FOTOGENIES

Alex was vyf jaar oud toe sy ma, Teri, hom na ’n oudisie by ’n talentagentskap neem.

Dit was nadat haar kollegas haar gesê het haar seuntjie is baie fotogenies. Die akteur was 14 jaar oud toe sy familie na Los Angeles verhuis.

DIE FLIEK

In die nuwe fliek A.X.L. vertolk Alex die rol van Miles, ’n tienerseun wat die militêre robothond A.X.L. op ’n rommelwerf aantref.

Dié brak het gevorderde kunsmatige intelligensie. Alex speel teenoor die sangeres Becky G en die Netflix-reeks 13 Reasons Why se Alex MacNicoll in dié aksiefliek, wat op 24 Augustus in Suid-Afrika uitgereik word.

DIE FILMSTER

Alex (20), wat gebore is in Kansas City, Amerika, se eerste groot fliekrol was in Ithaca van 2015 teenoor Meg Ryan en Tom Hanks. "Hulle was regtig gawe mense wat my onder hul vlerk geneem het," vertel hy oor dié groot sterre.

Net ná die fliek het hy die rol gekry van Bram Bowman in die dramareeks Colony. Sy groot droom is om ook agter die skerms in die rolprentbedryf te werk.

SPORT EN TEATER

Op skool in Kansas City het hy bofbal en sokker gespeel, maar sy groot liefde was altyd die verhoog.

"Dit was ’n gevoel van wegbreek van jou eie lewe en ’n karakter word. Dis asof alles in jou persoonlike lewe verdwyn – dis soos ontvlugting," sê Alex.

‘BALLERINO’

Alex het ballet op skool gedoen en dit help hom nou in sy toneelspel.

"Sport en ballet het gehelp dat ek daai verwerping kon hanteer – en verstaan as iets nie werk nie, is daar altyd nog ’n geleentheid."

BRONNE: IMDB.COM, SYFY.COM, WMAGAZINE.COM, TALKNERDYWITHUS.COM, KANSASCITY.COM