Die medevervaardiger van die fliek, Tim Theron, vertel dat hulle vanaf 6 Mei vir meer as vier weke op Hopefield in die Wes-Kaap aan die fliek gaan skiet.

Benewens Arnold (56), wat ná dekades in Hollywood vir die eerste keer weer in ’n Afrikaanse fliek sal verskyn en die rol van kol. Dick de Waal gaan vertolk, is daar talle plaaslike akteurs wat ook rolle in die fliek losgeslaan het.

“Ander akteurs soos Deon Lotz, Albert Pretorius, Albert Maritz, Rolanda Marais, Ira Blankenberg, Mothusi Magano en Jody Abrahams is ook te sien in die fliek,” verklap Tim.

“Dit is ’n ontsaglike sterk rolverdeling,” voeg hy by.

“Uit respek vir die gemeenskap van Griekwastad het ons besluit om nie die hele fliek daar te verfilm nie.”

’n Tasbare gevoel van verlies hang oor die plaashuis by Griekwastad waar die Steenkamp-gesin ses jaar gelede vermoor is.

“Ons wou nie ou koeie uit die sloot grawe en seerplekke oopruk nie. Dit is ook in die middel van nêrens en die logistiek sou ’n nagmerrie gewees het; daarom wil ons eerder nader aan Kaapstad skiet,” het Tim voorheen aan Huisgenoot vertel.

Hulle gaan wel ’n paar kerntonele op Griekwastad verfilm. “Daar is tonele waar van ons karakters byvoorbeeld die dorp binnery.”

Die res van die vervaardigers sluit in die bekende misdaadskrywer Deon Meyer asook Cobus van den Berg en Tracey Lange.

Tim, wat op Stellenbosch saam met sy vrou, Juanli, en twee kinders, Sophia (4) en Migael (1), woon, het ook onlangs ’n foto saam met Arnold en Deon op Instagram gedeel. 

“Wow, wat ’n enorme voorreg!,” het een van sy 14 900 Instagram-volgelinge laat hoor. 

“Die foto is geneem tydens ’n ete wat ons gehou het om vir Arnold welkom te sê in die Kaap en aan die res van die vervaardigers en akteurs voor te stel,” vertel die pa van twee.

Arnold, wat in Hollywood onder meer in die fliek The Mummy naam gemaak het, woon deesdae in Santa Monica, Kalifornië.

Arnold Vosloo. Foto: Argief

Hy het onlangs vertel dat hy daarna gesmag het om weer in ’n Afrikaanse fliek te speel.

En hoe voel dit vir Tim om met sulke name te werk?

“Dit is ’n fantastiese en absolute voorreg. Dis akteurs na wie jy opkyk en wens jy kry die kans om saam met hulle te speel. Dis wonderlik om hulle te leer ken, te sien hoe hulle voorberei en die rol aanpak,” vertel Tim. 

Op die fliek se amptelike Instagram-blad deel hulle ook ’n kykie agter die skerms.

Die fliek gaan oor kol. Dick de Waal wat die oënskynlike plaasaanval moes ondersoek waarin Deon (44) en Christel Steenkamp (43) en hul dogter, Marthella (14), gesterf het. 

Van links: Don se ouers, Deon en Christel, en sy suster, Mar­thella.

Eindelik is die enigste oorlewende gesinslid, hul seun, Don (nou 22), wat deur die jong akteur Alex van Dyk gespeel word, aan die driedubbele moord asook die verkragting van sy suster skuldig bevind. 

Don Steenkamp.

Hy dien nou op Upington in die Noord-Kaap ’n vonnis van 20 jaar gevangenisstraf uit vir die misdade wat hy as 15-jarige gepleeg het. 

Tim sê die rolprent gaan oor die soeke na die waarheid – hoe afgryslik daardie waarheid ook al kan wees.

“Die fliek begin waar Don die saak by die polisiekantoor aanmeld, sy weergawe van die gebeure en die ondersoek,” sê hy. Waar dit eindig, sal ons in die teater moet uitvind. 

Hou Huisgenoot dop in die komende weke vir die volledige rolverdeling.