Die Fouriesburg Country Inn, waar die tonele vir
Die Fouriesburg Country Inn, waar die tonele vir dié dorp se fliek, Selfmoordhotel, verfilm is. Foto: Lubabalo Lesolle

Dit is een van die versteekte juwele van die Vrystaat. Met die Malutiberge in die verte, die sierlike sandsteengebou van die NG kerk met sy spitsdak, en talle sandsteenhuise lyk Fouriesburg soos ’n toneel vasgevang in ’n reisbrosjure of skildery – of selfs die stel van ’n rolprent . . .

Dit is dié dat sy ondernemende inwoners nou kragte saamgesnoer het om sommer almal saam ’n fliek te maak in die hoop dat dit hul geliefde dorp van ondergang sal red nadat die covid-19-pandemie die stroom toeriste na hul tuisdorp laat opdroog het.

“Dit het as’t ware ’n spookdorp geword. Ons is grotendeels ’n toeristedorp en as hier nie voete kom nie, dan kom daar ook nie geld in vir die dorp nie,” verduidelik Gustav Venter (59), ’n plaaslike skrywer, die benarde situasie. 

Toe die coronavirus sy kloue in die land slaan, het dit ook Fouriesburg swaar getref.

Tydens vlak vier en vyf, toe die inperkingsregulasies op hul strengste was, moes talle gasteplase hul hekke sluit waar bruidspare vroeër teen die agtergrond van die majestueuse berge hul troubeloftes kom aflê het.

Gustav Venter en sy vrou, Erma, was die vervaardig
Gustav Venter en sy vrou, Erma, was die vervaardigers van die rolprent. Foto: Lubabalo Lesolle

Die hotel op die dorp, waar inwoners en toeriste graag bymekaar gekom het, was verlate. En die plaaslike watergat waar daar aande om gekuier is, se deure was dig toe.

Maar soos taai bittereinders het die dorpenaars nie moed opgegee op hul geliefde Fouriesburg met sy ouwêreldse karakter wat in 2013 as Kwêla se Dorp van die jaar aangewys is nie. 

Hulle het besluit om in hierdie moeilike tye hul dorpie in die Oos-Vrystaat op ’n vindingryke manier te bemark – om as’t ware hul lyf Hollywood te hou en ’n plaaslike rolprent te vervaardig.

“Ons wou iets doen om die gemoedere ’n bietjie te lig en vir die wêreld te wys watter pragtige en unieke dorpie Fouriesburg is,” sê Gustav. 

En só is die rolprent Selfmoordhotel uit sy pen gebore, met musiek wat ’n plaaslike sanger daarvoor gekomponeer het, en inwoners wat ekstras speel of in party gevalle hulself.

Die vier akteurs in die hoofrolle is nou wel nie Fouriesburgers nie, maar die dorpenaars het saamgewerk om die filmspan te akkommodeer. 

Erma Carsten-Venter op die stel van Selfmoordhotel
Erma Carsten-Venter op die stel van Selfmoordhotel. Foto: Verskaf

“Die hotel het gratis verblyf aangebied, en twee slaghuise op die dorp het vleis vir etes voorsien,” vertel Gustav.

“’n Hele dorp het saamgestaan om hierdie rolprent te maak.” 

Op die stoep van die Fouriesburg Country Inn Hotel sit Maxine Kroukamp (75) met haar kierie en drink ’n glas witwyn terwyl sy oor die straat uitkyk. Sy skuif haar breërandhoed reg wat haar byna soos die befaamde Liz Taylor laat lyk. 

“Hier was ’n hele kameraspan, en twee weke lank het die dorp gegons oor die rolprent. Dit het soos Hollywood gevoel,” vertel Maxine, wat as ’n ekstra in die rolprent verskyn.

“Ek was nog altyd lief vir drama en rolprente. Dit was lekker om op my oudag in ’n rolprent te kon speel.” 

Al het sy geen dialoog gehad nie, was dit steeds vir haar ’n heerlike ervaring, een wat haar opnuut trots maak om ’n jare lange inwoner van Fouriesburg te wees.

“Dit is wonderlik dat ons dorp in ’n rolprent gaan wees. Ek wil op geen ander plek bly nie.” 

Erna by Maxine Kroukamp. Maxine, 'n inwoner van di
Erna by Maxine Kroukamp. Maxine, 'n inwoner van die dorp, het as 'n ekstra in die fliek verskyn. Foto: Lubabalo Lesolle

Fouriesburg het ’n ryke geskiedenis – pres. M.T. Steyn van die Vrystaatse republiek het ’n huis hier gehad, en tydens die Anglo-Boereoorlog was dit tydelik die regeringsetel, vertel die dorpenaars jou. 

Maar die dorp kan nie net met ’n plek in die geskiedenisboeke spog nie, dit spog ook met sy eie kasteel. En dit was die inspirasie vir die draaiboek van Selfmoordhotel.

“In die 1970’s het ’n plaaslike sakeman ’n obsessie gehad om ’n kasteel op ’n berg buite die dorp te bou,” vertel Gustav.

Larika is ’n harde neut om te kraak, en hoe dieper die gat raak wat Dax vir haar grawe, hoe meer sukkel hy om self daaruit te kom.

