Halloween ****

Gruwel.
Met Jamie Lee Curtis, Judy Greer en Andi ?Matichak.
Regisseur: David Gordon Green.
18GRTG.

Waaroor gaan dit?

“Wat agter daardie seun se oë lê is suiwer boosheid,” het die psigiater in die heel eerste Halloween-fliek in 1978 gesê.

In die nuwe fliek is hy ’n middeljarige man en al 40 jaar lank opgesluit in ’n gestig vir reeksmoordenaars en ander skrikwekkende booswigte.

Maar Michael Myers hunker daarna om weer daardie grillerige wit masker op te sit en mense in repies te sny . . .

Sy suster, Laurie Strode (voortreflik gespeel deur Jamie Lee Curtis), het genoeg gehad daarvan om elke jaar met Halloween, 31 Oktober, in vrees vir haar broer te leef.

“Ek bid hy ontsnap sodat ek hom kan doodmaak,” vertel Laurie aan ’n priester.

Dié keer wag sy hom met ’n arsenaal vuur­wapens by haar huis in; en haar voorbereidings is nie om dowe neute nie.

Die owerheid verskuif Michael in ’n bussie na ’n nuwe plek van aanhouding, maar onderweg gebeur ’n ongeluk en hy ontsnap.

Dan hervat hy natuurlik sy moordtog op Haddonfield, Illinois.

Laurie gaan haar kans kry om hom te probeer doodmaak. Maar gaan sy dit regkry? En hoeveel ander mense sal eers moet sterf?

Is dit goed?

Deur die jare het talle “opvolgflieks” verskyn, waarvan ’n hele paar onkykbaar swak was.

Dié nuwe fliek neem ons terug na die vreesaanjaende stemming van die oor­spronklike fliek. Wanneer John Carpenter se tema­liedjie (dis die luitoon op sy selfoon) begin speel, gaan rillings teen jou ruggraat af.

Wie gaan nou vermoor word? Dis soos die trefferreeks Game of Thrones: Wees voor­bereid daarop dat jou gunstelingkarakter op ’n wrede manier geslag gaan word.

Die galgehumor tussen die skriktonele (die regisseur was ook vir die skreeusnaakse Pineapple Express van 2008 verantwoordelik) help darem die spanning verlig.

Word ’n 12de fliek beplan? Besluit maar self nadat jy die slottoneel gekyk het.

Wat wys nog?

SEARCHING

Riller-drama.
Met John Cho, Debra Messing en Joseph Lee.
Regisseur: Aneesh Chaganty.
13DTG.

Dis seker elke ouer se vrees en dilemma: Moet jy jou kind se privaatheid respekteer of mag jy hul intieme kuberwêreld betree wanneer probleme opduik? Dit is die vraag waarmee David Kim gekonfronteer word toe sy tienerdogter, Margot (Michelle La), vermis raak.

Uit vrees vir haar lewe besluit hy om by haar skootrekenaar in te breek op soek na leidrade wat hom kan help om haar op te spoor. In die proses span hy kragte saam met die speurder Rosemary Vick (Debra Messing van Will & Grace-faam).

Facebook, YouTube, Instagram . . . oral is nuwe digitale voetspore om te volg. Jou hart krimp saam met die pa s’n ineen wanneer hy hartseer ontdekkings maak oor ’n dogter wat hy gedink het hy ken.

Die vervaardiging van die rolprent is iets besonders: ­Alles gebeur op ’n rekenaar- of slimfoonskerm. Vir jou as kyker is dit asof jy die gebruiker van die betrokke sosiale media is.

Dis ’n ope vraag of dié formaat vir alle kykers sal werk. Vir sommige sal die klik van ’n muis en die getik op ’n toetsbord die spanning verhoog;  vir ander sal dit die fliek onnodig uitrek. Die kinkel kan jou steeds na jou asem laat snak.

Dis terloops ’n rolprent wat jy wettig mag aflaai om op jou rekenaar of selfoon te kyk.