Fatherhood

2021. 110 MIN. 10-12 O.
BESKIKBAAR OP NETFLIX

Waaroor gaan dit?

Kevin Hart en Melody Hurd, wat pa en dogter speel,
Kevin Hart en Melody Hurd, wat pa en dogter speel, se band in die fliek roer die hartsnare. Foto: Netflix

Dié komiese drama vertel die ware verhaal van ’n wewenaar wat by die diepkant van ouerskap ingegooi word. Matt Logelin (Kevin Hart) en sy vrou, Liz (Deborah Ayorinde), se eersteling, ’n babadogter, word gebore. Maar kort ná haar geboorte sterf Liz skielik. Matt moet dan vinnig leer om die skoene van pa én ma vol te staan.

Dis pajamadril, slapelose nagte, selfverwyt, druk van sy skoonma se kant . . . Hy probeer sy werk hou én staande bly met die hulp van sy vriende Jordan (Lil Rel Howery) en Oscar (Anthony Carrigan).

Daar wink selfs ’n kans op liefde. Maar net wanneer dit lyk of die enkelpa alles onder beheer het, val dinge weer uitmekaar.

Hoe gaan Matt die druk hanteer en waar pas sy dogter in sy lewensplan in?

Is dit die kyk werd?

Dis weinig dat die onderwerp van enkelpa’s in die kollig geplaas word, maar dié fliek wys dit op die mooiste manier. Dis gegrond op Matt Logelin, ’n enkelpa en voormalige projekbestuurder by Yahoo, se memoires van 2011, Two Kisses for Maddy: A Memoir of Loss & Love.

Alfre Woodard speel Kevin se skoonma.
Alfre Woodard speel Kevin se skoonma. Foto: Netflix

Die komiese ondertone van die fliek maak die ernstige kwessies in Fatherhood meer aangenaam. Die 10-jarige Melody Hurd kruip as die bekkige Maddy sommer diep in kykers se hart in.

Lil Rel en Anthony se spel as die hoofkarakter se pelle kielie ook die lagspiere. Kevin Hart is self ’n pa van vier, en sy spel as ’n enkelpa in die fliek is baie inspirerend.

Die band wat hy en die talentvolle jong Melody in die fliek ontwikkel, is baie geloofwaardig. Fatherhood roer die hartsnare.

– ABBY-GENE BISSOLATI

STROOM OOK

STOWAWAY

Wetenskapsfiksieriller.
2021. 117 MIN. 13 T.
BESKIKBAAR OP NETFLIX

Stowaway.
Foto: Netflix

Drie ruimtereisigers (Anna Kendrick, Daniel Dae Kim en Toni Collette) vertrek op ’n sending van twee jaar na Mars.

Hul opdrag is taamlik alledaags – hulle is nie die eerste mense wat Mars toe gaan nie. Hul onbedoelde verstekeling is ’n ingenieur (Shamier Anderson van die TV-reeks Wynonna Earp) wat tydens toetse voor die lansering beseer is en bewusteloos geraak het.

Toe hy bykom, sien hy die Aarde as ’n verre blou albaster. Toe hy sy aanvanklike paniek te bowe kom – hy het baie verantwoordelikhede tuis – vestig hy hom in ’n roetine saam met die bemanning deur hulle in die skip te help.

Die probleem is hul skip was oorspronklik ’n tuig vir twee mense. Dis aangepas om drie ruimtereisigers te akkommodeer . . . Daar is glad nie genoeg suurstof of voorraad aan boord vir vier mense nie.

Soos hul mederuimtereisigers in Apollo 13 (1995), Gravity (2013) en The Martian (2015) moet die bemanning ’n manier bedink om hul reis te oorleef.

Al voel die storie oorbekend – tot een plek beperk, ’n klein rolverdeling en die gewone elemente van ruimtereisigers wat in gevaar verkeer – is Stowaway steeds spannend, sonder melodrama en geanker deur skitterende spel van talentvolle akteurs wat geloofwaardig menslike karakters in ’n uitsonderlike situasie skep.

– DENNIS CAVERNELIS