Waaroor gaan dit?

Dié biografiese drama vertel die verhaal van Ellen Pakkies van ­Lavender Hill op die Kaapse Vlakte wat in 2007 haar dwelmverslaafde seun, Abie, uit radeloosheid dood­gemaak het. 

Hoewel die storie destyds wyd opslae gemaak het en ’n bekroonde toneelstuk met die 7de Laan-aktrise Vinette Ebrahim op die planke gebring is, word dit nou vir die eerste keer op die silwer­doek vertel.

Is dit die kyk werd?

Die tragiese verhaal word roerend vertel, en fliekgangers sal ’n snesie byderhand moet hou. 

Hiervoor moet Jarrid Geduld (as Abie)en Jill ­Levenberg (as Ellen), wat bekend is vir haar rol as Mymoena Samsodien in die sepie Suidooster, die lof kry. Hulle beeld die tragedie geloofwaardig uit; daarvoor is hulle as beste akteur en aktrise op die onlangse kykNET Silwer­skermfees aangewys. 

Sy en Jarrid Geduld, as haar seun Abie, vertolk uitmerge­lende rolle.

Die hede en verlede van die karakters word in die fliek verweef om steeds die nodige spanning en emosies by die kyker te wek. 

Dit is veral die uitstekende draaiboek deur Amy Jephta, wat as beste draaiboek op die Silwerskermfees aangewys is, en ­Daryne Joshua (Noem My Skollie van 2016) se meesterlike hand as regisseur wat die verhaal so suksesvol oordra.

Met haar pen het Amy daarin geslaag om ’n ware lewens­drama baie realisties en met groot respek te vertel.

Jill Levenberg.

Dwelmverslawing en die uitwerking wat dit op gesinne het, sal moontlik vir die meeste kykers vreemd voel. In sekere tonele sal jy dalk selfs met jou hande voor jou oë na die skerm kyk.

Tog is die hart van die storie nie die gebeure wat reeds bekend is nie; dis die onwrikbare liefde wat Ellen vir haar seun het. 

Ten spyte van al die seer wat hy herhaaldelik in hul lewe veroorsaak het, bly hy haar kind en bly sy steeds lief vir hom.

Clint Brink speel Ellen se regsverteenwoordiger, adv. Adrian Samuels.

Dis ’n tragedie wat in die vertelling aanklank moet vind by mense van verskillende agtergronde en oortuigings. 

En daarin slaag dié fliek beslis.

Drama. Met Jill Levenberg, Jarrid Geduld, Elton Landrew en Clint Brink. Regisseur: Daryne ­Jo­shua. 16DTG. Begin 7 September.

Foto's: LINDSEY APPOLIS