Liewe Lisa ***

Drama.
Met Hendrik Cronjé, Elani Dekker en Zane Meas.
Regisseur: Hendrik Cronjé.
13DTS.
Begin op 14 Februarie.

Waaroor gaan dit?

Daniel (Cronjé) het pas sy laaste eksamen aan die Universiteit Stellenbosch afgelê, maar wroeg ál meer oor sy lewe en die keuses wat hy gemaak het – of vír hom gemaak is.

Sy pos by ’n bekende maatskappy is reeds gereël, maar ’n verhouding met die baas se vrou laat Daniel se onsekerheid net verder verdiep. In hierdie reeds komplekse situasie vat sy vriendskap met die einste baas se dogter, Lisa (Dekker), boonop vlam en vat hulle saam die pad Weskus toe.

Maar die foute van sy verlede haal hom ook daar in. Toe hy daarvan probeer ontvlug, is dit die ­visserman Tom (Meas) wat hom oor ­Daniel ontferm.

Is dit goed?

Die fliek is selfbefonds en in ’n baie kort tydperk verfilm. Die veelsydige Hendrik is die draaiboekskrywer, regisseur, hoofspeler én redigeerder. Hoewel die storielyn van Liewe Lisa werklik en natuurlik voel, herinner dit plek-plek te veel aan The Graduate (1967), wat die inspirasie daaragter is.

Die redigering pla ook soms – veral die kameraskote en -hoeke tydens dialoog tussen die twee hoofspelers voel ietwat onnatuurlik. Dit laat die toneelspel ook by tye bot en afgestomp voorkom.

Die natuurtonele in St. Helenabaai en liefdestonele tussen Lisa en Daniel vergoed egter hiervoor. Dit vang die misterie van die Weskusdorpie en jong liefde vas.

Danie du Toit, van die musiekgroep Spoegwolf, maak van die klankbaan ’n kragtoer. Sy stem en musiek ontlok emosie by die kyker.

Liewe Lisa kom soms onafgerond voor, maar bied genoeg kykgenot om dit vir ­kykers die moeite werd te maak. Hendrik is ’n vars bries in die plaaslike rolprentbedryf: Hy is propvol belofte en duidelik lus vir flieks maak.

– FRANCO HAVENGA

Dominee Tienie ****

Drama.
Met Frank Opperman, Henriëtta Gryffenberg en Deon Lotz.
Regisseur: Sallas de Jager.
10-12OT.

’n Mens verwag ’n diepe gewroeg en baie drama wanneer jy na die lokprent van die Afrikaanse fliek Dominee Tienie kyk. Ligsinnige komedie is dit beslis nie, maar dis darem nie net swaar en neerdrukkend nie.

Dominee Tienie vertel die bekende verhaal van ’n sukkelende stadsgemeente waar die kerkbanke ál leër raak. Dit laat die vraag ontstaan: Is daar nog plek vir predikante in die moderne ­samelewing? Is daar nog plek vir die kerk?

In dié fliek handhaaf die regisseur, Sallas de Jager, die man agter flieks soos Free State en Roepman, ’n fyn balans tussen die ernstige vrae waarmee ds. Tienie Benade (vertolk deur Frank Opperman) spook en komiese oomblikke wat fliekgangers hardop laat lag.

As jy in ’n Afrikaanse kerk grootgeword het, sal jy deurgaans met die karakters en tonele kan identifiseer – die tannie wat rondom die dominee kloek en ’n ouderling wat haaks is oor onbenullighede . . . Selfs die pastorie is lewensgetrou.

Dominee Tienie vertel ’n unieke, outentieke verhaal waarby baie kykers aanklank sal vind. Die fliek is van ’n hoë gehalte met ’n roerende kinkel wat diep raak.

Op die ou end gaan jy dalk saam met ds. Tienie introspeksie doen.

 – CHARLEA SIEBERHAGEN-GREY