Dis g'n maklike taak nie, erken die fliek se regisseur André Velts aan Huisgenoot. “Ons sal voor die tyd baie van die tonele moet beplan voor ons begin skiet,” vertel hy oor die 40 bladsye van die draaiboek wat hulle binne nege dae in Londen moet verfilm.

“Die voordeel is dat ons reeds ’n maand lank verfilm. Ek het ’n goeie verhouding met al die akteurs en hulle weet wat ons soek en benodig,” vertel hy.

Die grootste uitdagings gaan tyd wees en die tonele wat op openbare plekke geskiet moet word. Hiervoor het hulle vir drie permitte aansoek gedoen, maar hulle kan net permitte kry wat twee of drie uur lank geldig is anders raak dit geweldig duur, vertel André.

“Ons kan ’n permit kry waar vyf produksielede twee uur lank in die Londense Underground mag skiet, wat ons dan R20 000 uit die sak jaag,” sê hy.

“Sodra jy ’n produksie skiet en jy sit ’n kamera op ’n driepoot neer, moet jy £2 miljoen versekering hê. Dit pas gelukkig by my styl om baie van die tonele vryhand te skiet.”

Van die rolverdeling wat saam na Londen reis, sluit in Marguerite van Eeden (Mardaleen Derks), Sean-Marco Vorster (Hugo Derks) en Amalia Uys (Thea).

Vergeet My Nie
André tussen tonele. Foto: Papi Morake.

Die kleiner produksiespan bied ook ’n uitdaging, maar André sê hy is gereed om vir die eerste keer in sy loopbaan in Londen te verfilm.

“Ek ken redigering en die tegniese kant van flieks baie goed, so ek kan die res help om ligte op te stel en klank te doen. Jy moet ’n bietjie van ’n verkleurmannetjie wees om so iets aan te pak,” meen André.

Vergeet my nie
Marguerite van Eeden, André Velts en Fiona Ramsey op die stel van Huisgenoot se nuwe fliek, Vergeet My Nie. Foto: Papi Morake.

Hy het ook al agtergekom hoe meer ervaring jy in die bedryf het, hoe makliker raak dit om sulke stresvolle situasies te hanteer.

“Ek het ’n plan A, B en C, maar dit doen ek regtig net as ek nie plan A kan uitvoer nie, anders verloor jy ook moed in wat jou oorspronklike idee vir ’n toneel was,” sê André.

Hy het net voor hulle vertrek vir die eerste keer twee dae af gehad, maar kon nie werklik ontspan nie. “Ek hou daarvan om die fliek heeltyd in my kop te hê, want ek voel ek connect net soveel meer emosioneel met die projek. Maar in ’n ander realiteit, wens ek ek kon een dag ’n bietjie gholf gaan speel,” lag hy.