Sy was skoon verbaas toe hulle die naam Sean-Marco Vorster google en foto’s van die aantreklike akteur met die vriendelike glimlag op haar rekenaarskerm verskyn.

“Hy lyk nogal soos Hugo gelyk het!” het dit deur Mardaleen Derks (44) se gedagtes geflits. Hugo (46), haar man van die afgelope 15 jaar, boer buite Gobabis in Namibië en sou nooit kon raai dat hy ooit sal opsoek hoe die akteur lyk wat hóm in ’n fliek gaan speel nie.

Die Huisgenootlesers Mardaleen en Hugo Derks word
Die Huisgenootlesers Mardaleen en Hugo Derks word gespeel deur Marguerite van Eeden en Sean-Marco Vorster.
Op hul troudag in 2004.
Op hul troudag in 2004.

Dié egpaar se paadjie tot by die kansel was so vol kinkels dat hulle verlede jaar Huisgenoot en kykNET se tweede liefdesverhaalwedstryd daarmee gewen het.

Hul eiesoortige romanse dien nou as inspirasie vir ’n splinternuwe fliek, wat op Valentynsdag volgende jaar op die silwerdoek begin.

Die naam? Vergeet My Nie.

As jong verliefdes het Mardaleen en Hugo ’n huis s
As jong verliefdes het Mardaleen en Hugo ’n huis saam met ’n groep Suid-­Afrikaners in Londen gedeel.
As jong verliefdes het Mardaleen en Hugo ’n huis s
As jong verliefdes het Mardaleen en Hugo ’n huis saam met ’n groep Suid-­Afrikaners in Londen gedeel.

Dié fliek volg in die spore van Huisgenoot se 2016-eeufeesfliek, Vir die Voëls, wat op die ware liefdesverhaal van Irma en Sampie de Klerk van Newcastle, KwaZulu-Natal, gegrond is.

Die verfilming van Vergeet My Nie begin in Junie – en die afgelope paar maande het vriende en familie gereeld by Mardaleen en Hugo probeer uitvis wie hul rolle in die fliek gaan vertolk.

Saam met hul kinders, Githe (13) en Liam (11), in
Saam met hul kinders, Githe (13) en Liam (11), in Namibië.

“Mense gee ook voorstelle van wie hulle dink goed in ons rolle sal werk,” vertel Mardaleen. “Ek het al vreeslike mooi komplimente gekry soos wanneer mense sê dié of daai een sal goed in my rol pas.”

Maar nou is die aap uit die mou: Sean-Marco speel Hugo, en Marguerite van Eeden, wat die hoofrol in Vaselinetjie vertolk het, Mardaleen.

Marguerite van Eeden
Marguerite van Eeden

“Ai, jinne, sy het bruin hare en blou oë, en ek kan iets van my jonger self in haar sien,” het Mardaleen, ’n Afrikaansonderwyser, gedink toe die regisseur, André Velts, haar inlig Marguerite is vir die hoofrol gekies.

“Ek hou van wat ek in haar sien: haar natuurlikheid, oop gesig, onopgesmuktheid, en sy lyk regtig vrolik.

“Ek het Vaselinetjie gesien en dink sy het haar rol uitstekend vertolk; dus het ek ook respek vir haar toneelspel en talent.”

Sean-Marco was al te sien in die flieks Susters en Die Windpomp, maar die Derkse erken hulle het eers nie geweet wie hy is nie – vandaar die Google-soektog. En Hugo se reaksie?

Sean-Marco Vorster
Sean-Marco Vorster

“Tevredenheid,” sê die boer van min woorde. “Ek voel baie geëerd dat so ’n manlike ou gekies is om my rol te vertolk.”

Op Gobabis vra mense Mardaleen en Hugo gedurig wanneer die fliek uitkom.

“Almal is baie opgewonde vir ons. Net sodra jy dink jy het vergeet van die groot opwinding wat ons te beurt geval het, keer ’n oom of tannie op die dorp ons voor en vra: ‘So wanneer is jul fliek klaar?’ ” vertel Mardaleen.

