Die lokprent vir die nuwe Afrikaanse fliek Liewe Lisa is Donderdag uitgereik en Hendrik Cronjé se karakter, Daniël, is ver verwyder van die opgewekte Lukas.

In die lokprent wroeg ’n ernstige Daniël oor sy verlede en is Hendrik selfs in die rol met lang baard te sien.

Die akteur Hendrik Cronjé as Daniël in die fliek,
Die akteur Hendrik Cronjé as Daniël in die fliek, Liewe Lisa.

Daniël is ’n jong man wat reeds ’n goeie werk. Maar dan raak hy onseker oor die rigting wat hy ingeslaan het, het Hendrik voorheen aan Huisgenoot oor die fliek vertel.

Volgens ’n verklaring oor die fliek, word Daniël vasgevang in ’n buite-egtelike verhouding met ’n invloedryke sakeman se vrou. Na die verhouding beëindig is, kruis sy pad met Lisa (vertolk deur Elani Dekker), die einste invloedryke sakeman se dogter.

Die foute van sy verlede haal hom egter vinnig in en Daniël vlug en ontmoet die visserman Tom (vertolk deur Zane Meas).

Volgens ’n verklaring is die nuwe fliek deur die film The Graduate (1967) geïnspireer.

In 2014, terwyl Hendrik besig was met ’n honneursgraad in film en visuele media aan die Universiteit van die Vrystaat, het die dosent en voormalige 7de Laan-akteur Chris Vorster vir die klas die rolprent The Graduate gewys.

“Dit het iets in my aangewakker,” het Hendrik vroeër vanjaar aan Huisgenoot vertel.

Hendrik het saam met sy broer, Johan, die idee vir Liewe Lisa begin ontwikkel.
Maar Hendrik vertolk nie net die hoofrol nie, hy is ook die fliek se draaiboekskrywer en regisseur.

Die fliek sal vanaf 14 Februarie in fliekteaters te sien wees.