Tyd om vlerke te sprei

Melissa was pas uit matriek toe sy drie jaar gelede die rol van Chrissie Bekker in Getroud met Rugby losslaan. Sedertdien het Chrissie van ’n skooldogter tot ’n jong vrou gegroei.

“Sy het deur soveel lewensfases gegaan. Dit was nooit ’n vervelige rol om te vertolk nie,” sê Melissa (21). “Dit was ’n moeilike besluit om die sepie te groet, maar ek wil nie net as Chrissie Bekker bekendstaan nie. Ek het gevoel die tyd is reg om nuwe geleenthede te verken.”

En een so ’n geleentheid het oor haar pad gekom: Van 13 September is sy te sien in Fiela Se Kind. Ná 31 jaar sal dié verhaal weer op die silwerskerm wys en Melissa speel Nina van Rooyen, die eiesinnige boskind met die woeste hare wat nie bang is om haar stem dik te maak nie.

Groet met ’n traan

Melissa het einde Maart haar laaste tonele vir Getroud met Rugby verfilm. “Toe die regisseur cut skree en almal my op die stel groet, het ek in trane uitgebars. Jy groet nie net jou karakter nie; jy groet ’n plek en mense wat drie jaar lank daagliks ’n groot rol in jou lewe gespeel het.”

Boskinders

Die eerste fliekweergawe van Fiela Se Kind is nege jaar voor Melissa se geboorte uitgereik. Sy was ’n leerder aan die Gereformeerde Hoërskool Dirk Postma in Pretoria toe sy die rolprent die eerste keer gekyk het.

Melissa in ’n toneel uit dié fliek.

Sy erken dit was ’n uitdaging om die rol van die ikoniese boskind, wat in die 1998-weergawe deur Marchelle Verwey vertolk is, te speel. “Dis groot skoene om vol te staan. Die draaiboek is aangepas en ek het probeer om my eie stempel op Nina af te druk.

“Ons verskil baie, maar ons het darem een ooreenkoms: ons liefde vir die bos. Sy is ook ’n taai karakter en ek bewonder hoe sy nie bang is om haar sê te sê nie.”

Die toneelgogga byt

Melissa het in Pretoria grootgeword en is die oudste van Pieter en Elsabé Willering se twee kinders. “Ek het ’n jonger broer, Bertus (14).”

Sy het op laerskool gimnastiek beoefen en as akrobaat uitgeblink. Dis waar haar liefde vir die verhoog ontwikkel het.

“Ek het eers in gr. 8 dramaklasse begin neem. Ek is ’n introvert en was baie skaam. My ouers het gedink drama sal my help om uit my dop te kruip. Ek was dadelik gek daaroor.”

Melissa saam met haar kêrel, Regardt Botha.
Melissa saam met haar kêrel, Regardt Botha.

Agter die kameras In Getroud met Rugby het Chrissie en haar kêrel, Daniël (Stefan Vermaak), besluit om oorsee te reis. Melissa is in die regte lewe in ’n verhouding met die regisseur Regardt Botha.

“Ons het mekaar twee jaar gelede by die kykNET Silwerskermfees in Kaapstad ontmoet. Hy maak my baie gelukkig en is my beste vriend.”

Tussen haar toneelspel deur is sy ’n finalejaarstudent in sielkunde aan Unisa.

“Ek wil graag in reekse en nog rolprente speel. Ek droom ook daarvan om eendag my eie flieks en ’n reisreeks oor Afrika te vervaardig.”

Melissa sê
  • Ek is baie skaam en ’n groot introvert. Ek is glad nie soos wat mense my as Chrissie leer ken het nie. Ons verskil baie van mekaar.
  • Ek hou niks van kos maak nie en weet ook nie hoe nie.
  • Ek het Nederlandse bloed. My pa is in Nederland gebore en dit is ook een van my gunstelingbestemmings om te besoek.
  • Ek is nogal ’n nerd. Ek beplan om my doktorsgraad in sielkunde te doen.
  • Ek is kunstig en ek teken en skilder graag.


Kitsfeite

Wat eet jy nie? Agurkies en olywe.

Wat is jou geheime plesiertjie? Chick-flieks.  Ek geniet ’n goeie tranetrekker soos The Fault in Our Stars.

Watter ster het jou al in ’n waas gelaat? Ek bewonder Rolanda Marais. Ek wil baie graag eendag saam met haar werk.

Wat is jou gunstelingblad om op Instagram te volg? The Bucket List Family. Dis ’n gesin wat die hele wêreld platreis.

Foto's: Chanél van der Merwe, Verskaf, Instagram/@melissawillering