Brent Vermeulen (17) van Durbanville vertolk ’n hoofrol in Die Stropers/ The Harvester, wat vanjaar op die gesogte Cannes-rolprentfees in Frankryk vertoon is.

Die vermaaktydskrif Variety noem Brent “ ’n buitengewone nuwelingvonds” en The Hollywood Reporter sê hy was nommerpas in sy rol.

Wanneer het die toneel-gogga jou gebyt?

“Ek het van kleins af daarvan gehou om voor familie op te tree en te dans. Ek het nog altyd drama op skool geneem. Verlede jaar in gr. 10 terwyl ons gerepeteer het aan ons skool se musiekspel, Fame, het ’n rolverdelingsregisseur na ons skool, Paarl-gimnasium, gekom op soek na seuns vir die hoofrolle in ’n nuwe fliek deur die regisseur Etienne Kallos. Die regisseur het lank landwyd geskikte nuwe talent gesoek. Ná heelwat oudisies het ek in Mei 2017 gehoor ek het die hoofrol van Janno in Die Stropers gekry.”

Voor die kameras terwyl die Poolse kinematograaf Michal Englert toekyk. Foto: Verskaf

Hoe was dit by die Cannes-rolprentfees in Frankryk?

“Dit was ’n voorreg om deel te wees van so ’n elite-filmfees. Op die rooitapyt was al die kameramense oorweldigend. Dit was ’n nuwe ervaring toe mense my op straat voorkeer en oor my rol in die fliek gesels."

“Dis natuurlik ook vreemd om jouself op die silwerdoek te sien en aan die einde van die fliek staande toegejuig te word."

“Ek’t die Amerikaanse vervaardiger Spike Lee tydens ’n ete ontmoet. Ek het ook met Adam Driver (Kylo Ren in Star Wars) kennisgemaak. En die akteur Benicio del Toro het nadat ons fliek vertoon is met my kom gesels.”

We are only humans ?? #spikelee #cannesfilmfestival #theweeknd @festivaldecannes

A post shared by Brent Vermeulen (@brent_vermeulen01) on

Wie is Brent?

“Ek is stil en meer ’n introvert. Ek hou daarvan om kreatiewe dinge te doen. Ek kan baie vasberade wees wanneer ek ’n passie vir iets het. Ek is meer op my gemak wanneer ek by my vriende is (as in groot groepe mense of in die kollig).”

By sy suster, ­Julia, wat hom geïnspireer het om drama te neem. Foto: Instagram

Wat leer jy uit die bedryf?

“ ’n Mens moet elke dag goed voorbereid wees. Tyd is baie belangrik. Ek’t nie besef so baie mense is by die maak van ’n fliek betrokke nie. Dis harde werk!”

Saam met wie wil jy werk?

“Ek sal saam met die plaaslike regisseur Oliver Hermanus wil werk. Internasionaal sal dit ongelooflik wees om teenoor Johnny Depp, Leonardo DiCaprio en Christoph Waltz in ’n fliek te speel.”

Brent en Alex van Dyk (Pieter) in Die Stropers. Foto: Verskaf

Saam met wie het jy al gewerk? 

“Morné Visser, Juliana Venter, Danny Keogh en Erica Wessels. Hulle is ervare akteurs wat my baie ondersteun het. Morné (my pa in die film) het baiekeer grappies gemaak tussen ernstige tonele, wat my gehelp het om te ontspan.”

Jy is in gr. 11. Wat geniet jy die meeste op skool?

“Dit is beslis drama, waar ek my kreatiwiteit kan uitleef. Wat sport betref, was ek vroeër in my skoolloopbaan ’n stoeier, atleet en muurbalspeler, maar deesdae geniet ek dit net om rugby te speel.”

Loopbaan-hoogtepunte?

“In my jonger dae het ek baie hoogtepunte in sport gehad. Ek was byvoorbeeld ’n Suid-Afrikaanse stoeier en Wes-Kaapse atleet."

“Op kultuurgebied het ek dit geniet om verlede jaar in Fame te speel. Natuurlik ook om die hoofrol in my eerste fliek te vertolk. “En die eerste keer toe ek by die Cannes-rolprentfees op die rooitapyt stap.”

PRETFEITE OOR BRENT

  • Ek hou daarvan om te skets en te skilder. Ek speel kitaar in my vrye tyd
  • Ek is baie stylvol. Ek sal nie net enigiets gryp om aan te trek nie; dit duur gewoonlik ’n rukkie.
  • Ek is nie goed in videospeletjies nie. My vriende spot my altyd daaroor
  • My swakheid is roomys – my suster het al vir die grap vir my ’n bak roomys vir Kersfees gegee.
  • Ek hou daarvan om te skryf, soos liedjies, stories en gedigte. Maar ek hou nie van lees nie.
  • My hare groei baie vinnig; ek moet dit omtrent elke maand laat knip
  • Wanneer ek uiteet, eet ek altyd steak.
  • In die koshuis is my bynaam Sassy.
  • XXXTentacion is my geliefkoosde musikant
  • Ek dans al van kleins af en het al baie rolle in konserte gekry danksy my ritme.
  • Ek is mal daaroor om in die berge te gaan stap en dan versamel ek kristalle
  • My enigste suster, Julia (21), het ook op skool drama geneem. Sy het my gemotiveer om verder in die toneelkuns te gaan.

Waaroor gaan Die  Stropers? 

Die Stropers se première was in Mei in Cannes. Foto: Verskaf

Die Stropers speel af in die Vrystaat, waar die konserwatiewe plaasgemeenskap behep is met krag en manlikheid. Maar Janno (Brent) is anders.

Hy is geheimsinnig en emosioneel kwesbaar. Sy godsdienstige ma (Juliana Venter) bring Pieter (Alex van Dyk), ’n geharde straatkind, eendag huis toe en vra Janno moet dié vreemdeling soos sy broer behandel.

Die twee begin ’n stryd om mag, erflating en ouerlike liefde.