkel. Daniel Craig (51) het sy enkel op die stel van die jongste Bond-avontuur in Jamaika beseer, en verfilming aan dié fliek – tans net bekend as Bond 25 – is onderbreek sodat hy ’n operasie in New York kan ondergaan. 

Hy was glo woedend, want hy het seker gemaak hy is topfiks vir sy laaste keer as die seepgladde superspioen. Maar dis beswaarlik die eerste keer dat Daniel tydens die verfilming van ’n Bondfliek seerkry – en ook nie die eerste keer dat ’n ramp ’n 007-fliek tydens verfilming tref nie. 

Daar was trouens deur die jare soveel rampspoedige voorvalle dat daar van ’n Bondvloek gepraat word.

Daniel se rits beserings 

james bond
Daniel Craig (51) het sy enkel op die stel van die jongste Bond-avontuur in Jamaika beseer

Casino Royale (2006)

In ’n gevegstoneel in Praag is twee van sy voortande uitgeslaan. “Hy het sy hand oor sy mond gesit, maar die bloed het deur sy vingers gesypel – dit was verskriklik,” het ’n lid van die kameraspan aan die Britse koerant Sunday Mirror gesê.

’n Tandarts is vanaf Londen ingevlieg en het Daniel se tande vervang. Die akteur het toe besluit om ’n mondskerm vir aksietonele te begin dra.


Quantum of Solace (2008)

Daniel word aan sy skouer geopereer en sê aan The Telegraph dit is ’n ou besering wat waarskynlik vererger is deur rondspringery in Bondflieks. “Die operasie was nie noodsaaklik nie, maar as ek dit nie nou laat doen nie, kan ek dalk iets in die volgende fliek doen en dit uit sy potjie ruk.”

Hy het met dié fliek se verfilming ook ’n vingerpunt verloor. “Ek het baie gebloei,” het hy destyds aan die tydskrif Playboy vertel. 

“Verfilming is gestaak en almal het gesê: ‘Hy het die punt van sy vinger afgesny!’ Hulle het daarna gaan soek, maar kon dit nie kry nie.”

Spectre (2015)

Daniel die ongeluksvoël het sy knie in ’n gevegstoneel verstuit – en een van sy Bond-voorgangers, wyle Roger Moore (toe 87), het grappenderwys aangebied om vir hom in te staan. “Jammer om te hoor Daniel Craig het sy knie op die stel van Spectre verstuit,” het hy getwiet. “Om 007 te wees is nie sonder sy gevare nie. Ek is beskikbaar om in te staan indien nodig.”

Dit was nie ’n ernstige besering nie en Daniel kon ’n paar dae later voortgaan met verfilming. Weer het Roger – wat in 2017 oorlede is – op Twitter gespot: “Aa, goeie nuus: Daniel sal môre terug op die stel wees. Ek hang my safaripak weer terug in die kas.”

Amper dodelike sekstoneel

james bond
Pierce Brosnan en Halle Berry se sekstoneel tydens die verfilming van Die Another Day

Selfs sekstonele kan gevaarlik wees, het Halle Berry tydens die verfilming van Die Another Day (2002) ontdek.Die Oscarwenner, wat Jinx gespeel het, het gestik aan ’n vy terwyl sy saam met Pierce Brosnan in die bed was. “Dit was ’n verleentheid,” het sy aan die BBC gesê.

“Veral omdat ek bo-op Pierce was en so sexy moontlik probeer wees het – en toe begin ek stik.”

Pierce het vertel: “Sy het ’n stukkie vrug in haar hand gehad, vir my daarvan gegee en die res in haar mond gesit. Ek het ’n grap gemaak en begin lag, en toe stik sy. Skielik het daar niks klank uitgekom nie. Ek het haar op die rug geslaan en toe my arms om haar gesit om die Heimlich-maneuver te doen.

