TV-FLIEKS

BAREFOOT (SABC3, Komedie)

Foto: Roadside Attractions.

Die swartskaap in ’n skatryk familie begin as opsigter in ’n psigiatriese hospitaal werk as deel van sy paroolvoorwaardes.

Sy pad kruis met ’n naïewe jong vrouepasiënt wat stemme hoor. Hy besluit dan om haar as sy metgesel na sy broer se troue te neem.

Met Evan Rachel Wood (foto) en Scott Speedman.

VRYDAG 27 JULIE 21:30 2014. 90 MIN. O13GT


HOTEL TRANSYLVANIA 2 (E.TV, Animasie)

Foto: Columbia Pictures.

Sake verloop aansienlik beter noudat Dracula die hotel se deure vir mense oopgegooi het.

Maar Dracula is stil-stil bekommerd sy kleinseun, Dennis, is meer mens as vampier. Hy roep die hulp van sy vriende in om van sy kleinseun ’n volbloedvampier te maak.

Met die stemme van Adam Sandler, Andy Samberg en Selena Gomez.

SATERDAG 28 JULIE 19:30 2015. 89 MIN. O


DIS KOUE KOS, SKAT (KYKNET, Dramakomedie)

In dié fliek, wat op Marita van der Vyver se topverkoperroman geskoei is, ontdek die kosskrywer Clara Brand haar man verkul haar met ’n veel jonger bokkie, wat boonop haar vriendin en kollega is.

In die nadraai van die egskeiding herontdek sy haar liefde vir die kookkuns.

Met Anna-Mart van der Merwe, Deon Lotz en Angelique Gerber.

SATERDAG 28 JULIE 20:00 2016. 106 MIN. O13


2.22 (M-NET, Riller)

Foto: Magnet Releasing.

Twee vliegtuie bots byna teen mekaar nadat ’n verblindende lig ’n lugverkeerbeheerder ’n paar sekondes lank verlam.

Sy dienste word dan opgeskort. Maar dis maar net die begin van sy nagmerrie.

Die voorval begin hom elke dag herhaal – en eindig boonop elke keer op presies dieselfde tyd: 2:22 nm.

Met Teresa Palmer en Michiel Huisman (foto).

SATERDAG 28 JULIE 21:00 2017. 98 MIN. 13GST


THIS BEAUTIFUL FANTASTIC (M-NET, Komedie)

Foto: Smudge Films.

’n Aweregse meisie wat ’n kinderboek wil skryf, haat plante.

As deel van haar huurooreenkoms moet sy die tuin by haar huis in Londen in stand hou.

Haar verhuurder kom agter sy skeep die tuin af en sê haar aan om dit reg te ruk.

Dan ontmoet sy haar aartsvyand: ’n knorrige, skatryk ouer man wat langsaan woon. Met Jessica Brown Findlay (foto) en Jeremy Irvine.

SONDAG 29 JULIE 05:20 2016. 100 MIN. O


DADDY’S HOME 2 (M-NET, Komedie)

Foto: Paramount Pictures.

Dusty en Brad is eindelik pelle en speel saam pa vir hul twee kinders. Hulle span saam om seker te maak die Kerstyd is perfek vir die kinders.

Maar die pa en stiefpa se nuutgevonde vennootskap word getoets wanneer hul eie pa’s opdaag en die hele vakansie op sy kop keer.

Met John Lithgow en Will Ferrell (foto), asook Mark Wahlberg en Mel Gibson.

SONDAG 29 JULIE 20:05 2017. 100 MIN. O13GT


REEKSE

TWEE BLONDINES OP TOER (VIA)

Foto: jacques Stander.

In dié splinternuwe program gaan Anelma le Roux en Irusha Kröhn (foto), die aanbieders van VIA se verlowingsprogram Sê Net Ja, op ’n laaste reis voor die volgende hoofstuk in dié twee boesemvriendinne se lewe – dié van moederskap.

Hulle het 15 dae om 10 stede in sewe lande in Oos-Europa te verken. En natuurlik het hulle botsende maniere van reis én moet hulle dit op ’n knap begroting doen.

WOENSDAE OM 18:00


WILL & GRACE (M-NET)

Foto: NBC.

Eric McCormack en Debra Messing (links op die foto) keer terug na die kassie as die gewilde Will en Grace in die negende seisoen van dié sitkom.

En hul pelle Jack en Karen (Sean Hayes en Megan Mullally, foto) maak ook hul verskyning.

In die jongste seisoen is Grace pas geskei. Sy besluit dan om weer by Will in te trek. En dit beteken natuurlik net een ding: hope drama.

Hulle leer ook dis nie altyd maklik om ouer te raak nie.

WOENSDAE OM 19:30