Kanarie

*****
Drama.
Met Schalk Bezuidenhout, Hannes Otto en Germandt Geldenhuys.
Regisseur: Christiaan ­Olwagen.
16TNVSG.

Waaroor gaan dit?

Aanvaarding.

Deur mense, God en jouself. Dis 1985 en Johan Niemand word vir diensplig opgeroep. Hy kry sy “papiere” nadat hy ná ’n uit­daging in ’n trourok deur Villiersdorp se hoofstraat gestap het.

In sy verbeelding was hy Boy George en al die seuntjies op die dorp is as “moffies” uit­gekryt omdat hulle kuns studeer, musiek maak en anders as die ander ouens is.

Al is musiek belangrik om die storie van Johan en sy makkers in die lugmag op Valhalla te vertel, oordonder dit nie.
Die fliek is gegrond op Charl-Johan Lingenfelder se lewe. Hy sorg ook vir die musiek in die prent.

Johan (Bezuidenhout) word gekies vir die Suid-Afrikaanse Weermagkoor en Konsertgroep die Kanaries. Hulle tree ook op die Grens op, waar soldate die “kommuniste” vir volk en vaderland uithou.

Saam met sy koormaats soos Rambo, Craven-A en Kreef vind Johan kameraadskap, deursettingsvermoë, trots en liefde. Dis hier waar hy sy seksualiteit, geloof en die kerk begin bevraagteken en ’n middelvinger na al die boelies wys.

Is dit goed?

Dis een van die beste Afrikaanse flieks wat ’n verlore generasie weer ’n stem gee; dié keer in die vorm van ’n koor. Suid-Afrikaanse mans wat des­tyds diensplig moes doen, sal die kwessie van die verlies aan identiteit verstaan.

Die storie word in hoofstukke vertel.

In elkeen duik interessante karakters op, soos die flambojante Arlene (Anna-­Mart van der Merwe), wat Johan se passie vir modeontwerp deel. Gou-gou kry sy hom sover om “f** dit” te skree in die gesig van enigiets wat jou aan bande lê.

Die goeie balans tussen skerp humor en ernstiger oomblikke maak die kyk ’n aangename ervaring.

Die regisseur, Christiaan Olwagen, maak gebruik van nabye enkelskote van soldate, gewone mans en vroue en gesinne wat die Kanaries teëkom, amper soos “bewegende foto’s” wat sê dit was nie net “oorlog” nie.

Schalk se spel as Johan slaan die asem weg. Hy gooi homself pens en pootjies in die rol. So ook die kamp, flappende, dramatiese Ludolf (Germandt Geldenhuys).

Net soos die rolprent Inxeba/The Wound is Kanarie ’n prent wat moeilike gesprekke en temas aanraak waarby almal nie noodwendig aanklank sal vind nie.

Maar dis ’n nodige Afrikaanse fliek met ’n gay tema wat ongelukkig vir sommige mans en hul ouers ’n paar dekades te laat is.

– Pieter van Zyl


Wat wys nog?

The House With A Clock In It's Walls

Fantasie-avontuur.
Met Jack Black, Cate Blanchett en Kyle MacLachlan.
Regie: Eli Roth. ?
10-12 GrTG.

Dit is 1955 en die 10-jarige Lewis Barnavelt (Owen Vaccaro) het pas sy ouers in ’n motor­ongeluk verloor. Hy gaan woon by sy eksentrieke oom Jonathan (Jack Black) wat hy nooit tevore ontmoet het nie, in sy ou huis vol hor­losies.

Daar ontmoet hy Jonathan se buurvrou, die eienaardige Florence Zimmerman (Blanchett).

Benewens ’n tikgeluid wat skynbaar van die mure kom, gebeur vreemde dinge in die huis. Dit laat Lewis kopkrap tot Jonathan hom huiwerig inlig hy is ’n towenaar en Florence ’n heks.

Jonathan besluit om Lewis towerkuns te leer, maar dan spreek die seun ’n towerspreuk uit wat  sake ’n donkerder wending laat neem.

Die rolprent, gegrond op die gelyknamige boek van 1973 deur John Bellairs, is ’n bietjie somber vir jong kinders en sou waarskynlik vir voortieners en ouer meer geskik wees. Blanchett is haar gewone borrelende self en steel amper die kollig by Black, wat effens besadigder spel as sy gewone kaperjolle lewer.

Dit het al die regte elemente om dit baie vermaaklike kykstof vir oud en jonk te maak. As jy van Harry Potter en Goosebumps hou, moet jy dié een kyk.

– Lynn Ely