In die week, wanneer sy op Gobabis skoolhou, woon sy en hul twee kinders, Githe (13) en Liam (11), op die dorp. Vrydae durf hulle die plaaspad van 135 km aan om naweke by Hugo te wees.

Thea: Die karakter het in Namibië grootgeword en i
Thea: Die karakter het in Namibië grootgeword en is al sedert hul kinderjare met Hugo bevriend. Sy woon ook in Huis Konnetie, maar werk meestal op skepe en reis die wêreld vol. Sy word gespeel deur die Pasella-aanbieder Amalia Uys, wat veral bekend is vir haar rol as Sanmarie in die sepie 7de Laan.
Lara Kenley Swart, wat te sien was in die TV-reeks
Lara Kenley Swart, wat te sien was in die TV-reekse Outlander en Boland Moorde, speel Mardaleen se beste vriendin, Lara. Hulle durf die Londen-­avontuur saam aan. Sy is ’n lewenslustige vrygees en nie skaam om haar flikkers te gooi nie.
Albert: Dié karakter word gespeel deur Rikus Strau
Albert: Dié karakter word gespeel deur Rikus Strauss, wat onder 7de Laan-kykers bekend is as Tjattas. “Hy en Stephanie sal deur baie gesien word as die perfekte voorstedelike paartjie,” sê Rikus. “Hy mis dikwels Suid-­Afrika, maar is doodgelukkig solank Ste­phanie by hom is.”
Braam: Die rol van Mardaleen se universiteitsliefd
Braam: Die rol van Mardaleen se universiteitsliefde word vertolk deur Arno Greeff, wat in die flieks Vase­linetjie en Die Pro en die sepies Ge­troud met Rugby en Binnelanders te sien was. “Hy is ’n arrogante pierewaaier en nie die soort ou wat ’n meisie se hart reg benader nie,” sê Arno.
Dieter: Die rol van Hugo se neef word vertolk deur
Dieter: Die rol van Hugo se neef word vertolk deur Pietie Beyers, wat te sien was in die fliek Skemerson en die sepie Binnelanders. Dié bly ook in Huis Konnetie en is so ernstig oor reëls dat hy selfs tyd hou van hoe lank sy huisgenote stort . . .
Stephanie: “Sy is ouer as die ander Huis Konnetie-
Stephanie: “Sy is ouer as die ander Huis Konnetie-inwoners en ’n soort ma­figuur vir hulle,” sê die aktrise Leché Joubert oor haar karakter. Stephanie en Albert is in ’n verhouding. Leché het verlede jaar haar dramagraad aan die Performing Arts Lifestyle Institute in Pretoria behaal.
Vivienne: Die veteraan­aktrise Fiona Ramsay vertol
Vivienne: Die veteraan­aktrise Fiona Ramsay vertolk die rol van die eksentrieke hygromanskrywer wat in Londen deur Mardaleen versorg word. Vivienne wil nie hê die liefde moet Mardaleen verhoed om haar droom te verwesenlik om ’n suksesvolle uitgewer te word nie.
Nicky: Die Jou Romeo-ster Elani Dekker vertolk die
Nicky: Die Jou Romeo-ster Elani Dekker vertolk die rol van Huis Konnetie se opstandige, jongste inwoner, Nicky.

Elke keer wanneer Mardaleen die plaashekke oopstoot, bevind sy haar in ’n ander wêreld en voel sy tuis – presies waar sy moet wees op die plaas wat haar karakter ook in die fliek leer ken; die plek waar liefde vir haar geblom het.

En nou kan sy dié storie wat sy vir Huisgenoot en kykNET se kompetisie ingeskryf het ook met ander deel.

“Ek en Hugo het van die begin af gesê ons hoop ons verhaal sal mense inspireer om weer in die liefde te glo.”