“Sy het toe op ’n manier die vrug uitgekry, en dis ’n goeie ding, want ek het nog nooit tevore die Heimlich toegepas nie.”

Die spioen wat gebrand het

james bond
The Spy Who Loved Me in 1977

Roger, wat Bond in sewe flieks tussen 1973 en 1985 gespeel het, was slim genoeg om nie sy eie waagtonele te doen nie. “Ek het nooit waagtoertjies gedoen nie,” het hy in 2012 erken. Met die lig van een beroemde wenkbrou het hy bygevoeg: “Maar ek het al my eie sekstonele gedoen.”

Tog was hy nie immuun teen gevaar nie. Met die skiet van The Spy Who Loved Me in 1977 het ’n toneel met hom en die skurk Karl Stromberg (Curd Jürgens) lelik skeefgeloop.

“Stromberg het onder die tafel ’n vuurwapen op Roger se onderlyf gemik,” het die rolprent se redigeerder, Glen Moore, aan die BBC vertel. “Op ’n sekere tydstip moes die spesiale-effekte-ou die ontploffing laat afgaan. Hy het dit misreken en Roger het eindelik met ’n brandende broek op die stel rondgehardloop.” Roger sê hy was “sowaar aan die brand en in verskriklike pyn.

“Ek moes elke dag na die verpleegsuster toe gaan om die Vaseline-verbande aan my boude te vervang.” 

Dodelike jagtog

ys,james bond
Paolo Rigon het op die stel van For Your Eyes Only (1981) gesterf

Die waaghals Paolo Rigon het op die stel van For Your Eyes Only (1981) gesterf tydens die verfilming van ’n blitsvinnige slee-jaagtog in die Italiaanse Alpe. 

’n Slee met vier mans het teen ’n boom gebots en Paolo is op slag dood. Vir dieselfde fliek is lyfdubbelgangers vir James Bond (Roger Moore) en Melina Havelock (Carole Bouquet) oor koraalriwwe getrek en het hulle ernstige wonde aan hul rug opgedoen.

Jy leef net een keer

james bond
'n "Aggresiewe" helikopter het omtrent amok gesaai tydens die verfilming van You Only Live Twice (1967)

Die lem van ’n “aggressiewe” helikopter het die lugkameraman John Jordan se voet getref terwyl hy in ’n harnas gehang het onder Little Nellie, die eenman-girovliegtuig waarmee James Bond in You Only Live Twice (1967) vlieg. 

Gelukkig vir hom was daar ’n mediese konferensie oor mikrochirurgie aan die gang in Mijazaki, Japan, waar hulle verfilm het, en van die beste chirurge ter wêreld was beskikbaar om sy voet weer te heg.Met sy terugkeer huis toe het hy dit egter in Londen laat amputeer, want dit “het nie reg gevoel nie”.

Hy het ’n prostetiese voet gekry en voortgegaan met sy werk as kameraman, maar het hom in 1969 uit ’n vliegtuig doodgeval toe hy ’n toneel vir die fliek Catch-22 verfilm het. 

Van die krokodille met liefde

bond, 007
Die krokodil-toneel in Live and Let Die (1973) het lelik skeefgeloop
bond, 007
Die krokodilplaas-eienaar se voet is raakgebyt

Roger Moore het sy Bonddebuut in Live and Let Die (1973) gemaak. In dié fliek moes hy uit ’n poel vol krokodille ontsnap. Ross Kananga, eienaar van die Jamaikaanse krokodilplaas waar hulle verfilm het, het dié waagtoertjie gedoen. 

Gewigte is aan ’n dosyn krokodille vasgemaak om hulle stil te hou, maar hul kake en sterte is los gehou. Ross het hom drie keer met die sprong misgis. Die krokodille het sy spronge begin verwag, en met die vierde probeerslag is sy voet raak gebyt. Hy was nie ernstig beseer nie, en die rolprent­makers het die toneel met die vyfde probeerslag reggekry.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.