Al 80 jaar lank beskerm hy die fiktiewe stad ­Gotham teen booswigte soos die Joker, Penguin en Poison Ivy, maar steeds bly die held agter daardie ikoniese swart vlermuis-­masker enigmaties.

Sedert die wêreld Batman die eerste keer op 30 Maart 1939 ontmoet het, het miljoene aanhangers al sy strokiesprente gelees en na fliekteaters gestroom om die superheld te sien gat skop.

“Batman is die mensdom se tydlose held – en hy het maar nog net begin,” skryf die strokiesboekuitgewer DC Comics oor die mylpaalverjaardag van een van hul bekendste superhelde.

Om dié mylpaal te vier, kyk ons terug na agt dekades van aksie in die lewe van die beroemde alter ego van die fiktiewe ryk sakeman Bruce Wayne.

Wie het al die masker gedra?

Batman is al deur verskeie groot sterre op die silwerdoek en op die kassie gespeel.

Lewis G. Wilson

Hy was in 1943 die eerste akteur wat Batman in ’n fliek gespeel het.

Kritici het gekla dié New Yorker se stem is te hoog en sy lyf te rond om die aksieheld te speel. Die tydskrif Variety het hom al beskryf as die swakste Batman ooit.

Die akteur is in 2000 op 80 oorlede.

Robert Lowery

Die tweede silwerdoek-Batman het beter in die Batpak gepas toe hy dit in 1949 aantrek. Robert het 58 jaar oud geword en is in 1971 oorlede.

Adam West

Hy’s een van die bekendste Batman-akteurs ooit. Hy’t van 1966 af twee jaar lank die hoofrol in die televisiereeks Batman gespeel en was ook te sien in die 1966-fliek Batman: The Movie.

Hy is in 2017 op 88 oorlede.

Michael Keaton

In 1989 het Michael (nou 67) die hoofrol vertolk in die fliek Batman. Aanvanklik was aanhangers nie gaande oor hom nie, maar ná positiewe resensies oor die eerste fliek was hy ook in 1992 in Batman Returns.

Val Kilmer

Kritici meen Val (nou 59) was een van die flouste Batman-akteurs nog. Hy was in 1995 te sien in Batman Forever, maar het nooit weer met daardie vlermuisore verskyn nie.

George Clooney

Twee jaar ná Val het George (nou 57) die rol oorgeneem en die swart skouermantel ook in net een fliek, Batman & Robin (1997), gedra.

Kritici was nie gaande oor sy vertolking nie.

Christian Bale

Christian (nou 45) het in 2005 in die fliek Batman Begins verskyn, in 2008 in die bekroonde fliek The Dark Knight en ook in The Dark Knight Rises in 2012.

Die tydskrif Variety beskou hom as die beste Batman nog.

Ben Affleck

In 2016 het Ben (nou 46) die rol oorgeneem in die fliek Batman v Superman. Hy was ook Batman in Suicide Squad (2016) en in die superheldfliek Justice League (2017).

Die vroue in sy lewe
Batman se eerste liefde in die strokie was Julie M
Batman se eerste liefde in die strokie was Julie Madison – vertolk deur Elle Macpherson in Batman & Robin (1997), saam met George Clooney.
Kim Basinger was Vicki in Batman (1989), teenoor M
Kim Basinger was Vicki in Batman (1989), teenoor Michael Keaton in die rol van Batman.
met Catwoman. In Batman Returns (1992) is sy verto
Batman se langste verhouding was met Catwoman. In Batman Returns (1992) is sy vertolk deur Michelle Pfeiffer.
In The Dark Knight Rises (2012) is die rol van Cat
In The Dark Knight Rises (2012) is die rol van Catwoman deur Anne Hathaway vertolk.

Batman is nie ’n berugte rokjagter nie, maar daar was tog al ’n paar skoonhede aan sy sy.

