TAKEL SKURKE

In haar nuwe fliek, Miss Bala, speel Gina (34) Gloria, ’n vrou van Los Angeles wat na Mexiko reis om haar bestie, Suzu (Cristina Rodlo, 28), met ’n skoonheidskompetisie te help.

Haar vriendin verdwyn spoorloos ná ’n skietvoorval in ’n nagklub, en Gloria sal moet taai raak as sy haar wil opspoor. Sy meld die voorval by die polisie aan, maar word gou by die misdaadwêreld betrek.

Eindelik moet sy met ’n dwelmbaas saamwerk om Suzu te red. Die fliek is ’n nuwe weergawe van die gelyknamige Mexikaanse riller van 2011. Gina is baie in haar noppies met haar eerste fliekhoofrol.

Sy’t boonop haar eie waagtoertjies gedoen!

“Gloria se transformasie van alledaags tot buitengewoon gebeur toe sy haar krag besef en dit haar eie maak. Dit gebeur in die regte lewe ook. Dis ’n lang reis, want ek is 34 en begin nou eers leer hoe om my krag in te span.”

G’N “PLAIN JANE”

Sy het jare lank in die bedryf naam probeer maak voor sy die rol van Jane Villanueva in die TV-reeks Jane the Virgin losgeslaan het.

Jane se lewe ontrafel toe haar ginekoloog haar per abuis kunsmatig insemineer en sy dan swanger raak – en dit terwyl sy ’n maagd is. Sy besluit om die kind self groot te maak en bevind haar dan in ’n liefdesdriehoek met haar kêrel, Michael (Brett Dier, 29), en die kind se pa, Rafael (Justin Baldoni, 35). Gina het in 2015 ’n Golden Globe vir dié rol ontvang.

View this post on Instagram

Got my boys back. #season5

A post shared by Gina Rodriguez (@hereisgina) on

“Ek is van Puerto Ricaanse afkoms,” sê sy. “Ek het ’n bepaalde voorkoms. In die bedryf sit hulle jou waar dit hulle pas. Ek wil dié grense vir ander afbreek.”

Sy het ’n produksiemaatskappy, I Can & I Will, gestig wat aspirantaktrises help. “Ek skuld Jane baie,” sê sy oor die reeks wat nou in sy laaste seisoen is.

“Die rol het my my lewe gegee. En ek kon ’n produksiehuis skep waar ek ander kan help om hul drome te verwesenlik.”

VERLOOFDE EN VRIEND

Gina en haar verloofde
Gina het verlede jaar aan die bokser Joe LoCicero verloof geraak. Foto: Instagram/@hereisgina

Gina het verlede jaar verloof geraak aan die bokser Joe LoCicero (32). Hulle het mekaar in 2016 op die stel van Jane the Virgin ontmoet toe hy ’n ontkleedanser gespeel het, en ’n paar maande later het hulle begin uitgaan.

Sy ly aan Hashimoto se siekte, waar die immuunstelsel die skildklier aantas en jou gewig laat wipplankry. Joe het haar gehelp om dit te hanteer, sê sy.

“Hy het my gehelp om ’n gesonder perspektief op gewig te hê, daardie simpel getal wat voel asof dit gelyk is aan ons selfwaarde.” 


Wat jy moet weet
  • Miss Bala is gegrond op die ware verhaal van Laura Zúñiga, ’n Mexikaanse model wat in Desember 2008 vasgetrek is met ’n vragmotor vol ammunisie terwyl sy op pad Mexiko toe was om aan die Miss International 2009-kompetisie deel te neem.
  • Gina is ook in die romkom Someone Great te sien, wat op 19 April op Netflix uitgereik word. Sy verleen ook haar stem in die Netflix-animasieweergawe van die 1990’s-program Carmen Sandiego. “Ek bly besig, want ek was ’n sukkelende aktrise tot ek omtrent 29 was! Ek het so lank soveel verwerping ervaar – ek het baie geslaap. Ek is dus gereed om nie te slaap nie.”
  • Sy is ’n adrenalienverslaafde en geniet muay thai-boks, vryval en rekspring.
  • Jane the Virgin, nou in sy laaste seisoen, kry ’n uitloperreeks! Dit sal ’n telenovelle wees en elke seisoen sal gegrond wees op ’n boek wat Jane the Virgin se hoofkarakter, Jane Villaneuva, geskryf het.

Bronne: Forbes.com, USAToday.com, EliteDaily.com