Die akteurs in die hoofrolle

Marguerite (22), ’n finalejaarstudent in B.A. (Geesteswetenskappe) aan die Universiteit Stellenbosch, was midde-in haar eksamen toe sy die draaiboek van Vergeet My Nie lees.

“Toe ek dit begin lees, kon ek dit nie neersit nie,” sê sy en bieg haar studie het toe maar stadig gevorder.

“Ek het myself gedurig met ’n glimlag op die gesig betrap. Mardaleen laat my baie aan my beste vriendin dink. Hulle is albei go-getters wat nie terugstaan vir dit wat hulle in die lewe wil hê nie.”

Marguerite en Mardaleen sal mekaar die eerste keer tydens die verfilming van die fliek ontmoet.

Die aktrise was maar 18 jaar oud toe sy die rol losslaan van die ouer Vaselinetjie in dié fliek gegrond op Anoeschka von Meck se gelyknamige boek.

Haar spel was so indrukwekkend dat sy in 2017 op die Silwerskermfees eervolle vermelding gekry het as opkomende jong aktrise.

Sedertdien was sy ook op televisie te sien as Anita in Sarah Se Geheim, en as Alex in Fynskrif, waarvan die tweede seisoen later vanjaar uitgesaai word.

Toevallig was Marguerite en Sean-Marco albei in die Paarl op hoërskool, maar jare uitmekaar. “Ek was nog op laerskool toe hy in matriek was!” lag Marguerite, wat in 2015 aan die Hoër Meisieskool La Rochelle gematrikuleer het.

Sean-Marco (27) het gematrikuleer aan die Hoër Jongenskool en in Durbanville, noord van die Moederstad, grootgeword. Hy het in 2014 bekend geword as die branderplankryer Jaco du Toit in die jeugreeks Amaza op SABC1.

Sedertdien het hy al sy lyf aanbieder gehou in die SABC2-leefstylprogram Pasella en die SABC3-reeks NAweek en gespeel in die flieks Lyfstraf, Die Windpomp, Strikdas en Susters. Hy is ewe opgewonde om die rol van Hugo, sy eerste hoofrol in ’n fliek, te vertolk.

“Iets omtrent sy karakter het my na die rol aangetrek. Ek bewonder sy rustigheid, sin vir menswees en die manier hoe hy Mardaleen behandel het. Dis veral sy eerlikheid wat vir my uitstaan. Ek kan net hoop ek gaan goeie werk doen om hom reg uit te beeld.”

Die verfilming
Tonele vir Vergeet My Nie word van 10 Junie in Potchefstroom, Johannesburg, Kaapstad, Namibië en Londen, Engeland, verfilm.

Die detail in die fliektonele laat die 1990’s herleef. Kykers sal hulle weer in daardie era kan inleef met die musiek, modes en besonderhede van die tyd.

Dit gaan ’n opwindende uitdaging wees, erken die regisseur, André Velts. “Dis nogal ingewikkeld om vandag te verfilm aan tonele wat in die 1990’s afspeel,” sê hy.

Die verfilming in Londen verg veral fyn beplanning. Hy sê daar is baie dinge waarop hulle moet let, byvoorbeeld dat die moltreine en stasies vandag meestal anders lyk.

’n Mens kan ook nie mense afneem wat op selfone praat of met skootrekenaars of in moderne motors rondbeweeg nie!

Verder gaan Londen juis in dié tyd lekker besig wees vanweë die Wêreldbekerkrieket- én Wimbledontennistoernooi wat daar plaasvind.

Dié bedrewe regisseur, wat ook die regie van Raaiselkind, Die Pro, Knysna, Jou Romeo en Hartstog gedoen het, is gelukkig vertroud met die tydsgees van die era toe duisende jong mense ’n jaar of twee in Londen gaan werk het.

