PINOCCHIO

Fantasie.
Met Federico Ielapi en Roberto Benigni.
Regisseur: Matteo Garrone.
10-12OGrG.

Teen dié tyd ken jy al die klassieke sprokie van Pinocchio, die houtseuntjie wie se neus groei wanneer hy nie die waarheid vertel nie. Die Italiaanse rolprentmaker Matteo Garrone gee ’n nuwe blik op dié ikoniese verhaal.

Die fliek, wat op Carlo Collodi se boek van 1883, Die Avonture van Pinocchio, gegrond is, bly getrou aan die oorspronklike storielyn van ’n eensame timmerman, Geppetto, wat ’n houtseuntjie maak. Toe die seuntjie lewend word en weghardloop, lei dit tot ’n rits ongewone avonture.

Sy pad kruis boonop met kleurryke en soms grusame karakters in ’n vreemde, wonderlike wêreld wat met verbeeldingryke gediertes gevul is.

Die jong akteur Federico Ielapi (10) moes elke dag drie uur lank in die grimeerstoel sit om hom in Pinocchio te omskep. Die Oscarbekroonde akteur Roberto Benigni, wat in 2002 die rol van Pinocchio vertolk het, speel nou Pinocchio se “pa”, Geppetto.

Die Italiaanse nuweling Federico lelapi is Pinocch
Die Italiaanse nuweling Federico lelapi is Pinocchio. Foto: Greta De Lazzaris

Die Franse aktrise Marine Vacth vertolk Pinocchio se lojale vriendin, die feetjie Fata Turchina, wat hom probeer oorreed dat sy droom om ’n regte seun te word nooit sal waar word as hy nie bereid is om te verander nie. Die meeste karakters, insluitend Pinocchio, is geskep deur prostetiese grimering pleks van om op rekenaars gedokter te word.

Roberto “is die seun van arm Toskaanse boere” en is goed vertroud met die storie van Pinocchio, sê die regisseur, Matteo.

“Hy is die perfekte Geppetto.”

Die Italiaanse nuweling Federico lelapi is Pinocch
Roberto Benigni speel Pinocchio se pa, Geppetto. Foto: Greta de Lazzaris

“Pinocchio is ’n droom wat ek al van my kinderdae af met my saamdra,” sê Matteo. “Ek het steeds op my lessenaar my eie persoonlike Pinocchio-storiebord wat ek geteken en ingekleur het toe ek klein was, en ek is baie sentimenteel daaroor. Die liefde wat ek vir Pinocchio het, is nie liefde met die eerste oogopslag nie. Dit is net ’n karakter tot wie ek nog altyd aangetrokke gevoel het.”

Hoewel die aksiebelaaide spanningsverhaal al die bekende en verwagte elemente bevat, soos Pinocchio se neus wat groei en die kriek wat praat, word dit op ’n ongewone manier aangebied. Dit speel af in Italië en bied ’n ryk fantasiewêreld wat iets anders inhou as die gewilde Disney-weergawe.

Resensente gee dit 89% op die webtuiste Rotten Tomatoes. Peter Bradshaw van The Guardian gee dit vier uit vyf sterre.

“Hulle gee ons ’n storie wat sentimentaliteit en die groteske op ’n baie skrikwekkende manier kombineer,” skryf hy. “Dit lyk soos ’n gruwelfliek. Pinocchio is ’n bisarre storie en Garrone maak van dit ’n vreemde maar bevredigende skouspel.”

Springmieliefeit
Die regisseur Matteo Garrone het R2,7 miljoen uit sy eie sak betaal om die fliek in Engels oor te klank voor dit ’n verspreider gehad het.

PROMISING YOUNG WOMAN

Komedieriller.
Carey Mulligan, Alison Brie en Laverne Cox.
Regisseur: Emerald Fennell.
16DTSG.

Almal het gesê Cassie is ’n belowende jong vrou – dis nou tot iets haar toekoms ontspoor het. Niks in Cassie se lewe is soos dit lyk nie: Sy is slim, slinks en leef snags ’n geheime dubbele lewe.

’n Tragedie in haar verlede spook by haar en sy begin ’n vreemde vorm van wraak neem op mans wat oor haar pad kom. Daar word reeds gesê Carey Mulligan se spel as Carrie is ’n loopbaanhoogtepunt.

Carey Mulligan vertolk die rol van Cassandra
Carey Mulligan vertolk die rol van Cassandra "Cassie" Thomas. Foto: Focus Features

WONDER WOMAN 1984

Aksie.
Gal Gadot, Chris Pine en Kristen Wiig.
Regisseur: Patty Jenkins.
10-12OG.

Gal Gadot hervat haar rol as Diana Prince, oftewel Wonder Woman, in dié opvolg van DC Comics se lokettreffer van 2017, Wonder Woman. Die jongste fliek speel af dekades ná die eerste een. Die onsterflike godin van die Amasones bevind haar nou in die 1980’s in die Koue Oorlog.

Gal, wat in Israel gebore is, is in 2004 op 18 as Mej. Israel gekroon. Foto: Warner Bros. Pictures
Gal, wat in Israel gebore is, is in 2004 op 18 as Mej. Israel gekroon. Foto: Warner Bros. Pictures

Diana moet weer die wêreld red – dié keer van Maxwell Lord (die Narcos-ster Pedro Pascal), ’n skatryk, magshonger mediamagnaat wat saamspan met ’n wetenskaplike, dr. Barbara Minerva (Kristen Wiig). Wonder Woman moet dan haar kêrel, Steve Trevor (Chris Pine) – wat onverklaarbaar uit die dood terugkeer – red.

Gal moes vir haar jongste aksierol onder meer swaardwerk, koeng foe, skopboks, capoeira en Brasiliaanse jiujitsu aanpak om haar gereed te kry vir die nuwe Wonder Woman-fliek.

Gal Gadot in aksie as die superheld Wonder Woman.
Gal Gadot in aksie as die superheld Wonder Woman. Foto: Warner Bros. Pictures.

“Ek dink die eerste fliek was die geboorte van ’n held, en dié keer wou ons dieper gaan,” sê die ma van twee.

“Dit gaan oor die gevaar van gulsigheid, en ek dink dis ’n baie relevante tema in die era waarin ons nou leef. Dit voel of almal in ’n wedloop is vir meer, en wanneer jy kry wat jy wil hê, is daar maar net weer ’n volgende ding – en wat is die prys?”

THE PERSONAL HISTORY OF DAVID COPPERFIELD

Historiese drama.
Met Dev Patel, Hugh Laurie, Aneurin Barnard en Tilda Swinton.
Regisseur: Armando Iannucci.
O.

Dié fliek is gegrond op die 1850-boek van Charles Dickens en het Dev Patel in die titelrol.

As seun is David versot op sy enkelma, Clara (Morfydd Clark), en hul huishoudster, Peggotty (Daisy May Cooper). Maar als verander toe sy ma met die wrede Mr. Murdstone (Darren Boyd) trou en hy die huishouding oorneem.

Hy stuur David na ’n fabriek om daar te gaan werk. Dis nie pret nie, maar David hou mense dop en skryf hul snaakse of vreemde uitdrukkings neer. Kort voor lank het hy ’n hele versameling van menslike gedrag. 

Die Italiaanse nuweling Federico lelapi is Pinocch
Die Slumdog-Millionaire ster Dev Patel vertolk die rol van David Copperfield. Foto: Lionsgate
BRONNE: FILMFINITY (PTY) LTD., VOGUE.COM, TIME.COM, VANITYFAIR.COM, SMH.COM.AU, INVERSE.COM, EONLINE.COM, THE TELEGRAPH