GELD EN MAG

Ná 13 jaar is die Deense drama After the Wedding weer op die silwerdoek. In die nuwe weergawe vertolk Michelle Williams (39) die rol van Isabel, ’n goedhartige Amerikaner wat in Kolkata, Indië, ’n kinderhuis bestuur.

’n Invloedryke uitgewer, Theresa Young (Julianne Moore), deel haar passie om kinders te help en stel daarin belang om as ’n weldoener betrokke te raak.

Julianne Moore en Michelle in After the Wedding. Foto: Sony Pictures Classics

Sy reël ’n ontmoeting met Isabel in New York om die vrou wie se projek sy wil steun beter te leer ken. Die vergadering is op die vooraand van Theresa se dogter se troue en Isabel word na die bruilofsfees genooi.

Dinge raak warm toe Isabel Theresa se man, Oscar (Billy Crudup), op die troue herken en besef haar uitnodiging was nie sommer toevallig nie. Dis ’n resep vir heelwat drama wat ná die troue uitspeel.

“My karakter bevind haar in ’n situasie met ’n vrou wat dink sy kan ’n prys op mense sit en dat haar aanbod vir Isabel aanloklik sal wees – dat dit geld en mag is waarna almal soek. Die eindelike vraag duik nader aan die einde op toe sy besef die geld wat voor haar neus rondgeswaai word, sal ’n invloed op ander mense se lewe hê.”

  • Die fliek After the Wedding is nou in teaters te sien

VIR VROUE

Michelle het in 2017 ’n rol in All the Money in the World gehad. Sekere van dié rolprent se tonele moes weer verfilm word nadat Kevin Spacey weens aanklagte van seksuele aanranding uit die fliek geskop is.

Kort hierna het dit aan die lig gekom Michelle is ’n skamele R1 000 per dag, altesaam R12 000, betaal om tonele vir die fliek oor te skiet, terwyl haar medester Mark Wahlberg R18 miljoen gekry het.

Die onthullings het skokgolwe deur die sosiale media gestuur, en Michelle is wyd geloof omdat sy haar stem laat hoor het.

“Dit is vir my lonend om van ander vroue te hoor – hoe my ervaring vir hulle ’n voorbeeld is van hoe om regverdigheid te vra.”

LIEFDESLEWE

Michelle het ná die dood van Heath Ledger, haar ekskêrel en die pa van haar dogter, Matilda (13), gesê sy glo steeds in die liefde.

Die paartjie se paaie het ses maande voor sy dood in 2008 geskei. Heath (toe 28) het weens ’n dwelmoordosis gesterf.

Michelle en Heath
Saam met Heath Ledger, wat in 2008 dood is. Foto: Gallo Images/Getty Images

“Ek sê altyd vir Matilda: ‘Jou pa was lief vir my voor enigiemand gedink het ek is talentvol of mooi of dat ek mooi klere het.’”

Michelle het jare lank oor Heath se dood getreur en is eindelik in 2018 met die musikant Phil Elverum getroud. Die twee is minder as ’n jaar later uitmekaar. 

KITSFEITE

  • Michelle het op 13 haar fliekdebuut in die gesinsfliek Lassie (1994), die storie van ’n jong seun (Tom Guiry) en sy kolliehond, gemaak.
  • Sy het ’n jonger suster en drie ouer halfsibbes uit haar pa se eerste huwelik.
  • Op 15 het sy met die goedkeuring van haar ouers versoek om mondig verklaar te word sodat sy sonder inmenging van die streng wette oor kinderarbeid ’n loopbaan in die toneelwêreld kon uitkerf.
  • Sy is gek oor lees en versamel skaars boeke. Sy het ’n eerste uitgawe van The Great Gatsby.
  • Die akteur Jake Gyllenhaal, teenoor wie sy en Heath in Brokeback Mountain (2005) gespeel het, en die aktrise Busy Philipps, saam met wie sy in Dawson’s Creek was, is haar dogter se peetouers.
  • Sy was Marilyn Monroe in die 2011-fliek My Week with Marilyn. Sy gaan dalk Janis Joplin speel in ’n biografie oor die musikant se lewe.
BRONNE: THE GUARDIAN.COM, NPR.ORG, VANITYFAIR.COM, ELLE.CO.UK, IMDB.COM
Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.