“Ek het die verwysingsraamwerk omdat ek dit self in 2001 gedoen het. Dit was in ’n tyd voor selfone en die sosiale media, toe ons nog padkaarte gebruik het om ons weg te vind.”
’n Lusmaker
Toe Mardaleen Coetzer in die 1990’s die eerste keer haar toekomstige man by sy studentehuis raaksien, was albei nog studente in Potchefstroom. Hugo was kaalbolyf, met net ’n rugbybroek aan, en sy kon nie anders as om na sy blokkiesmaag te loer nie.

Sy het toe nog weens seerkry en ontnugtering in die liefde versigtig getrap vir mans en gedink hy is ’n regte haan onder die henne.

Min het sy geweet dat Hugo op sy beurt reeds oor haar uitgevra het, net om te hoor: “Sy is nie jou tipe nie.”

Maar die noodlot het bepaal dat hulle ná universiteit saam met ’n groep jong Suid-Afrikaners in dieselfde kommune in Londen, Engeland, beland. Dis hier, in Huis Konnetie, dat die vlinders van verliefdheid in formasie begin vlieg het voor die lewe eers met hulle ’n paar draaie sou stap.

Ná hul tyd oorsee het ’n loopbaan en die stadslewe in Kaapstad vir Mardaleen gewink. Hugo het weer die plaaslewe in sy tuisland, Namibië, verkies.

Lank daarna het hul paaie weer gekruis, en ’n wipplankverhouding het oor die kilometers tussen Namibië en die Kaap ontwikkel. En al wou Hugo vir Mardaleen op die plaas hê, het sy bly vasklou aan die liggies en ’n lewe in die stad . . .

Vergeet My Nie is deur die Derkse se ware verhaal geïnspireer, maar vir die silwerdoekweergawe is selfs meer drama, humor en romanse ontwikkel, sê dr. Tarryn-Tanille Prinsloo, die draaiboekskrywer.

“Die oorspronklike liefdesverhaal bly dwarsdeur die grondslag waarom die fliek ontwikkel is,” sê sy, maar dit is uitgebrei in verdere intriges en avonture vir die fliek.

As deel van haar navorsing het Tarryn-Tanille die Derkse se storie gefynkam vir insigte oor wie hulle is en ook heelwat met die egpaar gekommunikeer.

“Ek kon agterkom hulle is plat-op-die-aarde, eerlike mense wat steeds halsoorkop verlief is en mekaar met groot respek behandel.”

Sy het haar ook verdiep in navorsing oor die 1990’s en die plekke waar die fliek afspeel.

“Ek het my diep in die 1990’s bevind, op soek na kenmerkende beelde, tekens en selfs tegnologie wat eie was aan daardie tyd. Baie het sedertdien verander.”

Die titel, Vergeet My Nie, is die naam van die koshuis waarin Mardaleen as Puk was, en dit is ook ’n tema wat dwarsdeur die rolprent vervleg is. Ondanks die afstand, tyd en kinkels op Hugo en Mardaleen se pad kan hulle maar net nie van mekaar vergeet nie.

Dis ’n liefdesverhaal met diepte, sê die vervaardiger Danie Bester, wat Vir die Voëls, Ballade vir ’n Enkeling, Pad na Jou Hart en die Bakgat!-reeks agter sy naam het.

“Die storie is toeganklik en menslik, roer op verskillende vlakke, daag uit en verander ’n mens se perspektief oor die wêreld en die liefde.”

Dries Scholtz en Andea de Jager, wat deel is van Danie se span by die Film Factory, staan hom as medevervaardigers by.

Die onderliggende tema van die rolprent is romanse wat oor vastelande, duisende kilometers en jare strek, sê Danie.

“As twee mense vir mekaar bedoel is, sal dit eindelik werk – maak nie saak watter struikelblokke langs die pad opduik nie.”

Tarryn-Tanille glo ook die fliek sal kykers se hartsnare roer.

“Ek hoop wanneer die fliek eindig, sal mense ’n oomblik lank bly sit, alles om hulle waarneem en besef die lewe is kosbaar, en ware liefde is skaars, maar die moeite werd.”