Sy eerste liefde in die strokie was Julie Madison – vertolk deur Elle Macpherson in Batman & Robin (1997), saam met George Clooney.

Later was daar ook Silver St. Cloud en Vicki Vale. Kim Basinger was Vicki in Batman (1989), teenoor Michael Keaton in die rol van Batman.

Sy langste verhouding was met Catwoman.

In Batman Returns (1992) is sy vertolk deur Michelle Pfeiffer, saam met Michael Keaton as Batman; in Catwoman (2004) deur Halle Berry en in The Dark Knight Rises (2012) deur Anne Hathaway, teenoor Christian Bale in die rol van Batman.

Sy beste pel
Batman se skepper, Bob Kane. Foto: Gallo Images/Ge
Batman se skepper, Bob Kane. Foto: Gallo Images/Getty Images
Adam West as Batman en Burt Ward as Robin. Foto: G
Adam West as Batman en Burt Ward as Robin. Foto: Gallo Images/Getty Images

Robin, Batman se jonger vennoot in die stryd teen die bose, was ­sedert die eerste onafhanklike Batman­strokiesprent in 1940 aan sy sy.

Bob, sy skrywerskollega Bill Finger, wat hom gehelp het om die superheld te skep, en hul medekuns-
tenaar Jerry Robinson het Robin, die alter ego van die fiktiewe weeskind Dick Grayson, geskep om jonger lesers te lok.

Hul plan het gewerk en die verkope van Batmanstrokiesprente het daarna verdubbel.

Die skurke

Heath Ledger het die rol van die Joker in The Dark
Heath Ledger het die rol van die Joker in The Dark Knight (2008) vertolk.

Batman se aartsvyand, die Joker, het in 1940 in die eerste volwaardige Batmanstrokiesprent ver­skyn.

Dié gevaarlike karakter met die groen hare en spierwit vel is op die skerm vertolk deur onder andere Jack Nicholson in Batman (1989), Heath Ledger in The Dark Knight (2008) en Jared Leto in Suicide Squad (2016).

Later vanjaar verskyn die eerste vollengteprent oor dié skelm – Joaquin Phoenix sal die hoofrol in die fliek genaamd Joker speel.

Die ander booswigte wat Batman wou pootjie, was die Riddler, die Penguin, Poison Ivy, die Scarecrow en die minder bekende Clayface en Mr. Freeze.

Syfers
  • 13 Die ­getal flieks waarin die superheld op die silwerdoek was.
  • 32 Die getal pryse wat Heath ná sy dood vir sy rol as die Joker in The Dark Knight gewen het.
  • R15,7 miljard The Dark Knight Rises het dié bedrag laat inrol. Verlede jaar se superheldfliek Avengers: Infinity War het daarteenoor sowat R30 miljard laat inrol.
  • 2021 Dit is wanneer ons weer ’n nuwe vollengtefliek oor Batman op die silwerdoek sal sien. Dis nog nie bekend wie die hoofrol in die fliek, voorlopig genaamd The Batman, gaan speel nie.

Kitsfeite

  • Christian Bale het geweier om die rol van Batman te vertolk as Robin in die Dark Knight-flieks verskyn. Dit was glo omdat hy nie van dié karakter hou nie.
  • In een van die strokiesprente het Batman en sy aan-af-liefde, Catwoman, saam ’n dogter, Helena Wayne.
  • Bob, die superheld se skepper, het Batman eers met ’n rooi leotard en ’n swart broek, blonde hare en ’n gewone oogmasker geteken. Bill het later die skets help verander.
  • Die regisseur van The Dark Knight wou eintlik hê Heath Ledger moes Batman speel, maar Heath het die rol van die Joker gekry.
Bronne: batman-news, variety.com, denofgeek.com, screenrant.com, huffingtonpost.co.uk, thecrazyfacts.com, imdb.com, forbes.com; Foto's: Gallo Images/AFP, Gallo Images/Alamy, Warner Bros
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.