“Hy het dit nie klaar gebou nie omdat sy geld opgeraak het. Later het iemand gekom en dit in ’n eksklusiewe gastehuis omskep. Ek het ’n idee gehad om ’n Agatha Christie-tipe ding daar te gaan skiet. Die kasteel leen homself tot so iets.” 

Toe hy nie toegang tot die kasteel kon kry nie, het hy besluit om sy fliek in die plaaslike hotel te laat afspeel. 

Gustav beskryf Selfmoordhotel as ’n wrang komedie. Die hoofkarakter Dax Esselen (gespeel deur Stephan Fourie) wil sy vrou, Larika (Carla Taute), help om ’n einde aan haar lewe te maak. Met die hulp van ’n sielkundige lok hy haar na die Oos-Vrystaat om sy plan in werking te stel.

“Larika is ’n harde neut om te kraak, en hoe dieper die gat raak wat Dax vir haar grawe, hoe meer sukkel hy om self daaruit te kom,” vertel Gustav, wat ook ’n medevervaardiger van die fliek is saam met sy vrou, Erma Carsten-Venter.

Die twee hoofakteurs, Carla Taute en Stephan Fouri
Die twee hoofakteurs, Carla Taute en Stephan Fourie. Foto: Verskaf

Hulle wil dit graag aan DStv se BoxOffice verkoop. 

Sy kontakte in die toneelwêreld het hom op die spoor van Stephan, Carla en die ander twee akteurs in die hoofrolle, George van der Merwe en Anserie Badenhorst, gebring.

Vir die klankbaan kon Gustav plaaslike talent benut. As inwoner van Fouriesburg het die sanger Neil Nachtrein nie twee keer gedink voor hy ingestem het om die musiek vir die rolprent te skryf nie. 

“Ons is ’n dorpie wat geheg is aan mekaar en ons help waar ons kan,” sê hy.

Toe Gustav vir hom die draaiboek stuur, het Neil dadelik aan die werk gespring.

“Die draaiboek leen homself tot ’n gespanne stryd tussen die karakters. Jy sit met karakters wat heeltyd tussen twee vure is, en dit ontlok emosie wat maklik met musiek vasgevang kan word.” 

Erma Carsten-Venter op die stel van Selfmoordhotel
Erma Carsten-Venter op die stel van Selfmoordhotel. Foto: Verskaf

By die plaaslike hotel se ontvangstoonbank sit nog een van die rolprente se sterre. Al het Eluan Rabe (35) homself gespeel, was sy rol as hotelbestuurder vir hom ’n uitdaging.

Die eerste toneel waarin hy sy woorde moes sê, moes 14 keer oorgeskiet word, vertel hy.

“Die filmspan was geduldig en het my heeltyd gerusgestel.”

Nou hoop hy net die rolprent “gaan voete na die dorp toe bring” nadat die hotel weens die pandemie maande lank geen inkomste gehad het nie.

“Dit het maar rof gegaan. Ons het baie kansellasies gehad. Daar was troues wat sou plaasvind wat toe skielik afgestel is . . .” 

Hy sê hulle kon genadiglik steeds vir hul werknemers hul salarisse betaal. Nie net het die hotel sy deure vir die filmspan oopgegooi om tonele daar te skiet nie, hulle het ook vir hulle gratis verblyf gegee.

“Ons is ’n gemeenskap wat mekaar uithelp waar ons kan,” verduidelik Eluan.

“Ons het besluit om saam te staan sodat ons kan naam maak.”

Eluan Rabe, die bestuurder van die dorpshotel, sê
Eluan Rabe, die bestuurder van die dorpshotel, sê die pandemie het hulle swaar getref. Foto: Lubabalo Lesolle

Tog weet hy nie of hy Fouriesburg se eie fliek wil sien nie.

“Ek is bang ek gaan vir myself skaam kry. Maar dit was steeds ’n heerlike ervaring.”

Ook Nelis Roos (47), die eienaar van die Windmill Pub and Grill, het homself in die fliek gespeel.

Met sy borselkop en rooi boskasiebaard lyk hy soos ’n plattelandse Jo Black waar hy agter die kroegtoonbank ’n sigaret sit en rook.

“Dit was iets wat ek nog nooit gedoen het nie. Dit was ’n great ervaring,” vertel hy van sy toneel waarin hy ’n paar woorde sê en drankies skink.

Die rolprent en die skiet daarvan het vir baie Fouriesburgers nuwe hoop in hierdie onsekere tye gebring, sê hy.

Nelis Roos, die eienaar van die plaaslike kroegman het homself gespeel. Foto: Lubabalo Lesolle
Nelis Roos, die eienaar van die plaaslike kroegman het homself gespeel. Foto: Lubabalo Lesolle

Veral die verbod op drankverkope en die aandklokreël het sy restaurant geknou.

“Dit het met ons almal sleg gegaan en vir ’n slag is daar iets positiefs op die dorp om oor te praat.” 

Hy wil graag hê die rolprent moet vir die land wys dat Fouriesburg die versteekte juweel van die Vrystaat is, sê Nelis.

“Mense hunker na die kleindorpse gevoel. En hier kry jy dit. Almal ken vir almal. Dit is een van die mooiste dele van ons land. As jy eers Fouriesburg se water gedrink het, wil jy altyd terugkom.” 

En as jy eers die fliek gesien het waarvoor ’n hele gemeenskap hande gevat en saamgewerk het, sal jy dalk net van daardie water wil gaan proe . . 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe